Noord-Korea stel diktator se mentor tereg

Kim N

Kim N

Noord-Korea het bekend gemaak dat die leier Kim Jong-un se oom, Jang song-thaek, pas tereg gestel is.

Jang was die magtigste man in Noord-Korea ná die afsterwe van Kim se pa, en voordat die jong Kim die leisels oorgeneem het.

Hy is as hervormer beskou, en sy verval in onguns en teregstelling word beskou as aanduiding dat Noord-Korea ‘n groter destabiliserende uitwerking op die streek kan hê. Kim het onder meer al gedreig om die VSA met kernbomme aan te val.

Die skrif was reeds vir Jang aan die muur toe die Suid-Koreaanse media onlangs berig het dat twee van Jang se vertrouelinge gearresteer en tereggestel is.

Waarnemers meen die bloedige huisskoonmaak dui daarop dat Kim algaande meer selfvertroue kry dat hy sy greep op die land genoegsaam verstewig.

Noord-Korea het met Jang se arrestasie gemeld dat hy misdade “te erg om te noem” gepleeg het. Na sy teregstelling is hy van korrupsie, dobbel en flankeerdery met vroue beskuldig.

‘n Voormalige metgesel van Kim is onlangs ook tereggestel. Sy was ‘n uitvoerende kunstenares en is van “pornografiese optredes” beskuldig. Die Weste meen dit verwys moontlik na haar optrede in ‘n verhoogstuk waar tradisionele Koreaanse danse opgevoer is. Almal was van kop tot tone geklee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.