Nóg sewe topmatrieks by UP weggewys weens “swak akademiese prestasie”

AfriForum Jeug het Dinsdag die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, gevra om dringend in te gryp oor skynbare ongeregtighede by die Universiteit van Pretoria (UP).

Volgens AfriForum is nóg sewe topmatrieks, wat gesamentlik met sowat 50 onderskeidings tussen hulle spog, by dié universiteit se Fakulteit van Veeartsenykunde weggewys vir studie aanstaande jaar weens hulle “swak akademiese prestasie”. AfriForum Jeug het verlede week onthul hoe ʼn uitblinker met sewe onderskeidings, Kiara Haylock, weens dieselfde rede deur die universiteit weggewys is. Haylock het onder meer 92% vir Wiskunde en 86% vir Wetenskap gehad.
“AfriForum Jeug ontvang geweldig baie klagtes oor die onregverdigheid wat by die UP geskied omdat al die applikante nie aan dieselfde resies deelneem nie. Topstudente is besig om die land te verlaat omdat hulle nie die geleentheid gegun word om hulle roeping hier uit te leef nie. Studente wat eers in 1993 gebore is, word gevra om eenkant toe te staan, ongeag die bydrae wat hulle tot die land se vaardigheidskrisis wil maak,” het Oberholzer gesê.

Rozelle Zamudio is nog ʼn student wat weggewys is nadat sy onder die indruk verkeer het dat sy reeds by UP aanvaar is. Sy het ‘n gemiddeld van 91% vir Wiskunde en 90% vir Wetenskap behaal. Ook Marilie du Plessis is weggewys. Sy het agt onderskeidings verwerf en ‘n gemiddeld van byna 90% in matriek behaal. “Leerlinge besluit nou sélf om die stelsel aan te vat. UP blameer die demografiese teikens wat die departement van hoër onderwys stel, terwyl die minister die bal in die universiteit se hande teruggooi. Intussen word die vaardigheidskrisis geïgnoreer,” het Oberholzer gesê. Hy het die minister versoek om die tekort aan veeartse in Suid-Afrika te verlig deur toppresteerders die geleentheid te gun om nie op grond van ras met mekaar mee te ding nie. AfriForum Jeug het verlede week, ingevolge die Wet op Toegang tot Inligting, die UP versoek om die akademiese prestasies van suksesvolle applikante beskikbaar te stel om sodoende te bepaal of dié applikante wél beter presteer het as die leerlinge wat weggewys is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.