Nuuskommentaar: Baanbrekerhofsaak teen regstellende aksie

Van die DKD werknemers namens wie Solidariteit optree. Foto: Reint Dykema

In Kaapstad het ‘n waterskeidingsaak begin. In dieselfde stad as waarin die parlement gesetel is en waar die ANC vandag ‘n modderspoor deur demokrasie gaan trap met die stoomroller van die snoerwet, vind ‘n hofsaak in die arbeidshof plaas waar die ANC se toepassing van “regstellende aksie” getoets word.

Solidariteit, wat dikwels deur die ANC en meelopers onvleiende dinge toegevoeg word (is kritiek deur die ANC nie nou al deesdae in beginsel ‘n groter eer as ‘n spesiale toekenning deur die president nie?) veg ‘n saak waar blatant teen bruin mense in die Wes-Kaap gediskrimineer word. In ‘n provinsie waar bruin mense die numeriese meerderheid vorm, pas die departement van korrektiewe dienste (DKD) die nasionale demografie met kwotas toe. Dit beteken in effek dat bruin mense aanstellings en bevorderings op hul maag kan skryf, en dat swart kaders vir poste en aanstellings gesogter as goeie “kwotaspelers” by die Blou Bulle is.

Die DKD (en regering) se beredenering is fundamenteel verkeerd, en die bedoeling van die beleid allermins suiwer.

Suid-Afrika is ‘n land met ‘n groot bevolkingsdiversiteit, en daar sou dus verwag word dat die grondwetlik onderhandelaars en grondwetskrywers dié werklikheid by die bepaling van ‘n staatkundige model in ag sou neem. Trouens, die opdragte vanuit die kabinet aan die navorsers wat oornag insette aan die onderhandelaars by Kemptonpark moes voorberei oor verskillende aspekte van die staatkundige model was deurspek met terme soos korporatief, konsosiatief en vele meer wat net so uit in-diepte ondersoeke van onder meer die staatkundige komitee van die Presidentsraad gekom het. Dit was in pas met bestaande modelle van lande met heterogene bevolkingsamestellings soos Indië, Nieu-Seeland, Nigerië, België, Spanje en ander, en suiwer in pas met die internasionale reg.

Die navorsers moes verbysterd waarneem hoe hul deurnagwerk (letterlik) skynbaar net so vir die vullisdrom bestem was, al is dit deur onder meer provinsiale administrateurs as hul eie insette goedgekeur. Geen wonder nie iemand soos Leopold Scholtz het die regering se onderhandelaars in ‘n rubriek as kwaliteitsgewys die vierde span se reserwes beskryf.

Tog het daar enkele realistiese aspekte deurgeskemer en neerslag gevind. Die kiesstelsel is suiwer proporsioneel en verseker byna dat minderhede se stem darem gehoor sal word. Die grondwet, onder meer in die handves van menseregte, erken darem hier en daar beperkte minderheidsregte (hoewel die implementering van artikel 235 van die meerderheid se wil afhanklik is, en die ANC onder andere by monde van Gwede Mantashe dit met ‘n “nooit” heeltemal afgemaak het.)

‘n Groot deel van die “instandhouding van die beginsels het afgehang van die instandhouding van die nasionale vredesakkoord en die neerslag daarvan in die grondwetlik beginsels. Dit is egter in ‘n warboel gestort toe die een party tot die akkoord, Marthinus van Schalkwyk en die reste van die NNP, in die ANC opgegaan het.

Nog ‘n stukkie oorskiet van die oorspronklike beginsels wat veronderstel was om voor onderhandel te moes word, was provinsiale grense en magte. By die vasstelling van hierdie grense is in die meerderheid gevalle sterk gefokus op die bevolkingsamestelling, wat dan weer neerslag sou vind in die bepaling van daardie provinsie se amptelike tale. Gauteng was as baie kosmopolities ‘n relatiewe uitsondering op die reël.

Dié reëlings het daartoe gelei dat die Wes-Kaap, en aanvanklik KwaZulu-Natal, nie ook deur die ANC reageer word nie.

Dit het ook daartoe gelei dat kiesers in die eerste verkiesing waar daar nie ‘n kieserslys was nie, oor provinsiale grense aangery is om te stem, en waarna die grense van die Noord-Kaap verskuif is en sterk vermoed word dat dit gedoen is om die Noord-Kaap ook vir die ANC te verskans.

Die aanslag op provinsiale grense bly voortduur en die Wes-Kaap bly ‘n doring in die vlees van die ANC, omdat die Wes-Kaap in talle opsigte bo die ander provinsies uitpresteer.

Vanuit die staanspoor het die ANC die Wes-Kaap probeer “kolonialiseer”, of om die term van die ANC te gebruik, te “bevry.”

Nasionale departement speel hierin ‘n belangrike rol, deurdat mense van elders “ontplooi” word wat glad nie die betrokke provinsies se grootste amptelike tale magtig is nie. Selfs departemente wat veronderstel is om deels provinsiale magte te hê, soos die polisie, is aan “nasionale beleid” onderwerp, en is absurde opdragte gegee dat “amptelike kommunikasie” slegs in Engels mag geskied. Selfs in die mees Afrikaanse omgewing word personeel benadeel as hulle hul merieteverslae in Afrikaans voltooi. Milnerisme in die oortreffende stap.

Die duidelike grondwetlike bepalings wat dié soort vervreemding in die land moet teenwerk, word eenvoudig van die tafel gevee onder uitdrukkings (wat nie in die grondwet genoem word nie) soos transformasie en “affirmative action.”

In die Wes-Kaap het uitsprake soos dié van die destydse kabinetswoordvoerder, Jimmy Manyi, soos ‘n waterskeiding vir baie bruin meningsvormers gekom. Daar was ‘n duidelike “voor” en “na” aanslag van ‘n groot getal bruin rubriekskrywers te siene. Minister Trevor Manuel wat hom teen Manyi se opmerking uitgespreek het, het ‘n baie spesiale plek in talle bruines se harte ingeneem. Blinde ANC-lojaliste het in ‘n mindere of meerdere mate op droë grond uitspoel, en iemand soos wyle prof. Jakes Gerwel het na homself tong in die kies as ‘n “useful idiot” verwys.

Tog is dit Solidariteit wat die DKD aandurf oor hierdie kwessie. Hoewel dié saak nou die aandag trek, en selfs Tony Ehrenreich in Rapport aangehaal is  (Ehrenreich sing nou Solidariteit-deunjie) dat hy gesê het die ANC is verkeerd in hierdie geval, is dit lank nie die enigste saak wat die breë beginsel aandurf dat dit waarmee die ANC hom ophou, naakte rassisme is nie. Die Renate Barnard-saak wat nou op appèl is, is goed bekend. Die afgelope week het Solidariteit ‘n belangrike resgoorwinning oor die Tshwane-munisipliteit oor ‘n soortgelyk kwessie behaal.

Twee kragte werk nou regstreeks teen mekaar is: die ANC se “prestasies” (in die woorde van die kanselier van Kovsies, dr. Mokhele, “die algemene agteruitgang om ons wat gestuit moet word” noop hom om weer van die komende verkiesing ‘n rassesensus te maak, teenoor minderhede wat nie net soos vreemdelinge in hul eie land voel nie, maar waar dit bewysbaar die geval is.

Kan daar nog enige twyfel bestaan dat die werk wat burgerlike instellings soos Solidariteit en Afriforum doen onontbeerlik is?

Mense wat vir die land en al sy mense omgee moet – voor blindelingse kritiek soos “regs” en “links” voor dié instansies se koppe geslinger word – net vir oomblik besin oor alternatiewe opsies. En as die transformasiedrywers meen dis “regs” om die grondwet en die howe te gebruik om vir elkeen ‘n regverdige plekke onder die Suid-Afrikaanse son te beding, moet hulle ook maar besin oor hul eie verbintenis tot grondwetlik demokrasie, en sommer die ANC se vryheidsmanifes gaan lees – soos daai dele wat verklaar dat … “our country will never be prosperous or free until all our people live in brotherhood, enjoying equal rights and opportunities; that only a democratic state, based on the will of all the people, can secure to all their birthright without distinction of colour, race, sex or belief…

Die verlede kan nie oorgeleef en foute van die vierde span se reserwes meer betyds reggestel word nie. Selfs al misluk die howe weens “transformasie” om ‘n doeltreffende bewaker van die grondwet te wees, is daar nog internasionale forums soos geregshowe. Maar om die ANC as beskuldigde in ‘n internasionale regbank te laat staan saak tot by daardie punt regverdigbaar hanteer gewees het. En ja, daar word reeds besin oor dié opsie, soos wat die TLU SA na die omstrede uitspraak oor mineraleregte te kenne gegee het, en hulle staan nie alleen nie.

Die stemme dat alles nie met die handhawing van die grondwet pluis is nie, word oor ‘n al hoe breër front gehoor.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae