Nuuskommentaar: Begroting, waar is jou angel?

Selfs die beste begroting ter wêreld in die sterkste ekonomie kan nie alles vir almal wees nie, en kan misluk as die uitvoering daarvan nie sonder korrupsie, inhaligheid en wanbesteding plaasvind nie.

Boonop is ‘n landsbegroting nie net ‘n raamwerk waarvolgens inkomste en uitgawes vir ‘n boekjaar plaasvind nie, dit moet ook ekonomiese groei stimuleer terwyl basiese maatskaplike dienste ook in stand gehou moet word. ‘n Begroting is ‘n balanseertoertjie om te voorkom dat te veel mense afhanklikes word, en in die proses te min fondse beskikbaar is om die ekonomie in sy produktiewe sektor te laat uitbrei. Die meer as 15 miljoen mense wat maatskaplike toelaes ontvang, die impak van die land se arbeidswetgewing en die wyse waarop affirmative action in plaas van regstellende aksie toegepas word, maak dat die land se ekonomie ingeboude remskoene het.

Die begroting het vanjaar die eerste keer die biljoenkerf, of in Engels, die triljoenkerf oorgesteek. Om ‘n stok in die wiel van ongemagtigde en vermorste uitgawes te probeer steek, gaan die tesourie sy wakende oog oor uitgawes verskerp. Die proses word tradisioneel ietwat in die wiele gery omdat dit beteken ontplooide kaders se pret moet bederf word, en omdat provinsies ‘n tweede linie skep waar die trein kan ontspoor. Boonop blink die kaderbesaaide munisipaliteite nie juis uit met hoe sekuur hulle met hul staatstoekennings omgaan nie.

Wat die tegniese aspekte van die begroting betref, wissel die kommentaar van betreklike optimisme, indien nie selfs verbasing nie dat die minister te midde van die wêreldekonomiese krisis nog ‘n betreklik ongeskonde begroting ter tafel kon lê, tot minder versigtige optimisme, tot redelike skerp voorbehoude.

Die vakbond, Solidariteit, wat een van die mees suiwer tegnokratiese ontledings gedoen het, se opsomming wys hoe broos die begroting se gee- en neemproses is: “’n Groot toename in die petrol-heffing, skynverligting van persoonlike inkomstebelasting en die implementering van die omstrede tolstelsel op Gautengse snelweë maak van die middelklas die grootste verloorders,” het Piet le Roux, senior navorser van Solidariteit, gesê. “Die middelklas sal nou moet besnoei op ander gebiede waar produkte en dienste duurder word weens die toenames.” Die vakbond is bekommerd dat die land in ‘n welsynstaat verander. “Terwyl Minister Gordhan gesê het wêreldwye ekonomiese probleme hou verband met ongereguleerde kapitalisme… [is Solidariteit] bekommerd dat hy die krisis uit die oog verloor van die groeiende welsynstaat wat deur die regering geskep is en deur belastingbetalers gefinansier word.”

Die privaat sektor is oor die algemeen meer krities as die politieke partye, hoewel die verligting wat vir kleinsake-ondernemings aangekondig is oor ‘n wye spektrum verwelkom word.

Die verhoogde brandstofheffing en die e-tolstelsel is dwarsleggend vir instansies wat gereageer het, ‘n groot probleem. Die inflasionêre impak hiervan word vererger deur die nuus dat die verbruikersinflasie, terwyl die begrotingsrede plaasgevind het, tot 6,3 % toegeneem het.

Hoewel ontoereikend min, is toegewings wat besparing aanhelp ook as positief ervaar.

Minister Pravin Gordhan self som die begroting op as een waar meer met minder vermag moet word. Hoe suksesvol hierdie boodskap na die soustrein oorgedra kan word, sal in ‘n groot mate bepaal of die begroting oor ‘n jaar nog gaan klop of nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae