Twee beamptes van die Tshwane-nooddienste in Pretoria is in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn sekswerker verkrag het.
Pretoria News het Woensdag berig die slagoffer het glo geryloop na Mamelodi toe die beamptes aangebied het om haar in hul amptelike voertuig ʼn rygeleentheid te gee.
Die beamptes het glo onderweg na Mamelodi die voertuig gestop en op seks aangedring, en haar met die dood gedreig. Hulle het haar na bewering al om die beurt verkrag, waarna hulle haar in ʼn veld gelos en met hul voertuig weggejaag het. Veiligheidswagte wat naby die toneel was, het die polisie ontbied. ʼn Klagte van verkragting is Sondag by die Silverton-polisie aanhangig gemaak.
Johan Pieterse, die Tshwane-nooddienste se woordvoerder, het aan Pretoria News gesê die twee beamptes is geskors terwyl ʼn interne ondersoek gedoen word.
Die twee beamptes, onderskeidelik 33 en 34 jaar oud, het Dinsdag in die Pretoriase landdroshof verskyn. Die saak is van die rol geskrap om verder ondersoek te word.
– Sapa