Nuuskommentaar: Afrikaans en die Afrikaner en hóé met Afrikanerdiplomasie

Die kwessie van Afrikaans is feitlik gelyktydig uit minstens drie oorde op die tafel geplaas; die bekendmaking van die matriekslaagsyfer, ‘n gesamentlike artikel deur mnr. Henry Jeffreys en dr. Michael le Cordeur in Media 24, en ‘n artikel van Media 24 se verteenwoordiger in Europa, dr. Leopold Scholtz wat na die oorlewingspotensiaal van minderheidstale, waaronder Afrikaans kyk.

Suid-Afrika vaar betreklik swak in terme van sy skooluitset, vergeleke met die hoeveelheid geld wat per kop aan elke leerder spandeer word. Die matriekslaagsyfer styg min of meer jaarliks, en het nou van 70,2 tot 73,9 persent gestyg. Maar terselfdertyd is daar ‘n ondersoek gelas na of matriek nie te maklik geword het nie. Veral universiteite kla dat die druk op oorbruggingskursusse groot is, en ‘n bykomende jaar vir B-grade word selfs oorweeg. Selfs doktorale studieleiers kla dat van die studente in baie opsigte, en nie net wiskundig nie, funksioneel ongeletterd is. In haar reaksie op die matriekuitslae wys Alana Bailey,  adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, op die kwessie van moedertaalonderrig.

Jeffereys en Le Cordeur se artikel moet gelees word teen die agtergrond van die uitnodiging wat hulle, en ook Flip Buys, hoof van Solidariteit, en prof. Koos Malan van Tuks ontvang het om ‘n “hoorzitting” van die Nederlandse Taalunie, wat ook Vlaandere betrek, in die Nederlandse parlement toe te spreek.  Scholtz se rubriek is waardevol teen die agtergrond dat hy in ‘n unieke posisie verkeer. Hy het ‘n groot deel van die viertal se besoek aan die Lae Lande meegemaak, hy ken van die rolspelers soos Jeffreys goed onder wie se redakteurskap hy as adjunk-redakteur van Die Burger gedien het, en as historikus in Nederland gesetel het hy die voordeel om soms effens weg van die vuur te staan en sake te betrag.

Jeffreys en Le Cordeur, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), se artikel het op die oog af eerstens ten doel om afstand te plaas tussen die standpunte wat hulle in Nederland gaan oordra het, en die standpunte ingeneem deur Buys en Malan. Heelwat tyd word spandeer aan die losmaak van Afrikaans aan Afrikanerskap, die aanslag van die regering teen Afrikaans word baie laag gespeel, en die toekoms van Afrikaans word suiwer as taalkwessie in die groter geheel van Suid-Afrika ingebind.

Of dit so bedoel was of nie, Malan, en veral Buys, se bydrae is sterk geassosieer met ‘n Afrikaner diplomatieke offensief wat terselfdertyd veral in die Lae lande gehou is, en waarin AfriForum en Solidariteit leidende rolle ingeneem het. Dit kan kernagtig saamgevat word as ‘n benadering dat taal slegs maar een faset is van die kultuurgoedere wat ‘n groep sy identiteit besorg, en dat sulke groepe oor minderheidsregte beskik wat in die geval van Afrikaans in Suid-Afrika erg stief deur die regering behandel word.

Dit het voorts saamgeval met die jaarvergadering van die United Nations and Peoples Organisation (UNPO) wat in Europa plaasgevind het, en waar so sterk oor die lot van die Afrikaner standpunt ingeneem is dat die sekretaris-generaal van die VN hieroor genader gaan word. In die UNPO se jaarverslag word in taamlike detail oor die Afrikaner se stief behandeling, onder meer op die onderwysterrein, uitgewei. Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus is by die vergadering tot die UNPO se uitvoerende bestuur verkies.

Jeffreys en Le Cordeur gee toe dat daar ‘n situasie kan ontstaan dat Afrikaans die wind so van die regering van voor kan kry, dat inisiatiewe soos Solidariteit se skepping van ‘n Afrikaanse universiteit deur alle Afrikaanssprekendes gesteun behoort te word.

Scholtz se rubriek (wat regtig gelees moet word) wys onder meer daarop dat minderheidstale werklik bedreig kan word as dit nie deur die owerheid gesteun word nie. Hy haal Europese kenners aan wat studies hiervan gemaak het. Hoewel staatsteun belangrik is, wys die kenners daarop dat die wil van die sprekers om ‘n taal te laat oorleef, ook baie belangrik is: “Dié gevolgtrekking is deels bevestig deur prof. Reinier Salwerda, direkteur van die Fryske Akademy, die Friese ekwivalent van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Salwerda het vertel dat Fries in die 20ste eeu ’n geweldige oplewing ondergaan het en van ’n kombuistaal tot ’n volwaardige akademiese en kultuurtaal ontwikkel het.”

Wat Afrikaans, suiwer as taal en losgemaak van politieke kontekste en kultuuromgewing betref, lyk dit of die rolspelers wat in hierdie bespreking aan die bod gekom het, dit min of meer eens is. Terwyl Jeffreys en Le Cordeur onder die vaandel van die ATR skryf en die nie-rassigheid van die organisasie beklemtoon, is Bailey ook die ondervoorsitter van die ATR. AfriForum is een van die ATR se deelnemende organisasies. Haar verklaring oor die matriekslaagsyfer is ook op die ATR-webblad gedra. Onder die ander deelnemende organisasies tel ook Die Burger, die Vryheidsfront Plus en die Universiteit van Stellenbosch.

Op die oog af lyk dit of, as dit suiwer oor Afrikaans as taal handel, daar ‘n taamlike groot konsensus is.

Wanneer die kwessie die wyer kulturele en staatkundige spektrum betree, is die gedeelde gedagtes minder. Dan tree historiese verskille wat breedweg die kloof tussen wit en bruin taalgenote slaan na vore – of te wel tussen hulle vir wie die dice voorheen al verkeerd geval het, en hulle vir wie die dice eers meer onlangs verkeerd geval het.

Dit is ‘n realiteit waarmee Afrikanerdiplomasie rekening moet hou. Terwyl die inbind van nie-wit rolspelers hierin aantreklik is omdat baie simpatiemyle daarmee oorsee verwerf kan word, moet teen onwillige deelname of selfs misbruik – of dan persepsies van misbruik – gewaak word.

Suksesvolle Afrikanerdiplomasie is egter baie komplekser as net dit. Die blote feit dat die gebeure wat in hierdie rubriek beskryf is, betreklik min, en in sekere opsigte naastenby geen publisiteit hier te lande beleef het nie, dui daarop dat die projek nie oral in die Afrikanergemeenskap ewe sterk gevoelens wakker gemaak het nie, en in sekere kringe dalk selfs as verleentheid ervaar is. Aan die ander kant van die politieke spektrum, blyk dit, word gereeld dade beplan wat die Afrikaner se saak erg benadeel.

Niemand het gesê Afrikanerdiplomasie gaan maklik wees nie, maar presies hoe moeilik dit gaan wees, moet nog ten volle beleef word. Die feit is egter dat die unieke vensterperiode daarvoor nou reeds bestaan – ‘n wêreld daarbuite wat nie kan verstaan hoe ‘n land se mense iemand soos pres. Jacob Zuma so oorweldigend kan steun nie – en ‘n redelike bewustheid dat die Afrikaner oor die algemeen nie deel van hierdie steungroep is nie.

Daar is talle bewyse dat Afrikaans steeds sterk staan. Die SAUK-TV-program, Paella, het 2 miljoen kykers en moet meeding met ander Afrikaanse programme wat via satelliettegnologie aan mense wat dit kan bekostig beskikbaar is. Die radioprogram, Sterre en Planete, tel onder die gewildstes oor die luggolwe. Die Afrikaanse boek, en nou ook e-boeke, beleef ‘n opbloei. Die Afrikaanse lied laat die rande rol.

Maar daar is ook die ander kant van die munt. Daar is die vakansie gereeld melding gemaak van die “anoreksiese” Afrikaanse koerante, selfs aan die kus waar verwag sou word adverteerders die kooplustige mense sou volg. Verskeie mooi Afrikaanse inisiatiewe op die internet, soos www.koerant.co.za het pas in die slag gebly, en die e-tydskrif, Jou Wêreld, word ongeveer ‘n jaar lank nie meer opgedateer nie. Om vir ‘n pos by ‘n Afrikaanse koerant, waar vlotheid in Afrikaans ‘n uitgespelde vereiste is, aansoek te doen moet ‘n CV in Engels by die personeelagentskap ingedien word “omdat Engels die ‘besigheidstaal’“ is. Verskeie hofsake moes reeds oor die handhawing van Afrikaans gevoer word, onder meer op skoolvlak.

Ruimte vir dwarstrek is daar ook nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae