Numsa se vraag oor Zuma-bedanking is “gepas”

Pres. Jacob Zuma

Pres. Jacob Zuma

Numsa het Donderdag gesê dit was gepas om die vraag te vra of pres. Jacob Zuma moet bedank indien die Nkandla-verslag aandui dat belastingbetalers se geld onbehoorlik gebruik is.

Andrew Chirwa, president van die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) het vroeër vandeesweek afgevaardigdes by die vakbond se spesiale nasionale kongres gevra om ʼn debat te voer of Zuma moet bedank indien die Openbare Beskermer se finale verslag oor opgraderings by Nkandla in KwaZulu-Natal bevind dat Zuma ʼn oortreding begaan het.

“Dit was ʼn vraag wat hy voorgestel het vir bespreking tydens die spesiale nasionale kongres,” het Irvin Jim, uitvoerende hoof van Numsa, aan verslaggewers in Boksburg aan die Oos-Rand van Gauteng, gesê. “As nasionale ampsdraers voel ons dat die vraag akkuraat en gepas is.”

Jim sê afgevaardigdes by die kongres het die kwessie in kommissies bespreek en sal in die vergadering hul antwoord op Chirwa se vraag lewer.

Jim het Woensdag gesê indien die uitgelekte verslag waar is, dan moet die departement van openbare werke en Zuma aanspreeklik gehou word. “Daar is geen regverdiging om R200 miljoen op die huis van die president te spandeer nie,” het hy aan die afgevaardigdes gesê.

Die afgevaardigdes bespreek ook onder andere of die vakbond die ANC in volgende jaar se algemene verkiesing gaan ondersteun en of die vakbond ʼn lid van die vakbondfederasie Cosatu moet bly.

Numsa se leierskap het die afgelope twee dae die ANC en sy alliansie-vennoot, die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP) gekritiseer en hulle beskuldig dat hulle die werkersklas ignoreer.

Intussen het Sidumo Dlamini, president van Cosatu, gesê Numsa se versoek om aanspreeklikheid is voortydig. “Dit is nie verkeerd nie, maar dit is voortydig,” het hy Donderdag aan verslaggewers in Johannesburg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eben ·

Irvin Jim mooi man …. met daardie houding sluit ek sommer by Numsa aan! Help ons om van zumie ontslae te raak …. en zumaville wat gaan daar gebeur as hy nie meer prez van Suid-Aapland is? Dis mos met ONS geld gebou ….. of gaan ons dit help aan die brand steek, glo nie die swembad sal genoeg water inhe :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.