Nuuskommentaar: ANC se “tweede oorgang” – Rubicon of Trasimeense Meer?

Met die onafhanklikheidswording van Ghana het sy eerste leier en Uhuru-man, Kwame Nkrumah, glo aan sy mense die volgende oorgedra: “Ontvang nou hiermee politieke vryheid, en alles sal vir julle daarby toegevoeg word.”

Vyftien jaar gelede het baie politieke wetenskaplikes uitgewys dat ‘n voormalige bevrydingsbeweging wat aan bewind kom, sowat tien jaar het waarin die skuld vir alles verkeerd loop, op die koloniale era of die vorige regering gepak kan word. Daarna weet die kiesers van beter, en verwag van die regering om dinge reg te ruk, of die kous oor die kop te kry. Omdat die derde algemene verkiesing aan die einde van die tien jaar plaasvind, het so ‘n bewind ongeveer vyftien jaar grasie voor die kiesers hom op sy eie prestasie by die stembus beoordeel.

Weens ‘n verskeidenheid faktore loop die ANC nie werklik dieselfde gevaar om binne die afsienbare toekom die bewind kwyt te wees nie, maar die verdeeldheid binne die ANC is tekenend daarvan dat die ANC se kapitaal om die vorige regering te blameer, aan die opraak is.

Hierna sal so ‘n regering kwessies soos grondbesit opper, soos wat in Zimbabwe gebeur het, om die party se oorlewingstryd as regerende party nog ‘n paar jaar te gun. Dat die kwessie van grondhervorming op die ANC se agenda vir die week is, is dus ook geen verrassing nie. Die ANC-leierskorps weet dit stellig duidelik, en daarom pres, Jacob Zuma se eie Rubicon-toespraak gister met die opening van die ANC se beleidskongres – die fokus op die sogenaamde tweede oorgang. Politiek vryheid is in 1994 verkry, en nou sal die tweede oorgang na ekonomiese vryheid aangepak word.

Daar was in Zuma se toespraak veels te veel elemente van die gans wat die goue eiers, te slag en as smulhappies aan die kiesers voor te hou. Volgens Zuma is die ANC ‘n linkse party, met verskeie aspekte soos  meer staatskorporasies wat meer werksgeleenthede moet skep, wat sekerlik buitelandse beleggers ongemaklik sal maak.

Naby die Rubicon is die Trasimeense Meer. Na Honibal oor die Alpe getrek het, het sy manskappe die Romeinse leër wat gestuur is om hom voor te keer, teen die meer vasgedruk en met die hulp van Honibal se gevegsolifante in die meer teruggedruk. Byna die hele leër is uitgewis.

Met die soort retoriek wat die ANC nou opper, klink dit of die ANC die oorgang na ekonomiese vryheid wil oorsteek deur die gans te slag wat die goue eiers lê. Of om dit anders te stel, dit lyk of die ANC die ekonomiese Rubicon wil oorsteek en dan reguit, as gedissiplineerde mag, op die Trasimeense Meer af te stuur om te gaan verdrink.

Die blote bespreking van nasionalisering en grondhervorming sonder kompensasie, skep ‘n gevaarlike klimaat wat beleggers twee keer sal laat dink voor in SA se toekoms belê te word. Om die grondwet vir die deurvoering te wil verander, is ook gevaarlike praatjie in die ore van beleggers.

Die verskynsel dat ‘n party voor ‘n verkiesing omtrent die hemel aan sy kiesers beloof, en dan in die bewindstoel deur die realiteite tot ander insigte gedwing word, is nie uniek aan Suid-Afrika nie. ‘n Onlangse peiling het getoon dat Barack Obama se steun gedaal het en nou gelyk breek met dié van sy Republikeinse teenstander, Mitt Romney. Die ekonomiese realiteite knou Obama se kanse en baie van sy verkiesingsbeloftes het al in die stof gebyt, met slegs 30 persent was meen hy stuur die land op die regte ekonomiese paadjie.  Ook die nuutverkose Franse president, François Hollande, word sommer gou met die realiteite gekonfronteer, wat waarskynlik ook beteken hy sal baie beloftes aan sy ondersteuners nie gestand kan doen nie. Wie sal ook ooit Nelson Mandela se belofte van wasmasjiene vir almal vergeet.

Beloftes maak skuld, en daarvan het Zuma oorgenoeg gemaak. Hy weet hy sal die einde van die jaar in Bloemfontein rekenskap moet gee, en dat die lang messe reeds vir hom uit is. Populistiese praatjies mag dalk vir Zuma nog ‘n termyn besorg, maar die harde werklikhede is dat die beleid van kaderontplooiing geskrap moet word, om maar een regstellende aspek te noem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.