Nuuskommentaar: Akademici en die pot lensiesop

Die bruidspaar, Vega Gupta en Aakash Jahajgarhia by die Valley of Waves, Sun City Foto: Haranath Ghosh, Twitter

Die Gupta-sage kring steeds uit ten spyte van ‘n omvattende poging om dit hok te slaan.

Die SAUK beweer ‘n dosent by UNISA is genader om kommentaar te lewer oor die Gupta-sage. Die versoek is van die hand gewys, het die dosent verduidelik, omdat hy vir die New Age-koerant skryf.

Dit val min of meer in dieselfde kategorie as wanneer die media en navorsers van politieke (opposisie-) partye inligting oor munisipaliteite se water- en rioolstelsels in die hande probeer kry, en hulle teen universiteitspersoneel vasloop wat as konsultante vir daardie munisipaliteite optree. Dit laat dadelik die vraag ontstaan oor die mate waarin daar wyd gemuilband word om die erkende strukture van die demokrasie te ondermyn. En as die geval van die riool in drinkwater veral die lewens van pasgebore babas in gevaar stel as dit om net E.coli handel, maar ook ander lewens bedreig as dit soos by Delmas destyds om tifoïde handel, of elders om cholera.

Akademiese vryheid is ‘n komplekse saak. Die een skool, veral uit die VSA, beskou dit as ‘n verlengstuk van die vryheid van mening en spraak, terwyl die ander skool dit as iets op sy eie beskou en dikwels dit ook so in wetgewing en selfs grondwette ondervang. Die benaderings het dit gemeen dat akademiese vryheid ten doel het om te verhinder dat dosente en studente sake weens allerlei beperkings na behore kan bespreek, en tweedens dat hulle die reg het om daardie menings na buite uit te dra solank dit nie ander mense se regte skend nie.

Kan iemand werklik ‘n akademikus genoem word as hy merk dat onjuisthede verkondig word, en hy “ter wille van die vrede” of enige ander rede swyg en so toelaat dat die onwaarhede steeds as “feite” oorleef?

Wat is die stand van akademiese vryheid as ‘n dosent wat minder entoesiasties oor sy universiteit se vertolking en toepassing van transformasie voel, in vrees leef om sy mening uit te spreek? Verskil dit dan hoegenaamd van die praktyk in die 60’s en 70’s waar studente wat wou goed slaag maar moes skryf van die Christelike beleid van apartheid versus die humanistiese beleid van gelykstelling?

Universiteite is veronderstel om outonome liggame van akademiese uitmuntendheid te wees. As alle dosente skielik in hierdie taak gestrem sou word deur eerstens ander belange te dien, sal die akademiese instellings ‘n belangrike kenmerk verbeur van dit wat hulle veronderstel is om te wees.

Dit is nie ‘n heeltemal simplistiese kwessie nie. Daar is voorbeelde van maatskappye wat kontrakte met universiteite sluit om bepaalde navorsing te doen. Dit sou misdadig wees as dié betaalde resultate deur “akademiese vryheid” in die hande van mededingers beland. In die akademie word navorsingsresultate in die reël aan ‘n portuuroorsig onderwerp voor dit in vaktydskrifte gepubliseer word.

Maar daar is ook talle gevalle waar universiteitspersoneel groot aansien aan hul instellings verleen deur in die openbare lewe kundige inligting en menings te voorsien. Dit dra by tot die algemene kennisvlakke en openbare debat van die land. Dit verskaf ‘n diepgang aan die demokrasie.

Nie alle vakgebiede leen hulle ewe goed tot hierdie bydraes nie.

Bitter baie wetenskaplikes aan universiteite kla ook oor die wyse waarop die media inligting wat voorsien is, en selfs in ooreenkoms nagegaan het vir feitelike korrektheid, dan gaan sensasionaliseer en die feite met bedenklike duimsuiery vervang. Na een so ‘n voorval het drie departemente by ‘n universiteit alle bande met die plaaslik dagblad verbreek.

In sekere gevalle in die media ontbreek die nodige in huis kundigheid eenvoudig om sekere sake na behore te hanteer. Een dagblad “breek” die nuus oor die ontdekking van olie op die Agulhasbank op die voorblad presies tien jaar na ‘n susterkoerant dieselfde nuus as binnebladberig gedra het.

Kan daardie akademikus wat weens sy belang by die New Age geweier het om oor die Gupta-sage kommentaar te lewer enigsins as akademikus beskryf word?

Die fout is ook nie altyd by die akademici nie. Na 1994 was daar ‘n tyd van juridiese verabsolutering waar kommentaar gewoonlik van akademici in die vakgebiede soos staatsreg bekom is, en ander, soos politieke wetenskaplikes, maar veral politieke sosioloë (wat immers die dinamika beskryf) en politieke geograwe selde genader is. Die posisie is geleidelik besig om reg te verstel.

Maroela Media, saam met die FAK bied aan akademici en ander kundiges verskeie opsies om nie in die openbare debat so stil soos pantoffelmuise om te gaan, of bloot oor die hoof gesien te word nie. Daar kan onder meer deelgeneem word aan die rubriek, Standpunte, asook die Groot Debat.

Het die Gupta-sage nie dalk vir die ANC soos manna uit die hemel gekom nie?

Was die waghond-fokus van die media (behalwe die New Age) en die opposisiepartye nie in so ‘n mate op Waterkloofgate gefokus dat ander belangrike sake nie die nodige aandag kon geniet nie?

Die res van die land en die wêreld het nie gaan stilstaan nie. Om maar ‘n paar te noem:

–       Die snoerwet is deur die parlement gestoomroller, en minder as ‘n week later vind ‘n groot deel van die media dit glad nie nuuswaardig dat die 20ste Wêreldpersvryheidsdag gevier is nie. Altesaam 28 joernaliste en ander mediamense het vanjaar reeds in die uitvoering van hul werk die hoogste prys betaal. Amper 400 bevind hulle agter tralies. Verdien dié kollegas nie ‘n bietjie meer erkentlikheid nie?

–       Die Solidariteit – DKD-hofsaak beklemtoon hoe ver die ANC van sy uitgesproke doelwit van nie-rassigheid afgewyk het. Dit het ‘n enorme impak op die ANC se vermoë om die Wes-Kaap te “bevry.” Die saak geniet wel wyd mediadekking.

–       Die Openbare Beskermer het aangedui dat die verslag oor Nkandla binnekort gereed sal wees.

–       Die wêreld-ekonomiese forum bevind dat Suid-Afrika laaste gekom het uit 144 lande wat gemeet is wat werkgewer-werknemerverhoudinge betref. Daar is ‘n landswye busstaking en die sogenaamde stakingseisoen lê voor.

–       Israel het sy derde bombardement van die jaar op teikens in Sirië uitgevoer, amptelik om te voorkom dat wapens uit Sirië aan Hizbollah in Libanon voorsien word. Die derde aanval veroorsaak ‘n rimpeling in die VSA, waar politici daarop wys dat die Israeli’s leemtes in die Siriese lugverdedigingstelsel ontbloot, wat deur Rusland voorsien is, en dat Israel Amerikaanse wapentuig gebruik. Daar gaan klaarblyklik nou, volgens die Amerikaanse pers, groter druk wees dat in die Siriese konflik ingegryp word om Assad uit die kussings te dwing.

–       Vir alle praktiese doeleindes het die ANC met sy verkiesingsveldtog begin toe pres. Jacob Zuma die Gautengse vrywilligerskorps bekend gestel het wat moet sorg dat die ANC in daardie provinsie ‘n tweederde meerderheid behaal, en nie dalk in die DA se hande beland nie. Zuma moedig mense aan om vir partye se beleid te stem, en meen uiteraard die ANC het die regte beleid, ‘n klaarblyklike wegskram van die kiesers se taak om ook die doeltreffende toepassing al dan nie van beleid te meet en daarvolgens te stem.

Die demokrasie behels ‘n volle pakket van grondbeginsels en rolspelers, en as sommige suiers nie in harmonie saamvuur nie, pieng die hele enjin van demokrasie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae