Nuuskommentaar: Apartheid se skuld

Pres. Jacob Zuma het Woensdagmiddag in Kaapstad met ‘n paar matrikulante gesels ter voorbereiding vir sy Staatsrede Foto: GCIS/SAPA

Pres. Jacob Zuma het verlede week weer, soos voorheen, en politieke leiers voor hom, apartheid geblameer  vir iets wat nou onvars is. Dié keer was dit die huidige geweld wat voor apartheid se deur gelê is.

Reg of verkeerd, dié praktyk belemmer die “normalisering” van die politieke omgewing waarin ‘n grondwetlike demokrasie behoorlik gedy. Daar sal altyd die vermoede wees dat dit as kapstok gebruik word om nie politieke verantwoordbaarheid te neem nie, wat die essensie van ‘n grondwetlike demokrasie is.

Daar is inderdaad twee perspektiewe. ‘n Konferensie  is onlangs by Kovsies gehou waar oorerflikheid van armoede, of te wel die verbreking van die armoedesiklus, ‘n tema was. Dit is egter nie net ‘n Suid-Afrikaanse probleem nie. Dwars oor die wêreld is individue van die jonger geslag vasgevang in hindernisse van hul ouers se armoede om volgens hul potensiaal te kan uitstyg. Die geld vir verdere studies bestaan dikwels net nie. Of die maniere om toegang daartoe te kry, ontbreek eenvoudig. Die dun lagie wat wel om ‘n verskeidenheid redes daarin slaag om uit te breek is dikwels erg dun. Daarteenoor kan die opvolggeslag van ‘n welvarender klas makliker die geleerdheid bekom, en omdat dosente se kinders dikwels gratis kan studeer, raak toegang tot geleerdheid dikwels “oorerflik” – en gepaard met ‘n tikkie nepotisme hier en daar (kyk maar na ‘n paar universiteite se elektroniese telefoonlyste), soms selfs ‘n bietjie eksklusief.

Benewens armoede is daar ook verskillende redes hoekom sekere gemeenskappe dit moeiliker vind om uit te styg uit armoede. Internasionaal is daar volop voorbeelde van hoe minderhede in lande se oorspronklike woongebiede byvoorbeeld op ryk olievelde geleë is, maar daardie rykdomme word gewoon onder hul voete uit onttrek en vir die lande se meerderhede ingepomp, terwyl die minderhede arm en onderdruk bly.

In sommige lande blyk dit dat die kultuur en selfs godsdiens van naasliggende gemeenskappe ‘n impak het op daardie gemeenskappe se vermoë om uit te styg. Verwerf die een gemeenskap groter algemene welvaart as die buurgemeenskap, word die fout dikwels oral behalwe as die werklike gesoek.

Die probleem kom wanneer te veel energie op die oorsake spandeer word, en te min op die oplos daarvan – of as die oorsake verkeerd ontleed is en die oplossings dan misplaas is. Hierdie “oplossings” ontketen dan ‘n kettingreaksie wat die kragte wat die ekonomie moet dryf ontmagtig word, en die geheel daaronder ly.

Anders as wat gereeld voorgehou word, het apartheid nie eers met die 1994-grondwet tot ‘n einde gekom nie. Die laaste apartheidswet, dié Bevolkingsregstrasiewet wat Suid-Afrikaners op grond van ras geklassifiseer het, is in 1991 herroep – dus sowat 22 jaar gelede.

Maar dit het slegs kortstondig tot die irrelevansie van ‘n persoon se ras gelei. Vandag is ‘n persoon se ras weer bykans alles bepalend – of die persoon ‘n beurs gaan kry, of hy toegang tot mediese studie gaan kry, of hy werk gaan kry, of sy eie onderneming kontrakte gaan kry …

Op elke sensusvorm moet mense steeds aandui tot watter ras hulle behoort – en daar is nie ‘n blokkie om “nie van toepassing” in te vul nie.

Dit is nie net wit mense wat benadeel word nie, maar bruin mense self wat aan nasionale raskriteria gemeet word om hul kwota te bepaal. Ook Asiërs voel vervreemd in hul geboorteland.

Die rasgedetermineerdheid blyk nou ook uit gereelde gevalle waar wetgewing voorberei word wat byvoorbeeld ook wit gestremdes van die grondwetlike bepaling waarop regstellende aksie geskoei is, wil vervreem. Onlangse syfers uit die Oos-Vrystaat dui daarop dat munisipaliteite hulle eenvoudig nie aan kwotas steur nie, en daar is min rede om te glo daar is ander waar die minderheidsgemeenskappe nie erg onderverteenwoordig is nie. Die masker van die bevoordeling van African Africans, skynbaar ad infinitum, is lankal afgeruk.

Of dit nou regstellende optrede, “affirmative action” (wat nié dieselfde as regstellende optrede is nie), transformasie of bemagtiging genoem word, die feit bly dat die nuwe bedeling in ‘n rasbenepenheid vasgevang is en dit dan (darem al hoe minder) nie-rassigheid noem.

Verskillende mates word vir ooreenstemmende kwessies aangewend. Die koue skouer wat die gedagte aan ‘n eie Afrikaanse, Christelike universiteit kry sodat selfs Sol Tech se grondwetlikheid bevraagteken is, staan in skrille kontras van die aanprysings wat die nuutgestigte Arabiese Islamitiese Instituut by die minister van Hoër Onderwys, comrade Blade Nzimande gekry het.

Die staatsrede van Zuma verlede week was ‘n goeie voorbeeld van waar slegs een bevolkingsgroep, die African Africans, as relevant uitgelig is – onder meer met die verwysings na spesiale gedenkgeleenthede wat opduik. Die enigste uitsondering was die opening wat vir Koisan-grondeise gelaat gaan word, maar onderhewig aan streng voorwaardes en ondersoeke.

Dié staatsrede is wyd erg gestriem, of minstens as vaag en oninspirerend beskryf, met min aanduidings dat dit afgestem is om oplossingsgerig te wees. En ‘n dag later kry apartheid weer die skuld.

Om ‘n land te polariseer, en die individue se Godgegewe talente onder ‘n maatemmer te gaan indwing sodat die groeikragte nie losgelaat kan word nie, is nié die manier om ‘n nie-rassige samelewing te bou nie.

Dit sal al ‘n interessante, maar uiters politieke inkorrekte studie wees om ‘n vergelykende studie te doen tussen die ANC se rasbenepenheid en die verkwaliking van die blanke, en die Nazi’s se beheptheid met die Ariërs en die verkwaliking van die Jode. Al hoe meer word op die parallelle tussen die huidige opvattings en die idees hier en van  Franz Fanon gewys.

Daar het al ‘n kultuur van spottery ontwikkel oor die blamering van apartheid. Toe ‘n meteoor oor Rusland ontplof het skryf ‘n grapjas dadelik na aanleiding van Zuma se opmerking, dat dit ook apartheid se skuld moes wees. Op ‘n ernstiger noot het ‘n ander wat kommentaar gelewer het, geskryf die land se probleme kan wel aan apartheid toegeskryf word, maar die apartheid wat die ANC toepas.

Dit sal ook interessant wees om te sien in hoe ‘n mate dr. Mamphela Ramphele met haar politiek aspirasies, gegewe haar geskiedenis met Steve Biko en die Swart Bewussyn, die land kan help om op ‘n koers te kom waar ‘n persoon se ras nie sy welvaart van die wieg tot die graf bepaal, en dit nog boonop oorerflik maak nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Pieter Reyneke ·

Zuma is natuurlik korrek. Die geweld kultuur se oorsprong is uit die die tyd van apartheid, dalk voor die tyd reeds in plek as ek aan Shaka se geskiedenis dink. Ek noem hierdie geweld kultuur uit die apartheid-era, die Mandela Nalatenskap. mandela het sover my kennis strek nog nooit geweld afgsweer nie om politieke oogmerke te bereik, In die tydperk, 1976 tot lank na 1994 het die ANC aktief sy opponente vermoor. Dink maar aan die halssnoer-moorde om mense te intimindeer. lees ook or die konsep “People’s War” en dan sal enige persoon met een breinsel verstaan dat Mnr Zuma koreek is. Hy moet egter net erken dat die ANC die oorsaak van die probleem is. Mandela het MK teen die wil van die politieke leierskap gestig. Reise onderneem om die geweld te propageer en buitelandse ondersteuning te verkry. Mandela is dus die Vader van die geweld kultuur en Winnie die Moeder.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.