Noord-Korea sing nuwe deuntjie

Kim N

Kim N

Noord-Korea het ‘n skynbaar baie versoenende brief aan Suid-Korea gerig wat baie verskil van die oorlogspraatjies wat die Noord-Koreaanse bewind tradisioneel kenmerk. Verskeie sensitiewe kwessies word in die brief aangespreek, aldus die Noord-Koreaanse persburo.

In die brief spreek die Noord-Koreaanse Verdedigingskommissie – die hoogste gesagsliggaam in die land – die wens uit dat ‘n “sfeer van versoening en eenheid” geskep kan word. Die onderneming word gegee aan die volkome opheffing van vyandige militêre handelinge, om te werk aan die hereniging van families wat van mekaar geskei is, en om met nuwe energie te werk aan die wisselwerking tussen Noord- en Suid-Korea.

Dit is in skrille kontras met die onlangse dreigemente en selfs verklaring dat die skietstilstand wat in 1953 tussen die twee lande tot stand gekom het, ongeldig is.

Suid-Korea het die inhoud van die brief as een met ‘n “verskuilde agenda” afgemaak. Suid-Korea meen die spanning tussen die twee lande word deur Noord-Korea veroorsaak, en moet daarom van sy dreigende houding afsien.

Die brief kom kort voor Suid-Korea en die VSA gesamentlike militêre oefeninge hou – iets wat in die verlede tot ‘n toename in spanning tussen die twee Koreas gelei het, en in die verlede besonder skerp reaksie van Noord-Korea ontlok het wat gedreig het om Suid-Korea, die VSA en Japan met kernbomme te bestook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.