Nuuskommentaar: ANC-koorspen

Die ANC se politieke oorheersing in Suid-Afrika is so pertinent dat die stand van die ANC al as die land se koorspen genoem is. Nou kook die kwik in die koorspen behoorlik. Dit beteken dat die prestasies wat steeds in die land behaal word, plaasvind ten spyte van, eerder as danksy die ANC.

Gistermiddag het Solidariteit die vraag: “Dink jy die ANC is in ‘n deurmekaar toestand?” op sy bakkiesblad geplaas. Baie gou was die deelname baie groot. Die antwoord: “Is die pous Rooms?” som die grootste gros van reaksies die beste op. Selfs Gwede Mantashe het op TV erken sake is nie baie vars nie, maar uiteraard in die konteks om die huidige “skoonmaakproses” goed te praat.

Dit lyk egter meer na ‘n suiweringsproses in die rewolusionêre konteks as ‘n skoonmaakproses. Slegs iemand wat ‘n bietjie na die geskiedenis geloer het van die suiweringsprosesse wat gevolg het na die leierskapswisselings in die kommunistiese bewinde van die vorige eeu, met waarskynlik die Stalin-era die bloedigste, sal ‘n persepsie kan vorm van wat nou in die ANC gebeur. Nie al die wisselings was noodwendig bloedig nie, maar duidelik ingrypend.

Die geskiedenis sal eendag oordeel of dit wat die ANC nou beleef, ‘n soort vertraagde reaksie is van die Zuma-oorname tydens die Polokwane-konferensie. Zuma se oornamestrategie was immers om vir almal te beloof dat hy hul beste belang sal dien, en sy lippediens aan alles vir almal sal wees het ‘n groot bydrae daartoe gelewer dat hy in die praktyk meestal niks vir byna almal was – terwyl Nkandla as simbool verrys het vir diegene wat naby genoeg aan die president kon beweeg.

Zuma het selfs duidelike Mbeki-lojaliste soos Trevor Manuel in sleutelposte behou. Maar geleidelik het sy kornuite soos Marius Fransman en Ace Magashule se posisies in die ANC gekonsolideer geraak (hoewel Magashule nou blykbaar in onguns verval het). Zuma se eertydse imbongi, en volgens Zuma self ‘n kroonprins vir presidentskap, Julius Malema, het in onguns verval en is uiteindelik politiek en andersins vernietig.

Die term, Zumafikasie, het al meer in gebruik gekom.

Suid-Afrika het intussen ‘n liederlike ekonomiese krisis met ‘n hemelhoë werkloosheid, diepsnydende armoede en volgens die Wêreldbank die grootste inkomstegaping ter wêreld.

Die neo-apartheidswette en verbandhoudende regulasies oortref in fisiese aantal statute volgens sommige bronne die aantal apartheidswette tydens die hoogtepunt van apartheid. Die gebruik om alles vir apartheid te blameer is weer behoorlik afgestof, en so ook die mite dat die ANC in 1994 ‘n einde aan apartheid gemaak het – in werklikheid is die laaste apartheidswet ‘n paar jaar tevore geskrap en is neo-apartheid uitsluitlik vir die rekening van die ANC. Trouens, advokaat Pieter Vorster het na sy herverkiesing tot voorsitter van die AB in ‘n wydlopende toespraak onder meer gemaan teen die gebruik om apartheid eerder as die werklike oorsake te blameer.

Die beskikbare belastinggeld vloei nie net op groot skaal na die Nkandla’s van die Zuma-bewind nie, maar ook na ander lande, soos Zimbabwe en Kuba.

Zuma se skynbare geduld met die Mbeki-lojaliste is egter grootliks moontlik gemaak deur ‘n mate van selfsuiwering deur die totstandkoming van Cope. Sy vernaamste teenstanders soos Lekota, Shilowa en Smuts Ngonyama het hul hoede gevat en geloop.

Die ANC het sy gebruiklike “broad church”-strategie geloods, en Cope in effek tot splinterparty gereduseer, maar in die proses is sommer ook verseker dat heelwat kleiner partye soos die ACDP en die UDM, waarvan baie lede Cope as die nuwe hoop beskou het, liederlik by die stembus geknou is.

Dat daar iewers binne die broad church egter nog dissidente aan die wikkel is, is egter ook baie duidelik. Die Vrystaatse groep wat Ace Magashule se verkiesingskongres in die hof ter syde laat stel het, het van iewers befondsing gekry om tot in die grondwetlike hof te veg waar uiteindelik geslaag is.

Kortom, ‘n styl (dit kan kwalik ‘n strategie genoem word) om die situasie in die ANC in die Zuma-dampkring met “sjarme” en beloftes te stabiliseer, het nie goed genoeg gewerk nie. Nou. So lyk dit, word die lang messe uitgehaal en gesny.

Dit is nie proses wat oornag gaan ontvou nie. Terwyl nou met ‘n finale penneveeg met die jeugliga afgereken is, sal die proses so voltrek word dat die toekomstige slagoffers van die suiweringsproses sal hoop hulle spring die lot vry van diegene wat vroeg reeds valbyl toe gestuur is. So word voorkom dat die slagoffers hul kragte betyds konsolideer. Die nuwe SABC-raad, wanneer dit aangewys sal word, sal ‘n belangrike barometer wees oor die koers en tempo wat ingeslaan word.

Die proses om Cosatu eendragtig agter Zuma geskaar te kry, is ook reeds volstoom aan die gang en dit is ‘n ope vraag of Vavi sal oorleef.

Die ANC het sy vlag duidelik (en onnodig) gehys deur sy steun aan Zanu-PF te bevestig. Cosatu se steun het tradisioneel meer in die rigting van die MDC gestaan wat uit die Zanu-PF-vakbondwese ontstaan het. Deur Cosatu van die MDC te isoleer, word byna verseker dat die MDC dit bitter moeilik gaan vind om Mugabe sinvol uit te daag. Met Zuma-lojaliste baie stewig in Cosatu ingeweef, word boonop verseker dat Cosatu nie die MDC-roete hier sal volg nie.
Die toesmeer van die krake in die ANC beteken nie die krake is nie steeds daar nie. Of die toesmeer van die krake gaan veroorsaak dat die ANC soveel swakker in aanstaande jaar se verkiesing gaan vaar dat die ANC se oorheersing in gedrang kan kom, is nou beoordeel, onwaarskynlik. In die politiek is een dag egter soms ‘n baie lang tyd, en as die opposisiepartye nou reeds die handdoek ingooi en ophou probeer, is dit tragies.

Die ANC se strategie om sy magsoorheersing te behou – en ten opsigte van die Wes-Kaap uit te brei, berus op die volgende:
– Die ondersteuners wys te maak dat die ANC suksesvol regeer, en hiervoor is beheer oor minstens ‘n groot deel van die media, veral die SABC nodig
– Die kiesers het nog altyd gereageer op die onderliggende raskwessie, en as die ANC weer deur die moker van die rassetamboer van die verkiesing ‘n rassesensus maak, is die ANC veilig. Hiervoor moet rassepolarisasie lewend gehou word. Dit sal soos in die verlede verseker dat verdienstelike aanvalle van die opposisie op die ANC en veral Zuma as anti-swart-aanvalle deur wittes of “coconuts” afgemaak kan word.

Die een saak wat die ANC wel kan knou is ‘n werklike skeuring. Om die lang messe in te span sonder om die skeuring skielik en ingrypend te maak, is ‘n kuns, en dit gaan dus vir die volgende jaar ‘n interessant spel wees om dop te hou. En ja, diegene wat op verskillende maniere gaan probeer om die lang messe te laat glip, gaan ook bedrywig wees.
Selfs al was die ANC die beste regerende party ter wêreld, was daar geen sprake van magsbegunstiging nie en was die ouditeur-generaal en openbare beskermer nie bloot stemme in die wind nie; bly dit egter ook in beginsel verkeerd dat een party so allesoorheersend is. Trouens, die proporsionele kiesstelsel is juis ontwerp en gekies om te verseker dat geen party allesoorheersend sal wees nie. Die feit dat die kiesers anders reageer daarop toon op ernstige politieke onvolwassenheid. Dít is egter ‘n onderwerp op sy eie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

H J Bester ·

Die ANC is nie onaantasbaar nie en is daar tans net te veel aspekte wat tot sy nadeel op sy statuur kan inwerk, byvoorbeeld.

Die ontbinding van die ANC-Jeugliga asook die Limpopo Streeksliggaam van die ANC sal nie noodwendig diegene wat daardeur benadeel is se monde heeltemal snoer nie. En verder is hierdie uitgeskoptes ook nie sonder meelopers nie.

Verder sal dr Maphela Ramphele se opmars na die politieke speelveld nie ongesiens verbygaan nie. Selfs sy het ook vele kamerade uit die bevrydings-era wat haar steun en verder praat sy immers ‘n “taal” wat goed by die massas sal afgaan.

Die DA het reeds ‘n sterk ondersteuningsbasis en sal voortgaan op verder daarop te bou – veral ook met die oog op die naderende verkiesing.

Dit kan verder nie ontken word nie dat die ANC se swak regeerrekord hom stemme sal kos – opnames bewys dit reeds duidelik dat daar ‘n ontevrede stem aanwesig is.

Die ANC sal hoogs waarskynlik sy posisie as regerende party na die volgende verkiesing behou maar die opposisie-partye sal gewis beter vaar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.