Nuuskommentaar: Afrikaner – Stemvee of magsblok?

Die omstrede Temboe-koning se opneem van lidmaatskap van die DA plaas bedoeld of onbedoeld weereens die soeklig op identiteitspolitiek.

Het die DA ‘n fout gemaak om die koning as lid te aanvaar? Bykans elke berig meld dat die koning ‘n daggaroker is, maar ook ander sake waaroor hy appelleer word hom ten laste gelê. Die ANC meen amptelik hy is beter af sonder die koning …

Die koning is egter nie sonder wortels nie, en daar is, vaag soos dit mag wees, die moontlikheid dat sy politieke afvalligheid ‘n blokverskuiwing uit die ANC tot gevolg kan hê. Benewens koning van die invloedryke Temboe, is die koning ook nabye familie van oud-president Nelson Mandela.

Baie van die ANC se steun spruit uit ‘n soort by verstek-steun van blokke. Reeds in die dae van Mandela as president is die samestelling van die kabinet ‘n balanseertoertjie van die insluiting van verteenwoordigers van die verskillende stamme, waaronder persone wat minstens ‘n lekseltjie koninklike bloed het, die insluiting van verteenwoordigers van alliansievennote, van geslagte, en selfs hier en daar iemand wat werklik nog baie nat agter die ore is.

So kon die ANC as “broad church” op ‘n manier alles vir almal wees. Tegnokrate met kundigheid het dikwels maar erg aan die agterspeen gesuig…

Die beginsel van blokverteenwoordiging het mettertyd effens afgewater geraak, in so ‘n mate dat dit onder bruin kiesers ‘n teer punt begin raak het. Dit het ook in ander gedaantes in die ANC begin manifesteer, met die verkose nasionale uitvoerende komitee wat met die Mangaung-konferensie in Bloemfontein byna volkome van etniese minderhede gestroop is. Die fokus op African Africans het onder meer tot die Solidariteit-DKD-hofsaak aanleiding gegee.

Omdat “tribalism” as ‘n soort vloekwoord beskou is, is die stamverband van senior politici dikwels nie genoem nie. Dit is bykans ongehoord dat iemand se herkoms uit sy CV sou blyk. Daar is eerder op ‘n oorhoofse rasbewustheid gefokus, soos blyk uit die bestaan van organisasies vir swart joernaliste, vir swart regsgeleerdes, swart landbouers, swart sakelui en vele meer. En natuurlik ‘n wavrag rasse-wetgewing en maatreëls wat die apartheidswette in getal na kinderspeletjies laat lyk. Pres. Jacob Zuma het ‘n effense duik daarin gemaak deur die presidensie trots as “100 percent Zulu boy” te betree.

Maar waar staan die Afrikaner in die proses?

Die Afrikaner ervaar oor ‘n breë front die tentakels van neo-apartheid, asook van kulturele verdringing uit instansies waar die Afrikaner tradisioneel sy wortels gehad het. ‘n Groot aantal het in diaspora gegaan, sodat daar Sondae in ‘n land soos Nieu-Seeland reeds ‘n haas ongelooflike aantal Afrikaanse kerkdienste gehou word. Die Afrikaanse Tuna Radio wat oor die internet uit Nieu-Seeland uitsaai het ‘n hele aantal luisteraars in Suid-Afrika.

Maar hier plaaslik?

Haas geen groep soos die Afrikaner veg oor so ‘n breë front vir die behoud van sy kultuurregte soos Afrikaanse skole, of minstens die reg om in Afrikaans onderrig te word nie. Die Afrikaner dring aan op minderheidsregte soos om Afrikaans nie net op die wetboek een van die amptelike tale te hê nie, maar dit ook in die openbare en private sektore te kan gebruik – wat weer vir groot instansies wat ter wille van kwotas en BEE eintlik net swart personeel aanstel, onder druk taaldruk met kliënte plaas. Tog vind al meer Afrikaanssprekendes dat hul bank, mediese fonds en vele meer in sekere afdelings glad nie meer kontakpersoneel het wat hulle in Afrikaans kan help nie – en soms bloot ongeskik weier om dit te doen.

Dit gebeur ook al meermale dat daar op Afrikaanse TV-nuus insetsels gespeel word waar bekende Afrikaanssprekendes die woord in Engels voer – waarskynlik omdat die joernalis wat die onderhoud opneem, nie Afrikaans magtig is nie. Soms is dit goeie Engels, soos wanneer die krieketkaptein AB de Villiers die woord voer, maar dikwels is dit mense wat vreeslik oor die rooi taal struikel.

Hoe, sou ‘n mens met oppervlakkige logika verwag, sou die Afrikaner in sy politieke keuses reageer? Of is daar ander faktore wat bepaal hoe hy sy politieke heil sal soek?

Die interessantheid is dat baie Afrikaners se identiteitsbwustheid en ook aandrang op die regte wat die grondwet bied, of potensieel bied, nié as politieke magsblok ontwikkel het nie.

Afrikaanssprekendes, en Afrikaners, sluit by politieke partye aan wat self haas geen, of bitter min Afrikaanse kommunikasie bedryf nie. ‘n Segment weier (nog) om aan verkiesings deel te neem om te voorkom dat so “legitimiteit” aan die post-1994-bedeling verleen word.

Taal is nie al wat die Afrikaner definieer nie – godsdiens speel ‘n belangrike rol maar dit bepaal selde Afrikaners se politieke voorkeure.

Presies hoe ver die Afrikaner van ‘n politieke magsblok af staan, blyk uit die uiteenlopende reaksies uit dié geledere op voorvalle soos die haatspraakverhoor teen Julius Malema, en onlangs die storm wat om Steve Hofmeyr se kop losgebars het oor sy skrywe op sy webjoernaal en bakkiesblad oor die moorde op wit mense.

Op die politieke terrein herinner die Afrikaner aan die twee knape wat op ‘n eiland uitspoel, en dadelik drie partye stig, twee partye links, een in die middel, en drie regs…

Dit is hoe dit in ‘n gevorderde demokrasie hoort, waar ingeligte kiesers hul stemme uitbring vir partye wat hulle ideologies steun, en terselfdertyd die reg behou om partye wat swak presteer te straf. Maar in Rome…

Hier word wel buite Afrikanergeledere politieke magsblokke, enorme magsblokke, gevorm en is versplintering elders dikwels ‘n groot nadeel.

Oor ‘n wye front sal dit as hoogs ongeleë beskou word dat die Afrikaner nou reeds debat begin voer oor die kwessie van magsblok of stemvee. Baie sal redeneer hierdie debat moet eers agterweë gehou word totdat die ANC (wat ook Afrikaners insluit, onder andere wat onderneem het om daar die Afrikaners se stem te wees) se mag gebreek is. Ander sal meen identiteitspolitiek hoort glad nie in die omgewing van ideologiese politiek nie.

Die kuberruim bied egter ‘n ruim platform waarop baie mense – selfs onbewustelik – aan die debat deelneem. Die Kleinfontein-insident was ‘n goeie manifestasie van waar die vraag verleë in die lug bly hang het – stem vir ‘n party en ‘n ruk later betoog daardie einste party voor jou deur?

Is kiesers in hul keuses “nuttige idiote” of visioenêr? Op die kuberruim is die debat reeds vaag gedefinieer aan die gang, en volstruispolitiek gaan dit nie sommer stuit nie.

Waar die Afrikaner hom egter deeglik begin laat geld is die terrein van burgerlike instellings. Instellings soos AfriForum en Solidariteit doen enorme werk.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae