Nuuskommentaar: ANC-jeugliga: Hier gaan ons al weer

Ronald Lamola. Foto: Times Live

Lamola se uitsprake word met regsoptrede beantwoord

Die ANC se appèl teen sy geskorste jeugligaleier, Julius Malema, oor die sing van ‘n haatspraaklied, moet nog aangehoor word, maar intussen vervat die jeugliga bloot weer met sy polariserende optrede.

AfriForum en die TLU SA het reeds aangedui dat regstappe gaan volg na ‘n nuuskonferensie wat deur die ANC-jeugliga se adjunk-president, Ronald Lamola, gehou is, waartydens hy boere gedreig het om saam te werk met grondhervormingsplanne óf die risiko van gewelddadige grondbesettings in die gesig te staar.

Grepe uit die nuuskonferensie is onder meer op kykNET se Afrikaanse nuus van e-tv uitgesaai. Volgens AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, kom die uitlatings van Lamola nie net neer op haatspraak nie, maar val dit ook binne die definisie van die selfs ernstiger misdrywe van intimidasie en aanstigting tot geweld.

Lamola het onder meer by name “die Van Tonders en die Van Der Merwes op die plase” gewaarsku dat hulle veiligheid nie gewaarborg kan word nie.

AfriForum beoog om Lamola by die gelykheidshof en by die polisie te verkla, ten einde te verseker dat opruiende uitlatings soos hierdie tot orde geroep word.

TLU SA sê sy dreigemente dat boere wat wil leef hulle grond moet verlaat, word in ‘n baie ernstige lig gesien.  TLU SA het sy regspan reeds opdrag gegee om met die hardste moontlike maatreëls te begin teen Lamola, die ANC-jeugliga, die ANC en sy president.  Dié optrede kan insluit die verkryging van ‘n hofbevel, die lê van ‘n strafregtelike klagte en klagtes by tersaaklike instellings soos bv. die Menseregtekommissie. In reaksie op die storm wat ontketen is, is die jeugliga oudergewoonte ewe veglustig.

Polarisasie op ‘n sinkplaatpad

Benewens die aanwakker van polarisasie in die land, is die implikasies veel komplekser, en bedreig die soort demokrasie waarop die land sedert 1994 gebou is, naamlik ‘n primêr unitêre stelsel met beperkte geografiese selfbestuur. Hoewel die grondwet in beginsel, deur artikel 235, soos die meeste moderne grondwette in heterogene samelewings vir volkeregtelike selfbestuur voorsiening maak, is niks in die praktyk geïmplementeer nie. Om ‘n heterogene land soos ‘n homogene land te regeer verg groot omsigtigheid, insig, ‘n wag voor die mond en deernis vir die sentimente van die ander. Dit is soos om ‘n luukse sedan op ‘n viertrek-roete te bestuur.

‘n Sekulêre party, soos die DA wat probeer om nie sektoraal te wees nie, word onder ontsettende druk geplaas. Binne enkele dae het die DA klagtes teen sewe regse organisasies by die Mensregtekommissie gelê oor wat ongevraagde rassistiese opmerkings tydens ‘n protesoptrede by Delmas genoem is, en nou is die oë op die party om te sien of die Jeugliga ook so vasgevat gaan word.

Die DA is juis in ‘n ongemaklike posisie na ‘n swye oor die verloop van die Malema-verhoor gehandhaaf is, en toe fout met die skuldigbevinding gevind het. Tot dusver het die DA, by monde van mnr. Athol Trollip, gereageer deur die DA se verbintenis tot die bestaande grondwetlike bepalings te onderskryf. Die naaste wat hy gekom het aan die veroordeling van Lamola se uitbarsting is om dit “teenstrydig” te vind dat openbare lugtyd hieraan afgestaan is.

Die DA het twee verklarings oor die Delmas-insident uitgereik. Of Lamola se woorde minder kras veroordeling verdien as opmerkings soos “lunatic fringe”, is ‘n kwessie waaroor nie almal dieselfde sal voel nie.

Die volgende is ‘n voorbeeld van die skerp taal van veroordeling oor die Delmas-optrede: “We believe that these inflammatory slogans run against the Bill of Rights and the constitutional imperative that “no person may unfairly discriminate directly or indirectly against anyone [on the grounds of race]”. The far-right groups claim that the purpose of the march was to protest against the double-murder in Delmas of a woman and her child. Tragic incidents like this should never be allowed to be used as a tool for reckless far-right groups to promote their hateful and discriminatory ideologies.”

Beteken gelykheid dat sommige meer gelyk as ander is?

Vereis werklike nie-rassigheid nie volledige ewehandigheid ongeag die oortreder se ras nie? Die DA sou kon argumenteer dat die Vryheidsfront Plus heeltemal oor die Delmas-aangeleetheid geswyg het, maar skerp onder Lamola ingeseil het.

Die interessantheid is dat die Freedom of Expression Institute en nog ‘n NRO pas gevra het om as vriende toe te tree in Julius Malema se appèlsaak, en veral argumenteer dat die gelykheidshof gefouteer het deur nie die konteks en gehoor van Malema se omstrede singery verreken het nie. Met die impak van vandag se massamedia, insluitend die sosiale media, klink dit of die Freedom of Expression Institute die kat behoorlik in die duiwehok wil loslaat.

Die balanseer van regte is ‘n tweesnydende swaard, soos wat die land pas beleef het in die omstrede skildery-sage, waar die reg op meningsuiting opgeweeg is teen die reg op waardigheid.  En gelykheid binne ‘n nie-rassige omgewing beteken nie dat die een ras ‘n bietjie meer gelyk as ‘n ander is nie.

Wat die ANC self betref, lyk dit of daar nog min sprake van is om ‘n nie-rassige party te wees. Daar was onlangs wel weer ‘n uitreik-aksie na Afrikaanssprekendes, wat deels aan Afrikanerkant geboikot is. Die ANC wou vasstel hoekom hy so min steun onder minderheidsgroepe geniet, en daarvoor hoef die party stellig niemand te geraadpleeg het nie.

Verder het die president onlangs tydens sy begrotingsrede sy kommer oor die polarisasie uitgespreek, en toe aangekondig dat ‘n nasieboukonferensie in Julie gehou gaan word om die probleem aan te spreek. In sy repliek het hy 25 minute gespandeer om alle voortspruitende hoop weer die nekslag toe te dien.

Indien die ANC werklik enige erns gehad het met die vermindering van polarisasie, sou hy baie gou na die nuuskonferensie vir Lamola nie net gerepudieer het nie, maar erg die Leviete voorgelees het. Die probleem is dat die tendens net voortduur. Toe Malema voor die TV-kameras ‘n verhoog met Zuma gedeel, en die blankes misdadigers genoem het, het Zuma geswyg, en toe Malema hieroor dissiplinêr aangekla is, is dié aanklag laat vaar weens ‘n gebrek aan getuienis. Maar toe Malema ‘n verhoog met Matthews Phosa deel en sy vinger in Zuma se oog druk, is Phosa voor die media verneder omdat hy toe geswyg het.

Die ANC meen waarskynlik dat Gwede Mantashe se bevestiging tydens ‘n uitreik na boere in Sandton dat onteiening sonder vergoeding nie nou ANC-beleid is nie, is genoegsame repudiëring van Lamola.

Voorkom dat die probleem homself voed

Die probleem voed homself. Hoe meer die heethoofde vrye teuels kry, hoe moeiliker gaan dit vir ‘n verantwoordelike leierskap wees om die kwessie tot orde te roep sonder om self groot skade in die vorm van steun te ly. En hoe meer dit eskaleer, hoe meer gaan die soort reaksies kom as wat by Delmas plaasgevind het. Dan kan die fondse wat vir die nasieboukonferensie begroot is veel liewer op iets anders, soos ‘n paar beurse spandeer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.