Nuus24 sluit sy deure

Naspers se aanlyn-nuusverskaffer, 24.com, het besluit om sy Afrikaanse weergawe, Nuus24, te ontbind.

“Alhoewel Nuus24 uitstekende betrokkenheid vir sy gehoor en adverteerders verskaf het, glo die span dat hulle nie die operasie op dieselfde vlak as News24 kan bedryf nie,” het die groep Dinsdag in ‘n verklaring gesê, berig mybroadband.co.za. Nuus24 is die gasheer vir Afrikaanse koerante soos Beeld, Die Burger en Volksblad.

“Alhoewel ons steeds glo dat die Afrikaanssprekende verbruiker toegang moet hê tot die jongste nuus, sal dié dienste deur die digitale arms van die drie koerante gebied word,” het Jannie Momberg, redakteur van News24 en Nuus24, gesê.

Nuus24 sal van 1 Julie af nie meer beskikbaar wees nie.

Beeld, Volksblad en Die Burger het in April besluit om ‘n betaalmuurstelsel op hul webwerwe in werking te stel. Al drie koerante hef tans ‘n fooi vir hul inhoud.

Bron: mybroadband.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

P. Buizer ·

Vandat die besluit om R99.– p/m te vra om ‘Beeld’ op die Internet te lees, (wat ek nie kan bekostig nie) van krag geword het, is ek baie dankbaar dat ek ‘Maroela Media’ ontdek het, wat baie goeie nuusdekking gee.

Mike ·

Lees ook Die Vryburger op die internet baie goeie goed gebalanseerde nuus oor alles en nog wat.

Chris Potgieter ·

Eintlik is dit baie goeie nuus. Uiteindelik gaan Naspers sy bose houvas en breinspoeling van Afrikaners verloor. Niemand van ons wil betaal vir hulle nuus nie en nou kry ons ‘n meer gebalanseerde perspektief op ander webblaaie. Uiteindelik breek die einde van “Afrikaner bashing” aan!

H J Bester ·

Chris, jou kommentaar is ongevraagd want jy spreek hoogs waarskynlik namens ‘n klein groepie weerbarstiges wat in elk geval nie in staat is om ‘n alternatief aan te bied nie. Julle grootste spandering aan tyd en energie is om kritiek te lewer onder die vaandel dat julle die enigste draers is van die Afrikaanse taal en kultuur. Julle vergeet egter dat julle in ‘n veranderde wêreld leef en aanpasbaar moet wees.

Chris Potgieter ·

Natuurlik gaan ek jou nie toestemming vra of ek my mening mag lug nie. My mening is dus altyd ongevraagd! En jy is baie welkom om saam met die wereld te verander totdat jy nie meer jy is nie, wie jy ookal mag wees.

johan slabbert ·

teleurgesteld! kon u nie aan maniere dink om die kanaal vir Afrikaanse lesers aan die gang te hou nie? so gou handdoek ingooi? hoekom nie ook n betaalmuur nie? SABC is juis so Engels!! uitdaging: probeer weer asb!!

H J Bester ·

Sou nie omgee om te betaal vir die Nuus24-diens nie. Heroorweeg asb die besluit Jannie Momberg want die besluit was dalk te vinnig en sonder om die lesers te raadpleeg. Nuus24 sal dalk verbaas wees indien hulle sou vasstel hoeveel lesers bereid is om te betaal.

johan slabbert ·

dink nuut! kompetisie is gesond! bring terug kommentaar op berigte! maak die betaal muur bekostigbaar asb

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.