Nog twee renosters vir horings gestroop, moratorium oorweeg

Foto: www.rhinoconservation.org

Die polisie in Limpopo is op soek na wildstropers wat twee renosters geskiet het en hulle horings verwyder het.

ʼn Polisiewoordvoerder, lt. kol Ronel Otto, sê een van die renosters was dragtig en dat haar karkas Sondagmiddag gevind is. Die renosters is reeds glo sowat 10 dae dood en is vermoedelik verskeie kere met ʼn R4-geweer geskiet. Nog ʼn renoster se karkas is Maandagmiddag op ʼn privaat wildreservaat naby Hoedspruit gevind. Die renoster is na bewering Sondag doodgemaak. Niemand is nog in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie. Verlede week is twee renosters geskiet en hulle horings verwyder op ʼn plaas buite Mokopane. Nagenoeg 280 renosters is reeds vanjaar vir hulle horings doodgemaak. Die minister van omgewingsake en waterwese, Edna Molewa, het intussen aangekondig dat die regering ʼn moratorium op die jag van renosters oorweeg. Molewa sê sy is van plan om binnekort met al die provinsiale LUR’e oor die saak te vergader en die wettige prosesse van raadpleging te volg voordat enige amptelike besluite geneem word. Nagenoeg 155 vermeende wildstropers is reeds vanjaar in hegtenis geneem waarvan 65 in die Kruger Wildtuin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.