Nóg tolpaaie glo beplan

Argieffoto van die e-tolprojek in Gauteng

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het glo nóg tolpaaie by ‘n geslote vergadering voorgestel.

“Nazir Alli, hoof uitvoerende beampte van Sanral, het verlede week by ‘n strategiese beplanningsessie van die parlementêre portefeuljekomitee vir vervoer, nuwe tolpaaie bekendgemaak wat dié entiteit vir implementering oorweeg,” het Ian Ollis, LP vir die Demokratiese Alliansie (DA), Sondag gesê. “Die nuwe tolpaaie is bykomend tot die N1-N2 Wynlandtolpad in die Wes-Kaap, die N2 Wildekus-tolpad in die Oos-Kaap en die e-tolprojek in Gauteng.

Volgens Ollis is die voorgestelde paaie die N3 tussen Durban en Pietermaritzburg; die N12 tussen Kimberley en Johannesburg; N1-Ringpad by Musina; N1 tussen Kroonstad en Winburg en die N1-Botlokwa -wisselaar.

Ollis sê die komiteevergadering was vir die media gesluit.

“Ons het voor die vergadering nog niks hiervan gehoor nie, en dit is ‘n bekommernis,” het Ollis gesê. “Die tolpaaie gaan die armste Suid-Afrikaners die ergste tref. Dit gaan die koste vir sakehandel verhoog, voedselprysstygings tot gevolg hê en uiteindelik ekonomiese groei en werkskepping ondermyn.”

Ollis sê dit is noodsaaklik dat die impak van ‘n voorgestelde roete eers deur die publiek en plaaslike en provinsiale regering oorweeg moet word, voordat dit as ‘n tolpad verklaar word.

Sanral kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

Sanral het vroeër die maand aangekondig dat die e-tolprojek binne die volgende twee maande in Gauteng ‘n aanvangs sal neem, afhangend van die goedkeuring deur die Nasionale Raad van Provinsies. Die Pretoriase hooggeregshof het verlede jaar ‘n interdik aan die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) toegestaan wat ‘n volle geregtelike hersiening goedkeur voordat elektroniese tol implementeer kan word. Dié interdik het Sanral verhoed om e-tol in werking te laat tree voordat die uitspraak gelewer is. Sanral en die Nasionale Tesourie het teen dié hofbevel appelleer.

Die grondwetlike hof het in September die tussentydse bevel ter syde gestel. Die Pretoriase hooggeregshof het in Desember Outa se aansoek, om e-tol te skrap, van die hand gewys. Die hof het op 25 Januarie Outa toestemming gegee om die saak na die hoogste hof van appèl in Bloemfontein te neem. Dié sitting is vir September 2013 geskeduleer.

Sanral beplan ‘n konsessie in die Wes-Kaap gebaseer op ‘n bou-, bedryf- en oordragkostebasis om die N1-N2 Wynlandtolprojek te finansier en in stand te hou. Die stad Kaapstad het regstappe gedoen om dié projek te keer. Die Wes-Kaapse hooggeregshof sal op 16 Mei die stad se aansoek aanhoor om Sanral te verhoed om verdere stappe te doen om die projek in werking te laat tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Melissa ·

Dit is absoluut belaglik!! Hierdie kan net nie voort gaan nie!

SANETTE HENNING ·

GATVOL VIR NET GELD GELD WAT ONS MOET BETAAL OM PAAIE TE GEBRUIK GEE MNR ZUMA DIE AMPER 1MILJARD RAND WAT JY AAN ZIMBABWE WIL LEEN WAT ONS NOOIT WEER SAL SIEN NIE GEBRUIK DAAI GELD VIR PAAIE EN STEL OPGELEIDE MENSE AAN AS KONTRAKTE GEGEE WORD DAN SAL ONS PAAIE NIE ALMAL HOEF TOLPAAIE TE WORD NIE EN BEKAMP BEDROG VAN REGERING TOT KONTRAKTEURS JAN ALLEMAN OP STRAAT VOOS BETAAL AAN TAKS EN AL DIE ANDER GELDE WAT IN N NUTTELOSE PUT VERDWYN WENS EK KAN NET 15MIN N GESPREK MET MNR ZUMA HE DIT SAL SEKER NIE IETS VERANDER NIE MAAR DAREM KAN EK MY STEM LAAT HOOR

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.