Nuuskommentaar: Aangrypende verhale ontvou by AfriForum-funksie in Bloem

‘n Verhaal van moord, wrede aanrandings en ontbering – en om dan uiteindelik in elk geval met die klere aan die lyf te kan ontvlug, het hom in Bloemfontein ontvou waar die skrywer van Mugabe and the White African, Ben Freeth ‘n geleentheid wat deur AfriForum gereël is, toegespreek het.

Verskeie van die groot groep mense wat die vergadering bygewoon het was erg emosioneel.

Die geleentheid was op die vooraand van die appèlsaak van die Zimbabwiese regering teen die Hooggeregsuitspraak waarvolgens op eiendom van die Zimbabwiese regering beslag gelê kan word om wit boere wat sonder vergoeding van hul plase ontneem is mee te kompenseer.

Freeth is die skoonseun van Mike Campbell, die boer wat die Zimbabwiese regering voor die SAOG-tribunaal in Windhoek gedaag het, en gewen het. Hulle is nietemin hul grond sonder kompensasie kwyt en die Zimbabwiese regering het nie uitvoering aan die tribunaal se uitspraak gegee nie.

Met AfriForum se hulp is hierna ‘n hofbevel bekom om op nie-diplomatieke eiendom van die Zimbabwiese regering in Suid-Afrika beslag te lê, en dis teen dié uitspraak wat Zimbabwe appèl aanteken.

Kort voor die vergadering het AfriForum verneem dat die SAOG-hoofde besluit het om die bevoegdhede van die tribunaal tot tussenstaatlike kwessies te beperk, en sal sake soos dié van Campbell nie meer aangehoor kan word nie.

AfriForum het ook by die geleentheid die sluier gelig hoor sy planne om

as deel van sy program om burgerregte en regsoewereiniteit te beskerm, ’n aksieplan van stapel te stuur hierdie kommerwekkende verwikkeling teen te werk.

Die vyfpunt-aksieplan behels ’n veldtog wat op verskeie terreine verder gevoer word en behels:

  • Uitvoering van SAOG-beslissings in Suid-Afrika;
  • ’n Beroep op die Afrika-kommissie en Afrika-hof om teen SAOG-leiers op te tree;
  • Volgehoue druk op die Suid-Afrikaanse regering om sy burgers in buurlande soos Zimbabwe te beskerm;
  • Klagtes by regulerende owerhede teen maatskappye wat menseregtevergrype finansier; en
  • Regsaksie by die International Criminal Court.

“Die stryd om menswaardigheid en regverdigheid is ’n lang uitgerekte stryd. AfriForum sal die stryd voortsit totdat hy slaag,” sê mnr. Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum.

AfriForum het Freeth en Luke Tembani bygestaan met ’n proses om die staatshoofde van al die SAOG-lidlande by die Afrika-kommissie te verkla, omdat hulle met die opskorting van die bedrywighede van die SAOG-tribunaal en nou met die inperking van die tribunaal se magte, burgers van SAOG-lande se regte kragtens die Afrika Handves van Menseregte ondermyn het.

Prosesstukke van meer as 300 bladsye per stel in hierdie klagte is in Engels, Frans en Portugees op die staatshoofde van 14 SAOG-lidlande beteken.

Die Afrikakommissie van Mense en Volksregte sal tydens sy 52ste sitting gedurende 9 tot 22 Oktober 2012 die toelaatbaarheid van die klagte oorweeg. Indien suksesvol, sal die besluit van SAOG-leiers om die tribunaal op te skort, deur die Afrika-hof vir Menseregte getoets kan word.

AfriForum wend hom ook tot burgerlike optrede. In September 2009 het AfriForum ’n suksesvolle veldtog teen die Switserse suiwelmaatskappy, Nestlé, gevoer nadat dit aan die lig gekom het dat Nestlé melk aankoop van ’n plaas wat deur Robert Mugabe se vrou, Grace Mugabe, van ’n wit kommersiële boer geneem is.

Na ’n uiters suksesvolle drie dae van internasionale veldtogvoering op sosiale media, het Nestlé besluit om sy aankope van “bloedmelk” te staak.

AfriForum se ondersoekeenheid ondersoek nou bewerings van soortgelyke betrokkenheid van internasionale finansiële instellings en kommoditeitsmaatskappye by korrupte bedrywighede in Zimbabwe en besonderhede van aksies wat beplan word, sal binnekort bekend gemaak word.

Wat AfriForum se optrede by geregulerende owerhede betref, het dit onlangs bekend geword dat Robert Mugabe se ZANU-PF in 2008 ‘n omstrede lening van $100 miljoen (ongeveer R800 miljoen) van ‘n groot Amerikaanse institusionele belegger, wat bande met Tokyo Sexwale, Suid-Afrika se minister van behuising, ontvang het.

Die lening het gehelp om Zanu-PF se veldtog van brutale onderdrukking in die bloedige 2008-verkiesing te finansier en is moontlik gemaak deur die New York-gebaseerde Ag-Ziff Capital Management Group (“Ag-Ziff”).

Ag-Ziff is op die New Yorkse aandelebeurs genoteer en staan onder die streng reëls van die Amerikaanse Securities Exchange Commission (“SEC”).

AfriForum ondersoek tans maniere waarop die omstrede lening onder die aandag van die SEC gebring kan word ten einde vas te stel of Ag-Ziff hom enigsins gesteur het aan die New Yorkse beursreëls.

Verdere besonderhede hieromtrent word eersdaags bekend gemaak.

AfriForum oorweeg ook optrede wat klagtes by die Internasionale Srfhof tot gevolg kan hê. Aanduidings is dat Zimbabwiese politici, wat voordeel getrek het uit die grondgrypprogram, hulle skuldig gemaak het aan ’n reeks vergrype wat in die Statuut van Rome, waartoe Suid-Afrika ’n party is, verbied word. Aangesien Suid-Afrika ’n party tot die Statuut van Rome is, moet die nasionale vervolgingsgesag klagtes van misdade teen die mensdom wat in die statuut verbied word, ondersoek.

Die nasionale vervolgingsgesag is onlangs deur die Noord-Gautengse Hooggeregshof verplig om klagtes wat deur die SA Litigation Centre teen Zimbabwe voorberei is, te ondersoek.

AfriForum ondersoek nou soortgelyke aksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.