Nuuskommentaar: Al meer klippe kou vir minderhede

Die bedreigings wat minderhede en inheemse groepe nou in die gesig staar is nie nuut nie, maar die omvang van hierdie bedreigings het nuwe hoogtes bereik. Dit word veroorsaak deur die honger na hulpbronne, en nuwe tegnologie wat die ontginning daarvan in selfs die mees afgeleë dele moontlik maak.

So skryf die Minority Rights Group in sy verslag vir 2012, wat pas uitgereik is. Minderhede word toenemend deur regerings en private ondernemings onder druk geplaas wat wil put uit die rykdomme in of onder die grond van minderhede. Dit klink na presies dieselfde lot as dit wat die ANC-jeugliga by die onlangse ANC-kongres vir blankes in Suid-Afrika voorgestel het.

Die groep neem voorbeelde van dwars oor die wêreld waar minderhede eenvoudig plek moet maak vir nuwe damme, buitelandse landbou-aanlegte, nuwe myne, en die voorbeelde sluit in die Batwa, of te wel pigmeë, mense van Ethiopië, Kambodja, Indië, Iran – haas enige uithoek van die aarde.

Ironies sal sterker groepe nie net kleiner groepe in hul eie land bedreig nie, soos in Indië waar veral die oorspronklike, voor-Indiese bevolking die spit afbyt, maar is dit ook Indiërs wat minderhede in Ethiopië van hul grond laat verwyder. Dikwels word dit onder die vaandel van sentralisering in dorpe gedoen, onder die veronderstellings dat die verskuifde mense daar beter daaraan toe is, maar dan sonder inkomste en kan hulle hul kinders nie meer voed nie. Boonop beleef hierdie gemeenskappe wat so ontwortel word, benewens ekonomiese agteruitgang ook kulturele erosie.

Kom dit by Suid-Afrika is die groep krities oor die behandeling wat die San en  Moslemvroue te beurt val, maar oor die algemeen word standpunte ingeneem in pas met dié van die regering. Die Groenskrif oor Grondhervorming word byvoorbeeld onkrities aan die bod gestel. Terwyl die ontneming van mineraleregte in ander lande skerp gekritiseer word, word die Suid-Afrikaanse kwessie wat nou deur Agri SA na die Grondwetlike Hof neem, nie in die bespreking van Suid-Afrika in ag geneem nie. Die groep is byvoorbeeld krities oor Iran waar 90 persent van die land se olie ontgin word op grond wat tradisioneel aan die Arabiese minderheid behoort, maar dié minderheid in armoede woon.

Die rede is voor die hand liggend – ook die Minorities Rights Group gebruik nog as vertrekpunt persepsies oor die apartheidsverlede, en gaan van die houding uit dat die Afrikaner nog vanuit daardie era ‘n voorsprong het op swart mense, wat eers gelyk getrek moet word. Dat dit nodig is dat die groep ook ‘n ander perspektief moet begin ontwikkel, blyk daaruit dat Suid-Afrika op ander objektiewe indekse wat die harmonie van groepe in ‘n land meet, bitter swak vaar en boonop die kreeftegang gaan.

Dit maak immers nie sin nie dat die een verslag, dié van die Minorities Rights Group, byna geen haakplekke in Suid-Afrika kan bespeur nie, maar op die Wêreldvredesindeks is dieselfde land naby aan die onderpunt. Trouens, polarisasie het so ‘n omvang aangeneem dat ‘n versoenings- en nasieboukongres later dié week in Kliptown gehou moet word – ‘n inisiatief wat deur die regering geïnisieer is. En vir die Afrikaner, as minderheid, is die kongres ook hoog tydig na die verdelende Julius Malema min of meer uit sirkulasie gehaal is, maar deur sy waarnemende opvolger in die ANC-Jeugliga, Ronald Lamola, na die kroon gesteek word. Dit is egter ook belangrik dat die Afrikaner behoorlik konsolideer agter aksies van groepe soos AfriForum en Solidariteit wat die Afrikaner se saak by belangrike internasionale forums gaan stel.

Dis nie ‘n dislojale aksie teenoor die land, of outyds of “tribalism” nie, dis ‘n reg waaroor die Afrikaner en ander minderhede volgens die internasionale reg en, as ‘n mens met ‘n fyn kam soek, volgens die grondwet ook beskik.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae