Nuuskommentaar: Afrikaner terug in internasionale isolasie?

Terwyl Suid-Afrika die afgelope jaar om verskeie redes gereeld (meestal om die verkeerde redes) groot nuus in die internasionale media was, gebeur die omgekeerde nie werklik nie.

Is dit nie dalk ook apartheid se skuld nie? En nee, dié vraag is nie ‘n draakstekery nie – dié vraag het inderdaad wortels.

Die media sal immers nie iets plaas waarin hulle weet hul lesers nie sal belangstel nie. Die min buitelandse nuus is dan, teoreties, die gevolg van min lesersbelangstelling in die buiteland. Of anders gestel, vir Afrikaanse lesers het hul wêreld bitter klein geword. Of het dit?

Hoekom sou ‘n koerant byvoorbeeld op ‘n dag, weens ‘n gebrek aan  plasingsruimte, besluit om die “buiteland vir die dag af te skaf”?

Sou hierdie waarneming min of meer geldig wees, is daar meer as ‘n tikkie ironie in opgesluit. Gedurende die apartheidsjare is Suid-Afrika in isolasie geplaas. Sanksies en disinvestering het gevolg. Maar ‘n gemiddelde laerskoolkind kon toe-oë ‘n rits Afrika-leiers en ander wêreldleiers afrits. Name soos Leabua Jonathan, Sir Seretse Kgama, Sam Nujoma, Kenneth Kauanda, Idi Amin, Ghaddafi, Abdul Nasser, Joop den Uyl, Olaf Palme, Pierre Treteau, Harold Wilson, Golda Meir, Sirimavo Bandaranaike (die wêreld se eerste vroulike premier), Juan de Peron en Salvador Allende was alledaagse name. Vra nou ‘n skoolkind om sonder Google te sê wie die regeringshoofde van Lesotho, Botswana,, Zambië, Uganda, Libië, Egipte, Nederland, Swede, Kanada, Brittanje, Israel, Sri Lanka, Argentinië en Chili vandag is en kyk hoeveel antwoorde dit oplewer.  Of hoeveel van die G2—lande se regeringshoofde lui ‘n klokkie? Of selfs van die Brics-lande?

Die bekendste ou name is waarskynlik die gevolg daarvan dat hulle aan die voorpunt van die stryd teen apartheid was. In die destydse idioom die voorste vyande van die land dus. Van hulle was egter ook om ander redes bekend of berug.  ‘n Kwessie dus van jou vriende goed ken, maar jou vyand nog beter ken?

En soos enige ouer instinktief wil doen, sy kind van die onaangename wil insuleer. Die fokus van die aandag het dus verskuif dus na die onmiddellike omgewing waar die sportlui soos Dicky Broberg, Johan Fourie en ander ritse wêreldprestasies opdis. Waar Suid-Afrika die eerste land ter wêreld word wat ‘n suksesvolle hartoorplanting doen. Die land ‘n pionier word met die bou van kernbomme waarmee ‘n land soos Iran nou nog mee spook, en ander Suid-Afrikaners indrukwekkend presteer.

Suid-Afrika word in die gemoed van baie Suid-Afrikaners ‘n wêreld op sy eie wat nie net “alles” bied nie, maar waarin uitsonderlik presteer word, en die Afrikaner nie skaars is nie. Die “lelike” buitewêreld word bykans irrelevant – soos iemand wat in sy gemoed teenspoed oorleef deur die onaangename ervarings en werklikhede weg te rasionaliseer.

Die ironie is dat die wêreld danksy tegnologie die spreekwoordelike neutedop geword het – die wêreld is soos ‘n klein dorpie. Skaars het twee vliegtuie in die Twin Towers vasgevlieg, of mense dwarsoor die wêreld kan in hul sitkamers kyk hoe dié twee geboue inmekaar tuimel en talle mense sterf.

In talle lande oorsee woon daar nou duisende Afrikaansprekende mense; hulle vorm dikwels gemeenskappe wat tipiese Afrikanerfunksies soos bring-en-braai’s reël, internettydskrifte uitgee, en gereeld met vriende en familie in Suid-Afrika Skype. Baie ouers hier maak hul kinders groot om te emigreer. Ander kry eenvoudig hier nie werk nie, en gaan werk oorsee in die mees ondenkbare lande – met die idee om eendag terug te keer met genoeg klinkende munt om die uitdagings van die land te kan oorleef.

Ander gaan werk oorsee met die persepsie dat dit daar beter is, en heelwat is kort voor lank ontnugter terug. Soos die man wat uit Australië teruggekeer het waar hy in die landbou betrokke was: “Ek moes dan self handewerk doen en my vrou moes soggens vyfuur gaan melk.”

Wie het hy gedink gaan die werk doen?

Suid-Afrika is vir die wêreld relevant. Is daar stakings of onluste op die platinummyne styg die prys van platinum, want dit is ‘n strategiese mineraal en Suid-Afrika is by verre die wêreld se grootste leweransier. Die hoop word gekoester dat Suid-Afrika sy dominante vermoë sal aanwend om Afrika as beleggingsbestemming te stabiliseer, en dit stem die wêreld tot kommer as die skroewe hier self uitval.

En dis nie asof die Suid-Afrikaanse nuus juis as tonikum teen slegte nuus van oorsee kan dien nie. Onlangs het daar hier op Maroela nog groot woede uit talle lesersreaksies geblyk op pres. Jacob Zuma se stelling dat Suid-Afrika nie ‘n gewelddadige land is nie. Hy is onder meer van volstruispolitiek beskuldig.

‘n Oormaat redes vir ‘n eng waarnemingswêreld is daar nie. En stroop die Afrikaner hom nie in die proses van die rykheid van kennis  nie? En bemoeilik dit nie pogings om kultuurbande met stamlande soos die lae lande en Indonesië op ‘n sinvoller grondslag te vestig nie?

En ontneem hy nie sy kulturele neefs en niggies in die Lae Lande van blootstelling aan ‘n gemeenskap waar die Christelike geloof nog sterk bruis nie? (Al baklei die Afrikaner nou ook al selfs binne kerkverbande dat die see gaan sukkel om die beswadderdes skoon te was).

Die skynbare isolasie is ook nie altyd die Afrikaner se eie skuld nie. Veral op TV, wil dit dikwels voorkom asof daar nie meer Afrikaanse kenners in vele velde is nie. In die Afrikaanse TV-nuus en tweetalige akualiteitsprogramme sal die kenners oor byvoorbeeld sterrekunde, die ekonomie, argeologie, ekologie, omgewingsbewaring en ander tegniese terreine wat vir kommentaar geraadpleeg word baie dikwels Engelssprekend wees, en hier en daar selfs Afrikaanssprekend wees maar die insette in Engels lewer. Die rede is nie dat Afrikaanssprekende kenners in die veld ontbreek nie, maar meer waarskynlik dat die SAUK se verslaggewer nie Afrikaans magtig is om die onderhoud in Afrikaans te kan voer nie. Dit skep nietemin die indruk dat Afrikaanssprekendes in sekere prestasievelde afwesig geraak het.

Maar as die Afrikaner homself van die wêreld isoleer, word die Afrikaner self vir die wêreld irrelevant. Dit is wel oorvereenvoudig gestel, maar daar is tog iets te lese daarin dat die donkievleisstorie uit Suid-Afrika in bykans elke buitelandse koerant ‘n berig of wat opgelewer het, terwyl minister Lulu Xingwana se verregaande stelling oor Afrikaner-Calviniste wat hul vroue en kinders as besittings sou beskou en dus nie ‘n probleem het om hul lewens te neem nie, oorsee so te sê geen nuusdekking geniet het nie.

Afrikanerinstansies probeer die kwessie van plaasmoorde internasionaliseer om druk op die regering uit te oefen. Ander instansies probeer druk genereer om die regering by die letter en gees van die grondwet te hou.

Maar as die Afrikaner die buitewêreld as irrelevant beskou, gaan die buitewêreld die Afrikaner as irrelevant beskou. En dit is geen “splendid isolation” soos Victoriaanse Brittanje eens van homself geglo het nie.

Maar dit beteken ook nie die Afrikaner moet nou gaan volstruispolitiek speel en in plaas van ‘n eng geestelike laer te trek, nou so deur ‘n buitelandse gedagtewêreld geabsorbeer word dat hy voeling met sy onmiddellike omgewing verloor nie. Dit kan immers lewensgevaarlik wees.

Maar slegs ‘n goed ingeligte persoon kan ‘n behoorlike rolspeler wees om van Suid-Afrika ‘n beter plek te maak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae