Twee polisiebeamptes is vroeër vanoggend dood gevind in ‘n huis in Sebokeng, suid van Johannesburg.
Volgens ‘n polisiewoordvoerder kapt. Katlego Mogale het bure gisteraand ‘n lawaai gehoor en toe hulle die volgende oggend ondersoek instel het hulle gesien dat die twee konstabels doodgeskiet is. Mogale sê die man en sy vrou was by die Vereniging-polisiestasie gebaseer. Hy sê ‘n dienspistool is op die toneel gevind maar wou nie bespiegel of dit dalk ‘n moord en selfmoord was nie. In die afgelope tien dae is vier polisiebeamptes aan diens vermoor. Ao Leon Nieuwoudt is verlede week doodgeskiet nadat hy twee vermeende veediewe in hegtenis geneem het. Sondag is twee lede van die polisie se blitspatrollie doodgeskiet nadat hulle ‘n motor van die pad afgetrek het en die insittendes op hulle losgebrand het. Woensdagoggend is nog ‘n polisiebeampte doodgeskiet nadat hy en ‘n kollega ‘n gebied gepatroleer het.