Nuuskommentaar: ANC-tonnelvisie op die toekoms

“Die toekoms is nie meer wat dit was nie,” haal prof. Jonathan Jansen toekomskundiges vandag in sy rubriek in Die Burger aan.

Toekomskundiges is nie bloot eietydse kristalbalkykers nie. Dit is ‘n variasie van die sogenaamde behaviouraliste  wat alles denkbaar verreken om die gedrag en optredes van leiers te probeer bepaal, en daarvolgens te beplan. Behaviouraliste werk byvoorbeeld volstoom om te probeer bepaal hoe die Siriese leier, Bashar al Assad op die internasionale vredespoging sal reageer.

Selfs die irrasionele denkpatrone van mense soos Assad, Ghaddafi, Mugabe en die Noord-Koreaanse Kim-dinastie word verreken saam met ander harde werklikhede. Die metodologie is minder eksak as natuurwetenskap, sosiale wetenskap en politieke wetenskap, maar, om dit in Akademikaans uit te druk, dié wetenskappe dien eerder as inputs in ‘n stelsel waar inligting aan die hand van faktore geanaliseer word om verskillende moontlike uitkomste te postuleer. Of in gewone Afrikaans – jy stamp aan die toring wat van boublokkies gebou is, en die ivoortorinkie neuk om.

In ‘n mate doen elke individu en gemeenskap dit ook onbewustelik self, met die uitkomste van optimiste en pessimiste wat wêrelde van mekaar verskil.

Ongelukkig is die regering self die grootste oorsaak van pessimisme in hierdie land. Jansen beskryf dit so: “Ons raak so vasgevang in die huidige gemors – korrupte politici, ’n mislukkende skoolstelsel, hoë werkloosheidsvlakke – dat ons nie daarin slaag om die toekoms te antisipeer nie.”

Mense reageer verskillend wanneer hulle sommetjies tot swartgallige somtotale vir die toekoms oplewer. Volstruispolitiek, soos om gewoon nie meer koerant te lees nie, wat natuurlik wolhaarstories laat gedy, emigreer, ‘n soort opium vir die siel soek deur by hêppie klêppie-kerke aan te sluit, of sake vir hulself probeer vereenvoudig deur godsdienstig in benouende fundamentalisme te verval, optimisme te bou op ‘n irrasionele persoonlikheidskultus van politieke leiers waar realisme min of geen rol speel nie, en vele meer. Al sal alle stoere kerkvaders nie daarmee saamstem nie, is hêppie klêppie-kerkbywoning beter as ‘n scenario van kerke wat leeg, en die Willeboer wat volloop. Soggens vertel die ritse gevalle lamppale en omheinings wat oornag inrybesoekers ontvang het van dié sosiale impak.

Volstruispolitiek by politici in Suid-Afrika hou toekomskundiges ook goed besig.

Wanneer ‘n president of kabinetslid ingesweer word, verklaar die individu sy verbintenis tot die grondwet. Teen dié agtergrond is dit ontstemmend dat pres. Jacob Zuma en meer en meer ministers uitlatings maak wat daarop neerkom dat die grondwetlike demokrasie deur een van meerderheidswil vervang word. Dit is ‘n stelsel wat in die politieke wetenskap as die diktatuur van die meerderheid bekend staan.

Dié pogings om volstruispolitiek te probeer afforseer is die gevolg van, om soos dr. Jakes Gerwel dit al in sy Rapport-rubriek beskryf het, vrot regering te wees. Die rissiepit, Rhoda Kadalie, seil so onder die ANC in dat een van haar aanhangers, in reaksie op een van haar rubrieke, na die ANC as “trogvreters” verwys.

Onder die jongste voorbeelde van grondwetlike volstruispolitiek tel dr. Blade Nzimande, pikant in die lig daarvan dat hy self leier van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party is, en ‘n ideologie verteenwoordig met geen aanvaarde demokratiese sentimente nie. Trouens, Nzimande se aanval op grondwetlike demokrasie strek wyer as net ‘n aanval op die grondwetlike bedeling. Hy het sy mond ook uitgespoel oor ander kernelemente van ‘n demokratiese samelewing, naamlik die media, opposisiepartye, die howe en burgerlike samelewingsinstellings. In ‘n samelewing waar grondwetlike demokrasie gevestig is, sou hierdie minagting van sy eed van getrouheid aan die grondwet enige minister die trekpas besorg het. Maar Nzimande adem die gees van die ANC en sy uitspraak is deel van ‘n groeiende frustrasie dat die grondwet – wat met sy gebreke en al – die ANC darem in ‘n mate inperk in sy vermoë om te maak en breek soos dit lus het.

Die aanvalle op die sakelui se kritiek op die ANC is net nog ‘n simptoom van onbegrip oor wat grondwetlik demokrasie behels. Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het so ver gegaan om in ‘n meningsartikel te maan teen die invloed op die land se kredietwaardigheid as die publiek in hul uitsprake die indruk skep dat die land deur ‘n narre regeer word. Dié toekomskundige gevolgtrekking mag geldig wees, maar die openbare menings het ook nie in ‘n lugleegte gevorm nie. Dis al ou nuus, maar bisarre godsdiensuitsprake, skynbare onbegrip oor die skeiding van mag op die hoogste vlak, poligamie deur die president, nuus oor korrupsie en nogmaals korrupsie sodat die Openbare Beskermer waarsku die land se posisie hieroor balanseer op ‘n naaldpunt, pleknaamveranderings in weerwil van die skikking waarop die grondwet gebaseer is, minagting van die hof oor uitsprake teen bisarre “affirmative action”-aanstellings, die aanstelling van kommuniste in sleutelkabinetsportefeuljes soos Finansies, Handel- en Nywerheid, Landbou en Hoër Onderwys om maar enkeles te noem, aanvalle op die grondwet en die regbank, en die vryheid van die media, is die eintlike sondebokke vir die narrebeeld.

In enige demokrasie, laat staan nog ‘n grondwetlike demokrasie wat minderheidsregte koester, word in algemene belang geregeer, nie in belang van die meerderheid, en veral nie die belang van die meerderheid se elite nie.

As iemand hom as ‘n nar opdollie, kan hy mos nie kla as hy vir een aangesien word nie.

Wie dorings saai, laat toekomskundiges sien hoe distels gemaai gaan word.

Daar is al talle pogings aangewend om ‘n meer optimistiese beeld vir die toekoms te skep. Op die kleiner skaal het koerante al goeie nuusberigte gedra en dit dan met spesiale, glimlaggende simbole gemerk. Dié praktyk het in die stof gebyt. Op ‘n groter skaal het al wat leef en beef saamgespan om ‘n optimistiese euforie rondom die aanbied van die wêreldbeker-sokkertoernooi te skep. Soos sielkundiges en sosioloë gemaan het (maar verswyg is), het die afloop van die toernooi ‘n baie diep post-euforiese trauma of depressie opgelewer en vandag brand die townships weer.

Kristalbalkykery en die kerk strook nie. Toekomskundiges neig om godsdiens in sy manifestasie op aarde as net nog ‘n input te verreken. Kerke het weer die taak om hul lidmate vir die toekoms, veral die hiernamaals, maar ook toerus om die trauma op aarde voorbereid te oorleef. Wat kerke nie is nie, is verlengstukke van die regering om brouwerk van die regering oor verdwaalde moraliteit te kom opfieks nie. Nee, die regering het self ‘n diep verantwoordelikheid oor hoe dit as leiers die voorbeeld stel. Om in kavalkades van blouligbendes te skuil, om in ivoortorings te woon, om blatante nepotisme te stook, aandele in korrupsie te hê, om  owerspel as verweer in ‘n verkragtingsaak aan te voer, poligamie, manipulasie van die regbank, ministers wat openlik saamwoon, ‘n regering wat aborsies op aanvraag wettig – stel nie die regte voorbeeld nie. Om dan die kerke te taak om die brouwerk te gaan regmaak wanneer die samelewing chaotiese en wettelose kenmerke begin toon, is pikant.

Dan is die toekoms nie meer wat dit was nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae