Nuuskommentaar: BBC wonder of wittes ʼn toekoms in SA het

Foto: BBC/AFP

Die lang messe word geslyp na ‘n berig deur die BBC se redakteur van wêreldsake waarin AfriForum ‘n aandeel gehad het.

Die kern van die vraag is of wit mense nog ‘n toekoms in Suid-Afrika het?

AfriForum, by monde van Ernst Roets, het daarop gewys dat die moordkoers onder boere en hul gesinslede ongeveer twee keer hoër is as onder polisielede, en die BBC-joernalis (op die joernalis se versoek) ook na ‘n wit plakkerskamp geneem.

Die ANC, by monde van Jackson Mthembu, meen AfriForum is dislojaal en behoort hom te skaam.

Die woordestryd is nie suiwer wit – swart nie. Volksblad se opskrif oor die saak is dat AfriForum die ANC wou verneder. Konteks sal egter eers bepaal kan word wanneer Roets op die beriggewing reageer.

In die proses moet ook waargeneem word dat Mthembu klaarblyklik nie onderskei tussen die ANC, die regering en die land nie. Om in ‘n demokrasie die foute van ‘n politieke party uit te wys is ‘n integrale deel van demokrasie, nie dislojaliteit teenoor die land nie.

Hieruit kristalliseer die vraag uiteindelik: Wie is dislojaal teenoor die land? Die instansie wat deur sy ongrondwetlike beleid van kaderontplooiing die land geleidelik in die rigting van ‘n volwaardige piesangrepubliek sleep, wat ‘n beleid van neo-apartheid met wavragte rassistiese wetgewing geïmplementeer het, wat min agting toon vir grondwetlike bepalings oor taalregte, wat versuim om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar, wat albatrosse soos die wapenskandaal, Nkandlagate en ander saamsleep, wat veroorsaak dat Suid-Afrika op indekse soos die persvryheidsindeks en die korrupsiepersepsie-indeks die kreeftegang gaan?

Trouens. Daar kan selfs gevra word wie vir ‘n president gesorg het wie se “befaamde” uitlatings die land telkemale erg in die buitelandse media in die verleentheid gestel het?

Of is die instansie wat eie bronne gebruik om hierdie vergrype te stuit die dislojale?

Uiteraard sal elke kommentator hierdie balansstaat verskillend opstel. Die ANC gebruik graag syfers van Statistieke Suid-Afrika om wanbalans tussen wit en swart uit te wys, sonder om die baie duisende wittes wat in die buiteland moes gaan werk kry in ag te neem, en sonder om kwessies soos gemiddelde gesinsgroottes by die impak op die sogenaamde oorerflike armoede te verreken.

Alvorens ‘n sommetjie gemaak word oor of wittes ‘n toekoms in die land het, net die volgende opmerkings: Die keuse om hierdie debat langs rasselyne te beslis is nié AfriForum of hierdie rubriekskrywer s’n nie. Roets dui duidelik aan dat AfriForum nie ‘n onderskeid tussen wit en swart tref nie. Dié rubriekskrywer pas uit beginsel die internasionale regsnorme toe wanneer kwessies soos minderheidsregte ter sprake kom, soos ook in artikel 235 van die grondwet manifesteer, en waar kwessies soos taal en kultuur ter sprake kom, maar nie ras nie. In die volkereg en grondwet word ras wel genoem as een van die grondslae op grond waarvan nie teen iemand gediskrimineer mag word nie, maar dien nie as platform vir minderheidsregte nie.

‘n Belangrike deel van die perspektief waarteen gemeet moet word wie in die hoofstroom ras as norm inspan, blyk duidelik uit die DKD-Solidariteit-hofsaak.

Dié saak toon duidelik dat die ANC se neo-apartheid nie so seer teen wit gemik is nie, maar teen diegene wat nie African African is nie.

Tradisioneel word aanvaar dat die bruin gemeenskap in Suid-Afrika dié groep is wat die minste rasbewustheid het. Soos in alle gevalle waar met groepe gewerk word moet ook teen veralgemenings, stereotipering en die wegredeneer van uitsonderings gewaak word.

Dit is ook geen heterogene groep nie, met ‘n deel wat hulself as die hedendaagse verteenwoordigers van Suid-Afrika se inheemse groepe, die Koi en San beskou (en inheemse groepe wêreldwyd dié week as “Trots om inheems te wees-week”  reël). Die VN bied die week ook ‘n konferensie hieroor aan.

Tog voer die staat hier ‘n verbete stryd om in die Wes-Kaap (en waarskynlik ook die Noord-Kaap) teen bruin mense in hul hartlandgebied te mag diskrimineer.

Die kwessie is interessanter omdat ‘n groot deel van die bruin bevolking na 1994 hul steun by die ANC ingewerp het. Onder die bekender name tel mense soos wyle prof. Jakes Gerwel, dr. Allan Boesak, Trevor Manuel en Tony Eherenreich.

Dié lojaliteit aan die ANC het selfs voor Jimmy Manyi se uitlatings oor bruin mense wat in die Wes-Kaap “oorverteenwoordig” is begin verkrummel. Tydens die ANC-heerskappy in die Wes-Kaap is talle kere berig oor bruin mense op HOP-waglyste wat kla dat hul name bly afskuif terwyl nuwe aankomelinge uit die Oos-Kaap bo hulle ingedruk is.

Tog was daar ‘n groep wat dwarsdeur die Manyi-debakel lojaal aan die  ANC gebly het. Gerwel het onder meer in Rapport geskryf die ANC mag ‘n vrot regering wees, maar is beslis nie ‘n landsvyand nie. Hy het egter enduit ‘n ANC-lojalis gebly en selfs liggies met homself gespot deur homself ‘n “nuttige idioot” te noem.

Die afgelope week het Zelda Jongbloed in Rapport dit so verwoord: “Ons as burgers is nog baie sentimenteel oor ons demokrasie en die rol wat die ANC in die verkryging daarvan gespeel het. Jan Alleman sal dus baie verduur, baie verdra, baie vergewe in die naam van daardie sentiment. Natuurlik het ons verwagtinge gehad dat die lewe in ons land vir die oorgrote meerderheid van mense makliker sou raak.”

Die crux is dat eerder as om bes te gee in die DKD-saak, het die ANC lustig begin suigstokkies uitdeel aan bruin gemeenskappe soos Eldoradopark en in die Noordweste, pligsgetrou bygestaan deur die SABC-TV terwyl later, na die verkiesing, gesien sal word hoeveel inhoud hierdie beloftes het.

Soos Zuma se beloftes na hy wit plakkerskampe soos Bethlehem buite Pretoria besoek het, en waarvan na berig word dadels gekom het?

Dit is vanselfsprekend dat die ANC die BBC-kwessie as ‘n raskwessie sal wil hanteer. Volgende jaar se verkiesing is te naby om die probleme wat onder meer tot diensleweringsbetogings lei op te los, al word die paar ganse wat goue eiers lê ook teen watter spoed geslag, en om seker van ‘n groot verkiesingsoorwinning te wees is die maklikste om daarvan bloot weer ‘n rassesensus te maak.

Nou word Roets en AfriForum gekruisig, maar toe die kanselier van die Vrystaatse Universiteit, dr. Khotso Mokhele onlangs die jong graduandi toegespreek het en hulle aangemoedig het om hulle hul spraakvryheid te gebruik om die “algemene verval om ons” aan die groot klok te hang, was die ANC tjoepstil. Was Mokhele op grond van sy ras minder dislojaal teenoor die land as Roets?

Daar is mense wat transformasie met eerlike motiewe op ‘n verantwoordelik en verantwoordbare manier probeer dryf, maar die politieke klimaat en spesifieke duidelik ras-diskriminerende praktyke wat deur die beleid van neo-apartheid geskep word plaas enige program wat in kontak met die raskwessie kom, onder verdenking.

Ongeveer 22 jaar na die vorige regering die laaste apartheidswet afgeskaf het, toon peilings dat swart mense oor talle sake anders as die res na kwessies kyk. Op die vraag of wit hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, meen sowat 80 persent van die swart mense dat dit die geval is. Dié mening word deur ‘n betreklike klein persentasie wit, bruin en Indiër gedeel. Ook peilings oor of die huidige bedeling op ‘n nuwe apartheid met diskriminasie teen sekere groepe neerkom, volg min of meer dieselfde patroon.

Ras kan nie as norm ingespan word, en dan oor die neerslag daarvan gekla word nie, selfs al word dit die naam van nie-rassigheid gegee. En as versoening by die deur uitwaai, is die grondwet in gevaar.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

7 Kommentare

gert van schalkwyk ·

Land is kompleks wat rasse aanbetref ! Apartheid was nie reg ook nie tans nie ! Daar moes middeweg wees ! Vrede is die norm ! En om veilig te voel ! Strawwe te lig en uitgerek ! Lyfstraf is die oplossing ! Dankie Groete !

HELENA SEABORNE ·

niemand huf moeite te dun om hulle te verneder ni. hulle dun i goeie job hulleself

andre van blommestein ·

Nou onlangs het ek aansoek gedoen vir’n lening en moes my ras vermeld,selfde vir registrasie by ‘n naskoolse opleidings sentrum , toe ek ‘n kar wil koop,aansoek om betrekking ens. “who is fooling who” Ek is ‘n middeljarige blanke Afrikaner. Ek sien geen toekoms vir my nie en word stelselmatig afgebreek geestelik en finansieel. My uitstekende opleiding as polisie beampte en speurder asook my bo gemiddelde ondervinding in my huidige werks opset is “nul en void”

Dries Pretorius ·

Daar is volgens my geen toekoms in SA vir blankes nie. Persone wat jonk is moet so gou moontlik uit die barbaarse land kom en ‘n ander toekoms gaan bou.

Lidia van Niekerk ·

Dit is lagwekkend dat Afriforum van dislojaliteit bekuldig word. Die Regering ken nie die betekenis van die woord nie, en is totaal teen oor die grootste deel mense van hulle eie wat in armoede woon. Wet en orde bestaan nie. Daar is nou groter omgekeerde rassisme en dit is nie minder as reg dat BBC bewus gemaak word wat aangaan in die land nie. Muilband wette wil ingestel word om die mense van S.A. in die duister te hou. Ek het al persoonlik gesien hoe die sogenaamde “Elite” hul eie mindergegoede mense behandel. Skandalig.Dankie aan Afrifrot]rum en Soliriteit wat mistens vegvir die reg en geregtigheid.

Jenny Upshon ·

Vir enige buitestaander om die alghele prentjie te kan sien moet hulle ten minste al die stukke van die legkaart gegee word. In enige land behoort die politisie die verteenwoordigers van die mense (publiek – ALMAL insluitend) te wees en die leiers behoort te doen wat goed en reg is vir die land as ‘n geheel, wat dit ook al behels; dit beteken nie net vir vandag nie, maar vir die toekoms – daar is geen plek vir persoonlike agendas/selfsugtigheid, geldgierigheid of wraakagtigheid nie en as dit die geval is,is die verkeerde mense aan die hoof en moet hulle die wysheid aan die dag le om van die pos afstand te doen en oor te handig aan die persoon/persone wat geskik is vir die taak.(“the best man for the job”)’n Goeie man ken sy perke (vertaling van die Englese gesegde; “a good man knows his limitations”) en ‘n wyse man leer uit ander se foute en laaste maar nie minste nie – my ma het my geleer;”two wrongs don’t (and never can or will) make a right”

jm van tonder ·

dit is tyd dat ons ophou om oor en weer op mekaar te skree van weerskante van die heining af. ek weet nie van julle nie maar ek is moeg en siek en sat vir die een sê dit en daai een sê dat. dis politiek en ek sê weer dat as satan omgang met homself gehad het en ‘n kind is daaruit gebore sou die kind se naam politiek gewees het. politiek is daarop ingestel om mense te verwyder van mekaar, en elke politius sal eendag voor ons Groot God verantwoording doen oor hul dade en elkeen van ons oor ons woorde. God onderskei nie tussen taal, velkleur of kultuur nie. ons het almal blykbaar verskillende bybels. hierdie land is besig om dood te bloei en politiek is die mes in die wond. dit is tyd dat ons saamstaan en weer ons God se Naam aanroep, ons sondes belei en toelaat dat ons Heilige Vader hierdie wonderlike nasie herstel. gee gebed ‘n kans en probeer my verkeerd bewys!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.