NUM ontken Eskom-ooreenkoms

Die National Union of Mineworkers (NUM) het Vrydag ontken dat hy ʼn loonooreenkoms met Eskom aangegaan het nadat sy sustersvakbond, Numsa, aangevoer het dat die ooreenkoms onderteken is.

“Ons verwerp dié leuens wat gister [Donderdag] tydens ʼn vergadering deur Numsa-verteenwoordigers versprei is,” het die vakbond in ʼn verklaring gesê. Numsa het aangevoer dat NUM ʼn loonooreenkoms van 5.6% met Eskom bereik het.

Eskom het die NUM-loondispuut na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys.

“NUM het al tydens ʼn hele paar geleenthede sy ontevredenheid met Eskom se benadering oor arbeidsverhoudinge, sowel as die voorstel vir ʼn vyfjaar-ooreenkoms, uitgespreek,” het NUM gesê.

Cedric Gina, president van die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) het gesê hy was nie deel van die vakbondverteenwoordigers se vergadering nie. “Wat NUM gedoen het deur ʼn verklaring uit te reik is teenstrydig met Cosatu se beginsels,” het Gina gesê. “Indien die vakbondverteenwoordigers dié uitlating gemaak het, moes NUM se bestuur die leierskap van Numsa genader het en dit op só manier probeer uitklaar het, en nie deur die media nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.