NSRI red drie Otter-stappers

Bloukransrivier Foto: SANParke

Drie stappers op die Otter-staproete is gered nadat hulle Donderdagoggend by Bloukransriviermond in die see beland het.

“Bemanning van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se tak in Plettenbergbaai is ontbied nadat drie persone by die Bloukransriviermond in die see meegesleur is,” het Deon Truter, stasiebevelvoerder van NSRI Plettenbergbaai, gesê.

“Agt stappers van Soutrivier, drie mans en vyf vroue, het die Otter-staproete gedoen en probeer om die Bloukransrivier oor te steek. Twee mans en drie vroue het reeds die rivier oorgesteek, maar ʼn sterk seestroom het drie van die stappers meegesleur,” het Truter verduidelik. Die seereddingspan het met die reddingsvaartuig, LEONARD SMIT, in die rowwe seetoestande ingevaar. “Die golwe was tussen 4m en 5m hoog.”

“Die NSRI het bevestig die vyf persone is veilig aan die oorkant van die rivier. Die drie persone wat in die see in getrek is, het gelukkig rotse bereik en kon op die rotse klouter. Ons reddingsboot kon hulle egter weens die rowwe seetoestande nie bereik nie,” het Truter gesê. “Die Wes-Kaapse departement van gesondheid se noodreddingshelikopter, Skymed 2, is toe ontbied.”

“Robert Gibson, een van NSRI se reddingswemmers, is met Skymed 2 na die toneel geneem en hy is met ʼn tou van die helikopter na die drie persone laat sak. Gibson kon al drie persone na veiligheid bring,” het Truter bygevoeg.

Die man en twee vroue is met hul vriende herenig. Niemand is beseer nie.

Die drie persone se rugsakke het egter in die see vermis geraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.