Nuuskommentaar: As jy nie sterk is nie moet jy slim wees

In die aanloop tot die ANC se groot kongres die einde van die jaar in Bloemfontein is dit interessant hoe veral president Jacob Zuma ander probeer manipuleer om sy gevegte vir hom te veg. Voor die Polokwane-konferensie was dit Julius Malema wat tot gesê het hy sal doodmaak vir Zuma, en die vakbondbaas Vavi.

In die lang aanloop na Mangaung het Malema mantel gedraai, en in stadiums het dit gelyk of daar ‘n band, in klinkende munt, tussen Malema en nog ‘n moontlike kandidaat, Tokyo Sexwale is.

In ‘n land van minderhede is dit nogal ‘n kuns om leierskap op te vorder. Met die onlangse Midrand-beleidskonferensie was dit duidelik hoe etnies Zuma se steun grootliks is, waar die opsigtelike steun vir Zuma uit veral KwaZulu-Natal en Mpumalanga gekom het, en die ander op die Vrystaat na by tye hul teenstand teen Zuma duidelik laat blyk het. Vir Zuma om te oorleef, is dit nodig dat hy ook in ander provinsies leiers soos Ace Magashule kry wat sy, Zuma se gevegte namens hom kan veg.

Magashule, bloot vir die interessantheid, is self ‘n meester om as deel van ‘n minderheid as leier deur te breek. Magashule is ‘n Tswana, maar ook nie deel van die beduidende Barolong-groepering wat met ThabaNchu geassosieer word nie. Magashule kom van Parys af, ‘n area wie se Tswana’s deel van die bevolkingsgroep in Noordwes uitmaak. Tswana is die huistaal van 6,7 persent van die Vrystaatse bevolking, teenoor meer as 64 persent wie se huistaal Suid-Sotho is. Om deel van ‘n minderheid te wees, beteken noodwendig die kuns moet bemeester word om “vennote” in te span.

Die geskiedenis is vol voorbeelde van waar dit gebeur het dat regeringsleiers, beide uit die dampkring van diegene met ‘n diplomatieke ingesteldheid, en aanhangers van die realpolitiek, ander ingespan het om hul gevegte vir hulle te veg.

Gedurende die dertigjarige oorlog wat tussen 1618 en 1648 tussen die Protestante en Rooms-Katolieke in Europa gewoed het, het sake beter vir die Protestante begin verloop toe die Lutherse Sweedse koning Gustav II Adolf  toegetree het. Sy oorlogspoging is egter grootliks deur Kardinaal Richelieu, die eerste minister van die Rooms-Katolieke Frankryk gefinansier. Hierdeur kon Frankryk rustig sy kans afwag om uiteindelik te verseker dat sy vernaamste magsmededinger, Oostenryk, se mag uitgeput is – so uitgeput soos die Frase staatskas.

Ook die Pruis, Otto von Bismarck, was ‘n meester om ander teen mekaar op te stel sodat Pruise uiteindelik die leidende Duitse staat kon word en ’n verenigde Duitsland Europa se sterkste staat geword het.

Vir dekades het die vreemde situasie bestaan dat Irak, met ‘n Sjiïetemeerderheid, deur ‘n Soenie, Saddam Hoessein regeer is, terwyl die omgekeerde in Sirië gegeld het. Beide hierdie state het boonop ‘n nie-Arabiese Koerdiese minderheid.  Die Koerde het erge slagtings aan die hand van beide Sadam en pres. Bashar al-Assad se pa en voorganger beleef, maar in Irak is Saddam vir sy vergrype teen die Soenies tereggestel nog voor hy vir sy misdrywe teen die Koerde verhoor kon word. Maar Saddam het nie net van geweld en intimidasie gebruik gemaak nie. Sy magspel was ‘n komplekse een van omkopery van veral tradisionele leiers waar demokrasie ook onbekend was, tot koöptering. Sy destydse adjunk-eerste minister, Tariq Aziz, is deel van ‘n klein minderheid, ‘n Assiriër, en hy is soos die meeste Assiriërs, ‘n Christen.

Assad, deel van die Alawiete-sekte van die Sjiïete, is dus deel van ‘n minderheid in ‘n minderheid. Nogtans oorleef die Assad-dinastie tot dusver ‘n tweede generasie van hierdie minderheidsbewind. Tot hede in die Siriese burgeroorlog is minderhede soos die Koerde en Christen-minderhede soos die Armeniërs en Assiriërs nie besonder sigbaar in die opstand nie. Die parlement, so ‘n rubberstempel soos dit mag wees, maak ruim voorsiening vir gewaarborgde minderheidsetels Assad se verdedingshoof wat onlangs in ‘n bomaanval dood is, was ‘n Christen. Siriese minderhede is bekommerd oor hul lot sou ‘n opstand deur Soenie-Arabiere slaag, veral met die opkoms van neo-Salafisme in dié groep soos dit onder meer manifesteer in Al Kaïda, die Nigeriese Boko Haram, die besetters van Timboektoe, en die insurgente in Somalië.

Dit het algaande al hoe meer onafwendbaar begin lyk of Turkye binnekort in die Siriese burgeroorlog sal ingryp. Turkye, ofskoon ‘n Moslemstaat, is ‘n Navo-lid en sekulêr. Turkye probeer om ‘n lidland van die Europese Unie te word. Maar Turkye het ‘n Achilleshiel – sy hantering van sy nie-Turkse minderhede. Na die jong Turke se opname het die posisie van die Koerde, Armeniërs, Assiriërs en ander soos die Sigeuners drasties begin versleg, en teen 1916 was ‘n volksmoord in volle swang waartydens waarskynlik miljoene mense die lewe gelaat het. Meer as ‘n miljoen Armeniërs is dood en is as minderheid in dié land amper heeltemal van die aardbol geveeg. Baie van Sirië se Koerde, Armeniërs en Assiriërs is die afstammelinge van mense wat uit Turkye gevlug het, en hoewel hulle in Sirië dikwels self vervolg is, het hulle as beduidende gemeenskappe bly voortbestaan.

Turkye loods gereeld hakkejagoperasies in Irak se Koerdistan uit, en maak dit duidelik dat dit geen Koerdiese bedreiging buite sy landsgrense sal duld nie. Turkye het nou ‘n Koerdiese minderheid van sowat 20 miljoen, wat sedert die volksmoorde erg onderdruk was. Koerde is in stadiums verbied om hul taal te gebruik, en Koerdiese stede het Turkse name gekry. Die Europese Unie vereis egter behoorlike toepassing van minderheidsregte as voorvereiste vir opname in die Unie en die beperkings word geleidelik verslap.

In Sirië het die aanvanklike rustigheid van Damaskus se tradisionele mededinger aan die Turkse grens, Aleppo, Assad in staat gestel om baie van sy magte suidwaarts te verskuif. Soos die Siriese magte onttrek het, so het die Koerdiese vlaggies begin wapper, en is entoesiasties deur die Koerde in Turkye begroet. In Irak se Koerdistan wat na die Amerikaansgeleide ingryp tot stand gekom het, het die streekregering erken dat dit Koerdiese vlugtelinge uit Sirië oplei om die orde te kan handhaaf in die magsvakuum wat Siriese onttrekking gelaat het.

Kort hierna het berigte die rondte begin doen dat Siriese Koerde met Assad onderhandel oor streekoutonomie in die noorde. Boonop, so lui die berigte, word sommer ook vir die vorming van ‘n outonome Koerdiese gebied in Turkye beywer, as eerste stap om ‘n behoorlike Koerdiese staat te vorm.  Hoewel die berigte gesaghebbende Koerde aanhaal, lyk dit bykans seker dat dit ‘n set van die Assad-bwind was om die Turkse aandag van Assad na die Koerdiese kwessie weg te lei.

As dit so is, het dit soos ‘n bom gewerk. Turkye het dadelik aangedui dat dit nie sal toelaat dat ‘n Koerdiese streek in Sirië tot stand kom nie. As Turkye nou in Sirië sou ingryp, lyk dit byna seker of dit teen die Koerde gerig sal wees eerder as teen Assad om onder meer die neerskiet van ‘n Turkse opleidingsvliegtuig te wreek, en Assad se vyand, Turkye, sal dan sommer die Koerdiese probleem vir Assad hanteer. Die gebruik van ander vir ‘n mens se vuil werk is riskant, soos Zuma met Malema ontdek het, maar voor die nuutste verwikkelings was dit duidelik dat Assad se sand aan die uitloop was. Hy het dus niks te verloor nie. Die belangrikste les is egter dat daar net een oplossing vir die hantering van minderheidsregte is – die regte manier soos deur die volkereg vereis word.

Met die volksmoorde het Turkye allermins hul probleme opgelos, en het Turkye byvoorbeeld in die vorm van die Armeense terreurgroep, Asala, onder erge dade van internasionale terreur deurgeloop. Asala het egter ontbind, en die fokus is nou op die Koerde. En die eeu-herdenking van die volksmoorde op volke met lang geheues kom al hoe nader. Turkye ontken steeds die volksmoorde en het rekords daarvan uit hul geskiedenisboeke verwyder. Maar die probleem het nie verdwyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.