Nuuskommentaar: As die Grondwet struikel

Wanneer een van die liggame struikel, wat ingevolge die Grondwet ingestel is om oor die Grondwet te waak, dan struikel die Grondwet self. Dit dui immers ook daarop dat die Grondwet self ‘n leemte bevat wat die voorkoming en hantering van so ‘n krisis doeltreffend moes hanteer.

In hoofstuk nege van die Grondwet word die liggame gelys wat volgens die opskrif van die hoofstuk grondwetlike demokrasie moet ondersteun. Hulle is die Openbare Beskermer, die Menseregtekommissie, die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van die Regte van Kulturele, Godsdiens en Taalgemeenskappe, die Kommissie vir Geslagsgelykheid, die ouditeur-generaal en die Onafhanklike Verkiesingskommissie.

In ‘n heterogene, en volgens peilings boonop erg gepolariseerde gemeenskap, sou verwag word dat die kommissie wat veronderstel is om na die regte van minderhede om te sien, baie sigbaar en sterk sou optree. Weens die lang naam van hierdie kommissie, word gewoonlik kortweg daarna as die artikel 185-kommissie verwys.

Die kommissie was egter teenoor die ander kommissies ‘n laatkommer, en die wetgewing om dit in te stel is so deur die ANC gekaap dat dit nou ook soms die nasiebou-kommissie genoem word. Dit is vanuit die staanspoor deur onlogiese aanstellings van veral die opeenvolgende voorsitters in onvermoë, en ook grootliks onwilligheid, gedompel om sy grondwetlike opdrag uit te voer.

Die blote grondwetlike rol van hierdie soort liggame veroorsaak in baie lande spanning tussen regerende partye wat deur meerderheidswil in meerderheidsbelang wil regeer, en die liggame wat moet waak teen die ontstaan van diktature van die meerderheid. Onlangse uitsprake van pres. Jacob Zuma oor hoe hy die rol van die howe beskou, maak van Suid-Afrika die handboekgeval.

Presies hoe ‘n groot rol aanstellings van voorsitters kan speel, blyk uit die aanstelling van Lawrence Mushwana as vorige Openbare Beskermer en regstreeks daarna, as voorsitter van die Menseregtekommissie. Onder Mushawana was die Openbare Beskermer flink op pad om die reputasie van net nog ‘n mislukte ANC-verlengstuk te ontwikkel – ‘n beeld wat baie vinnig deur sy opvolger, Thuli Madonsela omgekeer is.

Die artikel 185-kommissie het te midde van die toenemende druk op minderheidsregte egter daarin geslaag om stiller as ‘n muis met pantoffels te wees. Boonop, toe dit wél media-aandag trek, was dit om al die verkeerde redes.

Om ‘n Grondwet te laat slaag, is dit ook nodig dat ‘n paar ander sake in plek moet wees, soos die onafhanklike en bekwame regbank, die media en burgerlike samelewingstrukture. Grondwetkenners is dit eens dat laasgenoemde in Suid-Afrika nog baie onderontwikkel is, en onder sommige gemeenskappe nog ontbreek.

‘n Uitsondering is AfriForum, wat boonop deur kundigheid beduidend is. Dat die bestaan en rol van AfriForum dikwels krapperigheid by die regerende party sou veroorsaak is te wagte, veral omdat AfriForum ook daarin slaag om oor so ‘n wye spektrum betrokke te raak – van die rioolbesoedeling van riviere tot die taalmedium van onderrig by skole. Om die regering in die howe bloedneus te gee is ‘n bykans alledaagse verskynsel.

Onder die sake wat vir die regering dwars in die krop steek is die suksesvolle vervolging van Julius Malema vir haatspraak. En dit is baie belangrik om daarop te let dat AfriForum dieselfde Grondwet gebruik het as die een waarvan die ANC self die hoofargitek was en sonder wie se instemming dit nie die wetboek kon haal nie. AfriForum het boonop ‘n meganisme, die gelykheidshof, gebruik wat in wese deur die Menseregtekommissie bevoog word.

Hoewel daar meer as 70 klagtes van haatspraak teen Malema by verskillende grondwetlike instellings aanhangig gemaak is, was dit die saak van AfriForum wat die meeste aandag getrek het. Dat die TLU-SA daarin geslaag het om hom as party tot die geding te laat toevoeg word dikwels vergeet.

Die kritiek op AfriForum – en in die besonder in die Malema-saak – kom egter nie net uit ANC-geledere nie. Kritiek uit ander geledere is gewoonlik op die Malema-uitspraak gemik, maar genoeg individue en instansies het ook hul argwaan op AfriForum losgelaat. Onder hulle tel van die grootste ondersteuners van die huidige Grondwet, vir wie dit skynbaar ontgaan dat AfriForum daardie einste Grondwet ingespan het.

Toe die voorsitter van die artikel 185-kommissie uiteindelik van hom laat hoor, is dit ook op AfriForum gemik. Dit was na AfriForum ‘n veldtog ter ondersteuning van Afrikaansmediumskole van stapel gestuur het – ook ‘n saak wat veronderstel is om deur die Grondwet gewaarborg te wees.

Die voorsitter, eerw. Mabuza, het volgens navrae deur die voorsitter van die Afrikaneralliansie en self ‘n oud-kommissaris, dr. Chris Landman, die mediaverklaring sonder die medewete en instemming van sy medekommissarisse uitgereik.

In hierdie verklaring spreek hy namens die ongeraadpleegde kommissarisse kommer uit oor die verdelende uitwerking van AfriForum se veldtog. Hy gaan voort om uiters selektief uit die Grondwet aan te haal, en afleidings heeltemal buite konteks te noem. Om die analoog van sy argument deur te voer – ‘n Vendasprekende kan dan op sy reg aandring om tot die Universiteit Kaapstad toegelaat te word, en dan op onderrig in Venda aandring. Een van die mees polariserende aspekte in die Belgiese federasie is juis dat Franssprekendes hulle in Vlaamse gebiede vestig en dan daarop aandring om steeds Frans te gebruik asof hulle in Wallonië woon. Dié ingesteldheid wat op miskenning van die gelyke erkenning van Vlaminge se regte neerkom het baie daartoe bygedra dat België amper twee jaar lank nie daarin kon slaag om ‘n regering te vorm nie.

Dit is duidelik Mabuza dryf ‘n politieke eerder as grondwetlike agenda. Dr. Landman wys op ander probleme soos korrespondensie wat nie beantwoord word nie, maar veral dat die persepsie ontwikkel dat hierdie liggaam sy grondwetlike mandaat geheel versaak en ‘n rubberstempel van die regering geword het.

AfriForum self meen die optrede bewys dat die kommissie – as die KGT-kommissie afgekort – ‘n rubberstempel van die ANC geword het.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in sy reaksie daarop gewys dat die partye tot die grondwetlike onderhandelings ingestem het om bepalings vir die totstandkoming van ʼn KGT-kommissie by die Grondwet in te sluit weens die aandrang op maatreëls ter beskerming van minderheidsgemeenskappe. “Dit word toenemend duidelik dat die ANC en die kaders wat die party in die KGT-kommissie ontplooi het, die Grondwet se bepalings rakende minderheidsgemeenskappe bloot sien as tydelike toegewings wat gemaak moes word om die politieke mag te bekom. Noudat die ANC beheer oor byna al die magshefbome en grondwetlike instellings geneem het, word hierdie bepalings ondermyn.”

Rubriekskrywers wat AfriForum met die teerkwas bydam, skroom dikwels nie om ook leuens in die proses in te span nie. Onlangs het Thabo Masombuka nog geskryf dat AfriForum allerlei veldtogte “teen die land” geloods het. Nog meer verbasend as dat Masombuka sulke blatante onkunde oor die verskil tussen die optredes van ‘n regerende party en die land kan tref, is dat hy daarin kom slaag om ‘n publikasie te vind wat sy prul oor AfriForum sou publiseer.

In ‘n land wat lank feitlik lamgelê is deur politieke korrektheid, is die wyse waarop AfriForum daarin slaag om in die regering se gesig te boer, dalk nog ‘n ongemaklike ervaring vir kruipers en mense wat nog swaar aan die bagasie van skuldgevoelens dra. AfriForum het pas ‘n kilometer lange rol met name van mense wat ‘n beswaarskrif teen die beoogde inligtingswet geteken het op die staatspresident se grasperk voor die Uniegebou uitgerol.

‘n Bietjie meer as ‘n jaar gelede het die ANC-apologeet, dr. Jakes Gerwel, nog in sy rubriek in Rapport sy ongelukkigheid uitgespreek omdat die indruk dikwels geskep word dat die ANC ‘n landsvyand is. Hy gee egter toe dat die ANC dalk ‘n vrot regering kan wees.

Dit is nie AfriForum wat die krisisse en slaggate skep nie. Om ‘n regerende party op sy tone te hou, om minderheidsregte te beskerm, en boonop deurlopende volgens die Grondwet op te tree, maak van ‘n instansie nie ‘n instansie wat veldtogte “teen die land” voer en dus ‘n landsvyand is nie.

‘n Regering, daarenteen, wat na die diktatuur van die meerderheid en dus ongrondwetlikheid neig, verdien veel eerder daardie titel. ‘n Regering wat verbete mense se reg om haatspraakliedere teen ander gemeenskappe te sing, tender kliphard om hom as landsvyand te tipeer.

AfriForum verdien groter erkentlikheid – nie verguising nie. Dit sal hopelik begin gebeur wanneer die burgery meer volwassenheid oor die konsepte van ‘n grondwetlike demokrasie begin ontwikkel en besef hoe ‘n Grondwet aan die internasionale reg vashaak, soos wat hoofstuk 14 van daardie einste Grondwet uitspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.