Nuus in konteks: Die rand is nie die probleem nie

Daar word berig dat die ANC nou met die gedagte van ʼn superbelasting op mynbou speel. Hierdie idee is kontroversieel en kommerwekkend op sigself – ʼn soortgelyke idee het bygedra tot die val van ʼn Eerste Minister in Australië – maar dit wat die ANC beoog om met die ekstra belastinggeld te doen, verdien ook verdere ontleding.

Daar word voorgestel dat die geld in ʼn fonds gestort moet word wat ingespan sal word om die waarde van die rand kunsmatig te laat daal wanneer die regering voel dat die geldeenheid te sterk is. Wanneer buitelanders in Suid-Afrikaanse bates (wat aandele insluit) belê, beteken dit dat die vraag na die rand styg, en dus styg die waarde van die rand. Die manier waarop die staat dit kan teenwerk, is deur die aanbod van rande vinniger uit te brei as wat die vraag styg. Dit verg egter baie diep geldsakke om enige hoop van sukses te hê, en die gevaar bestaan ook dat spekulante die kans sal aangryp om ʼn vinnige profyt te maak in ʼn tipe “chicken”-speletjie met die staat.

Boonop bestaan daar ook geen sterk bewys daarvoor dat selfs indien die wisselkoers suksesvol en volhoubaar beheer kon word, dit noodwendig op ʼn netto basis positief sal wees vir die ekonomie of selfs vir spesifieke ekonomiese akteurs nie. In die eerste plek kon die geld waarmee die wisselkoers beheer word, vir ʼn ander, beter doel aangewend gewees het. Tweedens kan ʼn eenvoudige voorbeeld toon waarom die netto impak moeilik is om te voorspel: Gestel ʼn maatskappy vervaardig produkte beide vir die Suid-Afrikaanse mark en vir die uitvoermark. As die waarde van die rand daal, sal die maatskappy dit waarskynlik makliker vind om produkte uit te voer, maar wat gebeur terselfdertyd met sy binnelandse mark? Die binnelandse kliënte het minder geld om op die maatskappy se produkte te spandeer, want hulle moet weens die swakker rand meer opdok vir dinge soos petrol, gevorderde elektroniese toerusting, klere en sekere kossoorte.

Selfs al is dit ʼn maatskappy wat slegs vir die uitvoermark produseer, is die netto effek moeilik om te voorspel, aangesien die maatskappy heelwaarskynlik sy kapitaalgoedere soos masjinerie en elektroniese toerusting invoer. ʼn Maatskappy wat wil uitbrei, kry dus minder kapitaalgoedere vir elke rand se belegging wanneer die rand swak is. Dink net watter nadelige invloed ʼn swak rand op ʼn maatskappy het wat intermediêre goedere invoer en dit in Suid-Afrika verder verwerk vir die plaaslike mark, soos wat met heelwat Suid-Afrikaanse klerefabrieke die geval is. So ʼn maatskappy word dubbeld benadeel, eers op sy kapitale belegging en dan ook op sy insetgoedere.

Die vraagstuk van vraag

Baie prakties is daar ook ʼn baie belangrike aspek wat uitvoere beïnvloed wat gemis word indien daar slegs op wisselkoerse gefokus word. Dit is die vraag na ʼn produk.

In die afgelope jare het enige beduidende verswakking in die rand saamgeval met ʼn daling in die algemene vraagvlak in Amerika en Europa. Dieselfde faktor was telkens vir beide verantwoordelik: vrese van ekonomiese probleme in die Weste. Dit lei daartoe dat beleggingsbestuurders fondse onttrek uit ontluikende markte soos Suid-Afrika, wat die rand laat verswak. Dit gaan egter ook gepaard met ʼn daling in vraag na goedere in die Weste, soos verbruikers duursame aankope uitstel en hul verbruik van veral luukshede afskaal. Ten spyte daarvan dat Suid-Afrikaanse uitvoerders a.g.v. ʼn swak rand ʼn hoër randprys per eenheid in die buiteland kan kry, maak hulle nie noodwendig meer wins as voorheen nie, aangesien die eenhede wat hulle in die buiteland kan verkoop ook daal.

Dit is moeilik om ʼn definitiewe antwoord uit die beskikbare data te kry, maar daar is sterk aanduidings dat die vraagdimensie ʼn baie groter invloed op Suid-Afrikaanse vervaardigers het as wat die vlak van die wisselkoers in enige spesifieke stadium het.

Wanvoorstellings oor die “sterk rand”

In verslaggewing oor die wisselkoers kom daar dikwels verdere wanvoorstellings oor die “sterk rand” voor. Daar word die afgelope jaar of wat gedurig berig oor hoe die waarde van die rand teenoor die dollar sedert een of ander datum naby die jaarwisseling van 2008 na 2009 met ʼn geweldige persentasie versterk het. Deur spesifiek ʼn datum aan die einde van 2008 of die begin van 2009 – ʼn tydperk toe die rand se waarde buitengewoon laag was – te kies, kan enige matige versterking in die rand as ʼn massiewe verandering voorgehou word. Die gemiddelde vlak van die rand teen die dollar in die laaste drie maande van 2008, asook in die eerste drie maande van 2009 was R9,96 gewees. Indien mens die huidige vlak van ongeveer R7,56 daarmee vergelyk, het die rand sowat 24% versterk oor die afgelope drie jaar. Dit is ʼn beduidende persentasie.

Die tydperk van einde-2008 tot begin-2009 was egter ʼn buitengewoon stormagtige tydperk in die Suid-Afrikaanse en wêreldekonomie. Dit was ook die tydperk waarin van die grootste werksverliese in die Suid-Afrikaanse vervaardigingsektor plaasgevind het – die swak rand ten spyt. Vergelyk ʼn mens ʼn meer stabiele tydperk se wisselkoers met die huidige vlak, kry die situasie ʼn ander kleur. Byvoorbeeld, van Julie tot September 2008 was die rand/dollar-wisselkoers gemiddeld sowat R7,83 gewees. Vergeleke hiermee het die rand oor die afgelope drie jaar met slegs 3,4% versterk.

Van begin-2003 tot September 2008 was die rand/dollar-wisselkoers gemiddeld R6,97, wat die huidige wisselkoers sowat 8,5% swakker as daardie langtermyngemiddeld maak.

Die rand is nie die probleem in Suid-Afrika nie, dit is slegs ʼn sondebok wat nie blêr as die skuld vir swak ekonomiese prestasie op hom, eerder as institusionele, administratiewe, infrastrukturele en opvoedkundige tekortkominge, gepak word nie.

Wisselkoers vanaf 1999 tot 2012

Paul Joubert

Meer oor die skrywer: Paul Joubert

Paul is 'n senior-navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Percy ·

We contend that for a nation to try to tax itself into prosperity is like a man standing in a bucket and trying to lift himself up by the handle.”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.