Nuuskommentaar: AfriForum en die veldtog teen plaasmoorde

Stop die moorde – een dosyn projekte teen plaasmoorde.

So lui die opskrif van wat waarskynlik die mees omvattende projek teen plaasmoorde is, en dié week deur AfriForum bekendgestel is.  Inligting oor die projek kan hier gelees word.

Onder die belangrike aksies wat beoog word is ‘n veldtog om meningsvormers hier en oorsee behoorlik oor die probleem in te lig en om op verskeie maniere druk op die regering te plaas om dit as prioriteitsmisdaad te verklaar. Dit vereis egter ook deeglike deelname deur die publiek om suksesvol te kan wees.

Daar is onsekerheid oor die presiese moordkoers onder Suid-Afrikaanse boere, en gevolglik wissel die syfers uitgedruk in terme van elke 100 000 van die sektor baie. Die syfer wat AfriForum nou gebruik tel onder die mees konserwatiewe beramings van net minder as 100 per 100 000 per jaar. Dat dit in die praktyk minder klink is maklik verklaarbaar – daar is lank nie meer 100 000 kommersiële boere en hul gesinslede op plase nie.

Suid-Afrika se syfer vir die totale bevolking is bykans 32 per 100 000 per jaar, en die wêreldgemiddeld, 5 per 100 000. Selfs al sou Afriforum se syfer gehalveer word, is dit nog buitengewoon hoog.

AfriForum se syfer plaas die landbou in Suid-Afrika in dieselfde orde van die hoogste moordkoerse ter wêreld vir identifiseerbare groepe. Dit is waar daar maatskaplike ineenstorting onder groot segmente van bevolkings plaasgevind het, en dwelmbendes ‘n skrikbewind in die gemeenskappe voer. Die meeste slagoffers is dikwels lede van mededingende bendes.

Syfers is egter nie al wat die belewenis van plaasmoorde besonder traumaties maak nie, in der mate dat sielkundiges en sosioloë dikwels na die trauma as viktimonolgie verwys.

Suid-Afrika se boeregemeenskap kan op geen manier met maatskaplike bendegeweld vergelyk word nie. Hoewel daar vrot appels is, is dit ‘n gemeenskap wat dikwels die ruggraat op veral die platteland vorm en met sterk kerkbywoning dikwels ook die plattelandse gemeentes finansieel dra.

Dit is mense wat dikwels afgesonder woon, en dan deur swaar gewapende misdadigers aangeval word. Die mees afgryslike verhale van marteling soos die afskil van ‘n ou man se voetsole mak deel hiervan uit.

Nie alle plaasaanvalle loop op moord uit nie. Sommiges beskou vee- en gewasdiefstal, weidingdiefstal en brandstigting ook as deel van plaasaanvalle, maar gewoonlik ord dit met gewapende rooftogte op die opstalle in verband gebring. Plaasaanvalle of nie, veediefstal dra baie daartoe by dat Suid-Afrikaners ten duurste vir ‘n vleisie opdok.

Daar is duidelike aanduidings dat baie van die plaasaanvalle ge-organiseerde rooftogte is waar sekere items skynbaar “op bestelling” geroof word. Indien wel, sou dit impliseer dat die rowers oor ongelooflike inligtingsnetwerke moet beskik. Weens die omvang hiervan kan dit toeval wees dat ‘n hele paar opgetekende aanvalle plaasgevind het na mense vir vuurwapenlisensies aansoek gedoen het, en die rowers skynbaar presies geweet het wat te vinde is, asook welke plaaswerkers ook vuurwapens besit en vir lisensies aansoek gedoen het.

Die trauma verdiep verder wanneer die isolasie verskerp word deur oënskynlike laksheid van die owerheid. Vrystaat Landbou het onlangs daarop gewys dat die veelbesproke landelike beveiligingsplan meer as ‘n jaar gelede in Bethlehem bekend gestel is, maar steeds nie geïmplementeer is nie. Dit na die unie ‘n skikking buite die hof afgedwing het waarvolgens die staat onderneem het om sy verpligtinge oor die beveiliging van sy burgers na te kom.

Suid-Afrika se boere word dikwels as van die beste ter wêreld beskryf. Suid-Afrika se gemiddelde reënval is minder as sestig persent van die wêreld se gemiddeld van 860 millimeter. Dit is effens misleidend omdat die reënval-isotopekaart van Suid-Afrika toon dat die natter dele van die land wat min of meer dieselfde reënval as die wêreldgemiddeld kry, grootliks binne die ou tuislande val en dus selde toeganklik vir kommersiële boere is. Kommersiële boere kom dus gemiddeld met nóg laer reënval oor die weg. Die honderde duisende bruin landelike gebiede is waarskynlik nog swakker daaraan toe omdat groot dele daarvan soos die Richtersveld in baie droë dele val.

Nogtans produseer die land se boere heelwat kos, waarvan baie, soos sagte vrugte, uitgevoer word en valuta verdien in mededinging met boere wat deur hul lande gesubsidieer word.

Wildboerdery dra ook baie by tot die bewaring van skaars en selfs bedreigde spesies.

Verskeie landbou-unies het mentorprogramme ingestel om opkomende boere te help om op die been te kom, projekte wat dikwels nie deur die owerheid omarm word nie.

Hulle verdien nie om soos die vyand behandel te word nie.

AfriForum se plan mag nie misluk nie. U, en almal se deelname sal help dat dit slaag. Dit móét eenvoudig slaag.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae