Nominasies vir “grootste” liedjie sluit hierdie naweek

Meer as 6 000 nominasies is reeds ontvang in Maroela Media se soeke na die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye.

Die veldtog het op Saterdag, 27 Julie om 21:00 met ʼn amptelike bekendstelling op die kykNET-musiekprogram Jukebox afgeskop. Die publiek word aanvanklik genooi om hul gunstelingliedjies te nomineer, en daarna kan hulle in verskeie uitdunrondtes vir hul gunstelingliedjie stem, tot daar net een liedjie oorbly wat met die titel sal wegstap.

“Hoe meer ‘n liedjie genomineer word, hoe groter is daardie liedjie se kans om op die kortlys te beland,” het Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media, gesê. “Ons het verlede jaar tydens die soeke na die Grootste Afrikaner van Alle Tye beleef dat die publiek tydens die uitdunrondtes teleurgesteld was om te sien dat hul gunstelingkandidate nie op die kortlys verskyn het nie. Indien die publiek egter tydens die nominasiefase ‘n liedjie nie genoeg nomineer nie, kan daardie liedjie nie op die kortlys beland nie.”

Volgens Lombaard is dit duidelik dat die publiek hul langspeelplate afgestof het en ou bekende liedjies is ook genomineer.

Om ‘n liedjie te nomineer, stuur ‘n SMS met die woord “Virseker” en jou liedjie se titel na 48052 (SMS kos R1.50), of jy kan www.grootsteliedjie.co.za besoek om jou nominasies in te dien.

Een gelukkige deelnemer sal ʼn bootreis vir twee op die MSC Opera saam met die span van kykNET Jukebox en verskeie bekende Afrikaanse kunstenaars wen. Talle ander pryse, soos ATKV-vakansies, iPods, FAK-sangbundels, wyn, CD’s, boeke en geskenkpakke kan ook gewen word.

kykNET en Virseker is die hoofborge van die veldtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.