Nuuskommentaar: ANC-taktiek teen AfriForum: “The blame game”

Simon Riekert tydens Maandag se kranslegging van AfriForum Jeug

“Wie in glashuise woon, moenie met boemerangs gooi nie,” … of so iets. Dit is ‘n les wat die ANC nog nie geleer het nie, en het nou opnuut gemanifesteer – eers toe AfriForum as dislojaal teenoor die land blameer is oor die artikel deur ‘n BBC-redakteur oor die vraag of wit mense nog ‘n plek in die land het, en toe oor AfriForum Jeug se 30-jarige herdenking van die Kerkstraat-bomontploffing. Die ANC is veral ongelukkig omdat na die aanval as ‘n daad van terreur verwys is.

Die uitdrukking, “playing the blame game” kom sterk na vore.

Dit was onlangs baie duidelik dat die ANC by gebrek aan prestasies die komende verkiesing (weer) gaan aandurf deur apartheid vir alles wat onlekker is te blameer, en so daarvan opnuut ‘n rassesensus te probeer maak. Daar was ‘n geskarrel toe minister Trevor Manuel in ‘n bepaalde konteks gesê het apartheid kan nie vir hedendaagse korrupsie en ‘n paar ander goggas blameer word nie.

Om die “blame game” te speel ontlok ‘n komplekse sosio-politieke dinamika wat uitstekend saamgevat word deur Nathanael Fast in die Harvard Business Review: “Playing the blame game never works. A deep set of research shows that people who blame others for their mistakes lose status, learn less, and perform worse relative to those who own up to their mistakes. Research also shows that the same applies for organizations. Groups and organizations with a rampant culture of blame have a serious disadvantage when it comes to creativity, learning, innovation, and productive risk-taking.”

Sy volledige artikel kan hier gelees word.

In reaksie op AfriForum se herdenking van die Kerkstraat-bomontploffing, en ook ander terreuraanvalle tussen 1980 en 1994 (wat nie almal wit was nie), het die ANC se woordvoerder, Keith Khosa gesê dit is “ongelukkig” dat AfriForum “die ANC” terroriste noem.

Die Oxford Dictionary definieer politieke terrorisme soos volg: “The unlawful use of force or violence against persons or property in order to coerce or intimidate a government or the civilian population in furtherance of political or social objectives.”

Sou iemand oor die “unlawful” in hierdie definisie struikel – daar is nog meer as ‘n 100 erkende definisies. Wanneer gewone terrorisme gedefinieer word, word die daad self, en nie die onderliggende redes nie gemeet, en dan is ‘n daar van terreur ‘n daad van terreur gepleeg deur die sogenaamde “common terrorist.”

Die internasionale geregshof definieer terrorisme soos volg: “Terrorism is destruction of people or property by people not acting on behalf of an established government for the purpose of redressing a real or imaginary injustice attributed to an established government and aimed directly or indirectly at an established government.

As die ANC gemeen het sy eie reaksie om AfriForum te diskrediteer sou slaag, het hy dit hoogstens ten dele reg in ‘n hoogs gepolariseerde samelewing. By ander mense pas Nathanael Fast se opsomming van “the blame game” hierbo soos ‘n handskoen.

–       Verloor status: Dit blyk veral uit Zelda Jongbloed se rubriek in Rapport onder die opskrif “Zuma se uurglas dolleeg” waarin sy onder meer skryf: “…vir miljoene het die demokrasie naas stemreg en vryheid niks anders gebring nie, terwyl hulle toekyk hoe die land se bronne vermors en gesteel word.”

–       Leer minder: Daar was al soveel lesse oor Suid-Afrika se mislukte munisipaliteite en tog wil die regering net meer funksies na hierdie vlak afwentel, waaronder nou ook die toestaan van handelslisensies. Mnr. Pieter Groenewald, LP van die VF+ sê minister Richard Baloyi mislei die publiek deur te vertel hoe wonderlik dit op plaaslike regeringsvlak gaan. “Plaaslike regerings in Suid-Afrika is in ‘n krisis van korrupsie en wanbestuur en die honderde protesoptogte regoor die land getuig van die publiek se oplaaiende verset teen swak dienslewering,” aldus Groenewald.

–       Presteer swakker: Suid-Afrika vaar al swakker op indekse soos die korrupsiepersepsie-indeks, die persvryheidsindeks, die geweldsindeks, die indeks vir mislukte state en die innovasie-indeks.

In vanoggend se hoofartikel van Volksblad, wat die kwessie onder die loep neem, word onder meer die volgende gestel: AfriForum se bydrae laat die aktuele kollig (on)regstreeks val op seerplekke in die Suid-Afrikaanse samelewing – geweldsmisdaad (spesifiek plaasmoorde), armoede (die armblanke-kwessie) en die migrasie van Suid-Afrikaners. Ernst Roets, AfriForum-adjunkhoof, het gesê met dié bydrae wou die organisasie die ANC in verleentheid stel om sodoende die bewindsparty tot optrede te dwing.

Hiermee het die ANC nie juis hulp nodig nie – hy is ’n kampioen daarmee om homself – en Suid-Afrika – in die verleentheid te bring. Net dikvelligheid verhinder dat die party besef en erken watter skade Nkandla, Guptagate, die muilbandwet en vele ander skandes die afgelope meer as ’n dekade sy beeld én die land s’n berokken. Mthembu tas mis as hy wil weet hoe ’n mens jou land só kan slegsê. Eintlik lig AfriForum net die realiteite in Suid-Afrika onder ANC-bewind uit.”

Dit was ook die strekking van Maroela Media se nuuskommentaar  gister waarin ‘n onderskeid getref word tussen lojaliteit aan ‘n land en die demokratiese reg om ‘n politieke party se optredes onder die vergrootglas te plaas.

Die ANC se beleid wat tot die DKD – Solidariteit-saak aanleiding gegee het trap diep spore en word lomp met foefies gedokter – en ja, Solidariteit van politiekery beskuldig!

In ‘n artikel probeer Phillip Dexter Peter Marais se Bruin Belangebeweging (BBB) verdag maak, deur dit as strydig met die letter en gees van die grondwet te beskryf. Hy versuim om te meld dat die ANC klaarblyklik ‘n ander grondwet as die Suid-Afrikaanse raadpleeg wanneer die ANC op grond van ras teen mense diskrimineer en marginaliseer.

“Wie in glashuise woon …”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jayare ·

Volgens die definisies kan ons dus al die “vreedsame” betogings ook as terorisme klisifiseer?

herrie ·

‘n Mens moet darem die vertrekpunt ook in gedagte hou – dat die woord ‘n “voortsetting” is van die woord “terrify.”
Jammer, ek vergeet soms dat nie almal meer soos ‘n paar dekades gelede so opgeskerp is oor die konsep nie. Baie dinge kom ook nog ter sprake soos dat een se terroris ‘n ander se vryheidsvegter is, en dat sommiges glo aan die doel heilig die middele. Baie Suid-Afrikaners is in beginsel simpatiek met die saak van die Koerde, maar een v hul meer aktiewe organisasies, die PKK, is internasionaal, ook deur die VSA, tot terreurorganisasie verklaar omdat hulle van terrorisme gebruik maak.
Verwant die “ander saak” van Robert McBride wat ‘n koerant wou dagvaar omdat dié hom ‘n moordenaar genoem het weens die McGoo’s-skietery. McBride het meneen hy het opgehou om ‘n moordenaar te wees toe hy vrywaring gekry het. Die hof het eger bevind dit verander nie aan sy “status” as moordenaar nie.
Herman

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.