Noord-Koreaanse kernontploffing veroorsaak sterk aardbewing

Kim N

‘n Noord-Koreaanse ondergrondse kerntoets uit weerwraak teen verskerpte internasionale sanksies het ‘n aardbewing van 5.1 op die momentmagnitudeskaal laat registreer.

Die VN se Veiligheidsraad hou vanmiddag ‘n noodsitting om die kerntoets te bespreek.

Volgens die Amerikaanse geologiese agentskap, USGS, wat aardbewings wêreldwyd meet, was die ontploffing sowat ‘n kilometer ondergronds. Noord-Korea het ook al tevore in hierdie gebied twee ondergrondse kerntoetse uitgevoer. Dit is nie ver van die Chinese suidoosgrens nie.

Aardbewings wat deur kernontploffings veroorsaak word, verskil van natuurlike aardbewings en dit is dus feitlik onmoontlik om sulke toetse in die geheim te doen.

China, wat self gereeld onder aardbewings deurloop, het pas self drie natuurlike aardbewings beleef, waarvan die sterkste M5.3 gemeet het. Al die aardbewings was egter aan die westekant van die land, en een naby die grens met Indië wat self ‘n “tweelingaardbewing” aan sy kant van die grens beleef het.

Die Noord-Koreaanse aardbewing is naby die plek waar twee groot aardkorsfoute in Japan bymekaar kom. Hoewel Japan in daardie omgewing die afgelope week verskeie redelike sterk aardbewings beleef het, was hulle almal voor die Noord-Koraanse kerntoets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.