Nuuskommentaar: Al-Qaeda in SA

Argieffoto van Al-Qaeda in Somalië Foto: www.foreignpolicy.com

Te midde van berigte oor nuwe diensleweringsproteste het nog ‘n brokkie nuus wat die land nie kan bekostig nie, Suid-Afrika getref – berigte  oor beweerde Al-Qaeda-opleidingskampe in Suid-Afrika.

Suid-Afrika kan nie bekostig om ruggraatloos oor die bedrywighede, of selfs beweerde bedrywighede van Al-Qaeda te wees nie, en juis daarom is die nuus van ‘n ondersoek wat skynbaar prematuur gestaak is na Al-Qaeda-opleiding in Suid-Afrika verontrustend.

Die VN se Veiligheidsraad het gister weer terreur in algemene terme veroordeel, na aanleiding van ‘n terroriste-aanval in Turkye wat deur linkses uitgevoer is, maar wat Turkye met die Siriese veiligheidsdienste in verband bring.

Suid-Afrika is al voorheen in verband gebring met Al-Qaeda. Na die Oos-Afrikaanse Al-Qaeda-aanvalle het Suid-Afrika ‘n persoon aan die VSA uitgelewer wat hierheen gevlug het. In 1998 het ‘n pypbom in die Planet Hollywood-restaurant in Kaapstad ontplof en twee lewens geëis, en 26 mense beseer. Dit is regstreeks met Al-Qaeda-verwante optrede teen Amerikaanse simbole in verband gebring na ook ander Planet Hollywood-restaurante, soos een in Los Angeles aangeval is. Die volgende jaar het ‘n pypbom in St Elmo’s in Kampsbaai ontplof en byna 50 mense beseer. ‘n Vierjarige meisie se voet moes geamputeer word. Dit was die negende bomontploffing in Kaapstad in 17 maande. Pagad het die blaam op senior wit polisiemanne geplaas wat glo dié organisasie in diskrediet wou bring. Die meeste van die ontploffings kon nie aan Al-Qaeda gekoppel word nie, en beide persone wat vir die St Elmo’s-ontploffing in hegtenis geneem is, is eerder met dwelmverslawing verbind. Die eerste aangekeerde, ‘n oud-polisieman wat ook met satanisme verbind is, is nooit vervolg nie en het ‘n ander geïmpliseer wat ná vier jaar in aanhouding vrygespreek is.

Terreur wat op die een of ander manier na Moslems herlei kan word, lei gereeld tot Islamofobie. Na die Bostonse bomontploffings is juis gevrees dat dit tot ‘n nuwe vlaag Islamofobie sou lei.

Die nuus het saamgeval met ‘n berig dat ‘n Libanees in Saoedi-Arabië tot 300 sweephoue en ses jaar gevangenisstraf gevonnis is omdat hy ‘n Saoediese vrou tot die Christendom bekeer het. ‘n Saoediese man is tot 200 houe en twee jaar gevangenisstraf gevonnis omdat hy die vrou uit die land help ontsnap het. Sy kon die doodstraf kry, en het intussen in Swede asiel gekry.

Dit is egter baie verkeerd om die Islam weens sommiges se betrokkenheid by terreur onder een kam te skeer, net soos dit verkeerd sou wees om die Christendom as ‘n generator tot terreur te beskou wees radikale opvattings wat sommiges uit die Bybel abstraheer.

Moontlik Suid-Afrika se voorste kenner  van die Islam en terreur in Suid-Afrika, en self ‘n Moslem, prof. Hussein Solomon, sê onomwonde dat sy soort Moslems nie met vliegtuie teen geboue vasvlieg nie. Hy maan dat ‘n gebrek aan optrede teen bewerings van Al-Qaeda-opleiding in Suid-Afrika die land se internasionale beeld skade kan berokken.

Die vertakkings van die Islam is kompleks.

Die Islam word in twee hoofvertakkings verdeel – die Soenies en die Sjiïete. Na die opstand in Iran en die herstel van die gesag van die Ajatollas is radikale Islam veral aan die Sjiïtiese vertakking gekoppel. Dit sou nie heeltemal verkeerd wees nie, omdat een van die manifestasies hiervan, Hizbolla in Libanon, kwalik as gematig beskryf kan word. Israel, wat gereeld vanuit hierdie oord bedreig word, sal nie met ‘n stelling van gematigdheid saamstem nie. Pres. Bashar al Assad van Sirië, wat weer tot Alawiete-sekte van die Sjiïete behoort, dien as belangrike strategiese oorweging vir Iran om wapens by Hizbolla te kry, en dié toevoer is al vanjaar twee keer deur Israel onder die bomme gesteek.

Al-Qaeda kom egter nie uit die Sjiïtiese dampkring nie, maar ‘n vertakking wat nou oorwegend met die Soenniete in verband gebring word, bekend as die Salafiste. Deur die loop van die geskiedenis van die Islam was die Salafiste egter soms ook die mees gematigde vertakking, en is dit meer korrek om na die huidige gewelddadige vertakking hiervan as neo-Salfiste te verwys.

Die Salafistiese vertakking van die Al Shabaab in Somalië, wat met Al-Qaeda  verbind word, staan ideologies na-aan die Wahabitiese vertakking van Saoedi-Arabië, waarvandaan Osama bin Laden oorspronklik gekom het.

Ook die Boko Haram wat vir vele bloedbaddens in Nigerië verantwoordelik is, word met Al Kaïda verbind, en so ook die Islamitiese fundamentaliste in Mali wat onder meer ou Moslem-heiligdomme in Timboektoe verwoes het, omdat hulle meen hierdie praalgrafte is on-Islamities.

Hoewel daar heelwat Moslems op verskillende vlakke in die regering dien, en dié feit ook reeds in die verlede Suid-Afrika se buitelandse beleid jeens onder meer Israel beïnvloed het, wil dit tog voorkom of hierdie invloed nog op persoonlike oortuigings binne die Islam afgestem is, eerder as ‘n behoorlike oorhoofse en kontekstuele beleid en selfs die verstaan van waarmee gewerk word.

Om in hierdie komplekse situasie die verkeerde vriende of belange te hê, kan lelike vingerverbrandery tot gevolg hê.

Volgens Solomon se ervaring wantrou oorsese veiligheidsdienste die Suid-Afrikaanse veiligheidsdienste, en is daarom stram om sensitiewe inligting te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.