NUM-man toe nie dood nie

ʼn Lid van die National Union of Mineworkers (NUM) wat Sondag op pad na ʼn NUM-byeenkoms aangeval is, sterk in die hospitaal aan nadat NUM Maandagoggend berig het hy is dood.

Lesiba Seshoka, woordvoerder van NUM het Maandagoggend gesê die man is oorlede, maar voer aan hy het verkeerde inligting ontvang. “Plaaslike vakbondleiers in Rustenburg het my in kennis gestel dat die man Sondag in die hospitaal oorlede is,” het Seshoka gesê. “Mxashi Sethethi het my in die middel van die nag gebel om my van sy afsterwe in kennis te stel.”

Die man, wat sy NUM-T-hemp aangehad het, is glo geslaan en met ʼn skerp voorwerp in die nek gesteek. Hy wou ʼn byeenkoms by die Wonderkop-stadion in Nkaneng bywoon.

Sethethi het gesê hy het nie met die media gepraat oor wat gebeur het nie en kan dus nie verantwoordelik gehou word vir die beriggewing nie. “Ek weet nie waar die gerug dat hy dood is vandaan kom nie. Die man lewe.”

NUM probeer tans nuwe lede werf nadat hy sy meerderheidsvakbond-status aan die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) by Lonmin se Marikana-myn afgestaan het.

Vier-en-veertig mense is in Augustus 2012 dood tydens ʼn gewelddadige staking by Lonmin. Die polisie het op 16 Augustus glo 34 stakers doodgeskiet. Tien mense, insluitend twee polisiebeamptes en twee sekuriteitswagte is die vorige week oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.