Nuuskommentaar: Apartheid en woede

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma het strome erge kritiek ontlok toe hy in sy toespraak voor die huis van tradisionele leiers gesê het Suid-Afrika is nie ‘n gewelddadige land nie. Min rubrieke het op die bakkiesblaaie waar dit gedra is soveel leserskritiek ontlok as rubrieke wat hieroor gehandel het. Kortom, vir baie lesers was dit duidelik die laaste strooi. Kru taal is in oordaad ingespan.

Die presidensie se reaksie by monde van Mac Maharaj was heel voorspelbaar… dit is apartheid se skuld. Die president het naamlik in sy toespraak ook weer die skuld vir die gewelddadige elemente in die samelewing voor die deur van apartheid gelê. Dit is ‘n ou laai om kritiek op vreemde uitsprake bloot voor die deur van apartheid te lê.

Selfs by die Stellenbosse Woordfees is die kwessie weer aan die bod gestel – moet apartheid nog oral opgerakel word, of moet die land aanbeweeg? Die meerderheid toeskouers het gevoel die storie moet gelos word en daar moet aanbeweeg word; ander het gevoel dit sal, en moet nog lank deel van die openbare gesprek weet sodat die slagoffers die trauma kan verwerk.

Carel Boshoff IV het die kwessie waarskynlik die raakste saamgevat… “Die geskiedenis en verlede word soms as morele sambok gebruik waarvoor mense moeg is. Ons moet mekaar nie kasty van die morele hoë grond nie”. Hieroor is hy weer deur Sonja Loots in haar rubriek in Rapport neerhalend  gekritiseer.

Die begrip, apartheid, beteken ook duidelik vir verskillende mense verskillende dinge. Die een groep beperk dit tot die beleidsraamwerk van die beleid van afsonderlike ontwikkeling, ‘n beleid wat formeel van 1984 tot ongeveer 1989 gegeld het, met ‘n rits wette, bekend as die sogenaamde klein-apartheidswette waarvan die laaste vanjaar 21 jaar gelede uit die wetboek verwyder is. Ander voer dit selfs eeue terug, soos die motiverings vir straatnaamveranderings, soos Andries Pretoriusstraat “om die land van sy apartheidsherinneringe te stroop.”

Die verskille in begrip het ook tot die kerktwis in die Hervormde Kerk bygedra, met een groep wat die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke se begrip sito sito wou inspan, en ander wat ‘n meer juridies-kliniese benadering wou volg (soos dat apartheid selfs nooit op die wetboek was nie). ‘n Groot struikelblok was egter die feit dat baie voel hul ouers (en soms hulle self) het nooit iets anders as net die beste bedoelings gehad nie. Die bewoording moes uiteindelik so aangepas word om die kwessie van (onbedoelde) gevolge duideliker te stel.

‘n Goeie voorbeeld van die begripsverwarring is dat daar vandag wêreldwyd optogte gehou word wat as “Palesyns-apartheidsdag” bekend staan. Die doel is om die ooreenkomste tussen die Israelse beleid teenoor die Palestyne en apartheid te beklemtoon. Suiwer staatkundig is daar egter ‘n veel groter ooreenkoms tussen die Palestynse verklaring van ‘n eie tuisland en afsonderlike ontwikkeling as Israel se beleid.

Dit is ook nie so maklik om presies na te volg tot wanneer in die geskiedenis die spore van hetsy klein apartheid of afsonderlike ontwikkeling teruggevoer kan word nie. Hoe ouer die Afrikaanse bron oor Bloedrivier, hoe meer bruin mense en Zoeloe-skerpskutters van Alexander Biggar was daar in die laer van Bloedrivier, tot daar amper net soveel nie-blankes in die laer was as blankes. Oor die jare het die getal nie-blankes in die laer al minder, en hul rolle al kleiner geword, totdat ‘n teologiese professor in ‘n kerkblad die Afrikaners uittrap omdat hulle nie meer hul geskiedenis ken nie, en dan self in die artikel oor Bloedrivier niks skryf oor nie-blanke teenwoordigheid nie, maar wel van die vroue en kinders in die laer skryf – terwyl Pretorius self geen vroue en kinders op die strafekspedisie laat saamgaan het nie.

Vandag leer skoolgeskiedenisboeke weer onjuis van die beleid van apartheid wat tot 1994 gegeld het (die laaste apartheidswet is in 1991 geskrap), terwyl daar nou volgens verskeie bronne meer rasgebaseerde wette en witskrifte op die wetboek is as wat die geval op die hoogtepunt van apartheid was.

Daar kan net een stel feite van die geskiedenis wees, maar talle interpretasies, en nog meer persepsies. Die TLU-SA het onlangs onder die titel, Die groot leuen oor grondbesit,  kwaai gereageer omdat die minister van landelike ontwikkeling miljoene rande wil aanwend om die geskiedenis oor grondbesit te herskryf – ‘n geskiedenis wat reeds behoorlik deur gerekende historici opgeteken is, maar nie met die persepsies strook wat in die Matie, Charl Swart se meestersverhandeling aangetoon word nie. Daarvolgens glo meer as tagtig persent, en ‘n groeiende aantal swart mense, dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Die kritiek waaronder dr. Pieter Mulder vir sy geskiedenislessie in die parlement, ook in ‘n DA-verklaring, deurgeloop het toon hoe gevestig hierdie persepsie is. Onlangs het pres. Jacob Zuma ook in ‘n toespraak gesê dat die meerderheid grond in swart besit in die droër, onvrugbaarder dele van die land geleë is – iets wat glad nie met die kaarte wat die reënvalisotope aandui, strook nie.

Tim du Plessis skryf in Sondag se Rapport ‘n deeglike rubriek oor die woede wat in die land vaardig is. Die titel, SA se mense word al kwater impliseer dat die huidige “proses” nie die land na vrede voer nie, maar die teenoorgestelde uitwerking het.

Daar is al intens debat gevoer oor kwessies soos:

  • Is dit regverdig om ‘n jong geslag steeds te gésel vir iets wat voor hul geboorte gebeur het?
  • Maak dit sin om mense wat net die beste bedoelings gehad het en reeds om verskoning gevra het, te bly gésel en sommer ook hul kinders en kleinkinders? In die proses word die land van sy beste ekonomiese stimulusse gestroop. (Daar was selfs planne om wit gestremdes van die bepalings van “regstellende aksie” te skrap).
  • Wat was die bedoeling van die waarheids- en versoeningskommissie as dit nie ook tot versoening gelei het nie? Daar  is nou selfs binne die Calvinistiese raamwerk debat oor kwessies soos versoening, vergifnis en vergeet.
  • Is dit nodig om neo-apartheid in te span om die nalatenskap van apartheid uit te wis?
  • Watter vertroue skep dit in die grondwet as praktyke soos die plek- en straatnaamkwessie nie die gees van die Vredesakkoord adem nie?

Op elke terrein is daar genoeg werklike oorsake van konflik, en dit is duidelik nie nog nodig om foutiewe persepsies aan die lewe te hou om die vuur nog bykomend te stook nie. Regeringsmislukkings, wat wyle prof Jakes Gerwel na ‘n “vrot regering” herlei het, kan darem nie altyd voor die deur van apartheid afgelaai word, en die lyke weer gegésel word nie.

Internasionaal is daar ‘n nuwe politieke korrektheid aan die ontwikkel dat (selfs goedbedoelende) blankes swart mense eintlik verneder om “namens” swart mense te besluit waaroor swart mense verontreg behoort te voel. Dit manifesteer onder meer in die konvensionele argeologie waar ergerlik gereageer word op die eindelose weergawes van pre-Viking en pre-Columbiaanse transatlantiese kontak wat met die Indiane sou plaasgevind het – asof die inheemse volke nie self die kulture kon ontwikkel wat groot bouwerke, sterrekunde en die Majas se kalender kon lewer nie. Om ‘n ander (byvoorbeeld die blankes) vir eie mislukkings te blameer, stroop die mens ook van sy trots dat hy kan uitpresteer.

Hierdie soort middelpuntvliedende en middelpuntsoekende kragte is veronderstel om in ‘n land se staatkundige bestel – en dus grondwet, gestalte te vind. Daar is egter kennelik uiteenlopende bestemmingspersepsies. In die middelgrond is daar self uiteenlopende menings oor hoe ver minderheidsregte gevoer kan, en behoort te word. En ja, Suid-Afrika se grondwet maak as mens mooi soek ook daarvoor voorsiening, maar is grootliks “ongeaktiveer” of word selfs blatant gerysmier, soos die talle klagtes oor die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe toon. Heterogene lande soos België, Nigerië, Indië, Nieu-Seeland, Kanada en vele meer ondervang heterogeniteit staatkundig. Hier groei die steun van burgerlike instellings soos Afriforum en Solidariteit wat onder meer hofsake inspan om die diskriminerende praktyke te stuit, en die bestaande kultuurregte te bestendig – en word gereeld daarvoor as regs-rassisties beskryf. Aksies vir die opneem van grondwetlike en erkende volkeregtelike  minderheidsregte word eenvoudig te maklik gerysmier deur dit aan apartheid (wat ook al daarmee bedoel word) te koppel.

Ook in die middelgrond is daar groepe wat die fokus eerder laat val op ‘n diverse gemeenskap wat in die gees van (staatkundige) eenheid harmonie nastreef, en voorbeelde soos Brasilië wat genoem word – wat natuurlik ook nie so ‘n perfekte voorbeeld is nie. Soms is die beskerming van minderhede nie voldoende nie – die naweek is berig word sowat 175 huise, 20 winkels en twee kerke van die Christenbuurt in Pakistan se Lahore afgebrand is. En nee, die Koran “magtig” dit nie.

‘n Belangrike beginpunt sal wees om op te hou om die geskiedenis as propaganda-instrument in te span. Maar daarna is daar nog harde werk.

Allermins moet die blanke / Afrikaner as die “gemeenskaplike vyand” gebraai word om “tribalism” te probeer besweer. In Kenia ontbreek die blankes as beduidende faktor, en die pas afgelope presidentsverkiesing het weer getoon hoekom dit belangrik is dat diversiteit ook behoorlik bestuur en ondervang moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SANETTE HENNING ·

Hoekom apartheid genade hoe lank nog die wat so moor en verkrag is algemeen jong mense wat die kans gehad of nog steeds het om uit te styg maar nee plaas hy vir n slag werkloosheid en swak gereg toepassing die skuld gee ONS HET MOS N VOLSTRUIS REGERING NABY STANDERTON IS 3 MAART N PLAASAANVAL GEWEES OP 2 BEJAARDES POLISIE HET LANK GENEEM OM NET FOON TE ANTWOORD TOE HELIKOPTER VERSOEK WORD IS DIT BUITE WERKING BOERE MOET SELF MISDADIGERS SOEK EN AS HUL GEVIND WORD SKEND HUL HUL MENSE REGTE IS DIT N REGVERDIGE REGERING WAT TOESIEN DAT WETTE TOEGEPAS WORD DIS NIE NET BLANK WAT GATVOL IS VIR GEWELD EN SWAK POLISIE NIE NEE DIS BLANK SWART IENDIERS EN KLEURLINGE AS ONS DAN NIE SO GEWELDADIGE LAND IS NIE HOEKOM SPANDEER ZUMA MILJOENE OM SY PRIVAAT WONING TE BEVEILIG HY IS BELAGLIK

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.