Nuuskommentaar: Belangrike week vir Suid-Afrika

Donderdag lewer pres. Jacob Zuma sy jaarlikse staatsrede, maar voor dit gaan dr. Mamphela Ramphele na verwagting die aap uit die mou laat oor ‘n nuwe politieke party of nuwe beweging. Sy kan, volgens waarnemers, heelwat van die president se kollig steel.

As amper ongemerkte tussenval het die drie Afrikaanse susterskerke gister op versoek van hul tussenkerklike raad ‘n spesiale biddag vir onderwys gehou. Dat onderwys in ‘n krisis is, is gewis, en dat die vakbond Sadou, wat al as die land se grootste vyand beskryf is, die regering steeds gyselaar probeer hou, is reeds deeglik bekend. Maar dis nie net Sadou wat verbrou en reeds laks onderwysers laat staak nie, daar is baie oorvol klaskamers, ongekwalifiseerde onderwysers en probleme met die aflewering van skoolhandboeke.

Die besprekings van die loonimplikasies van die landbou en mynbou gaan ook nie hierdie week skielik doodloop nie.

Intussen wroeg die land met verskeie krisisse, met die aandag nou skerp op die moraliteitskrisis wat deur die verkragting, foltering en moord van die 17-jarige Anine Booysen onder die vergrootglas geplaas is – in so ‘n mate dat ‘n soortgelyke geval van ‘n nog jonger slapende meisie wat tussen haar familie ontvoer, verkrag en vermoor is amper ongesiens verbygegaan het.

Die groot vraag met die president se staatsrede is of hy dié keer gaan raakvat, en indien wel, of die woorde in dade omgesit gaan word.

Die probleem is dat hoe langer dit  uitbly, hoe moeiliker gaan dit word om die bitter medisyne te laat werk.

Soos bykans alle besprekings van ‘n politieke aard, het Sondag se Kommentaar op RSG ook ‘n lang ruk by die Anine-skok stilgestaan. Die voorbeeld wat Zuma in woord en daad stel het erg onder skoot gekom.

Een van die paneellede, Henry Jeffreys, het onder meer gesê die geval laat hom eintlik sonder woorde, maar hy het tog opgemerk dat daar aandag geskenk kan word dat ouers hul kinders gesinswaardes leer.

Of Jeffreys dit so bedoel het of nie, gesonde gesinswaardes is een van die vernaamste hoekstene van die Christen-demokratiese partye dwars oor die wêreld, maar in ‘n sekulêre wêreld bestaan daar naas die Christen-demokrate ook partye wat as gesinswaarde-partye bekend staan.

Tradisioneel word die “real American hero” uitgebeeld as die tipiese gesinsman.

Met syfers wat toon dat ‘n derde van die mans in Suid-Afrika hulle al aan verkragting skuldig gemaak het, dat die land die verkragtinghoofsetel van die wêreld is, en dat die slagoffers, manlik en vroulik, se ouderdomme wissel van ‘n paar maande tot oor die honderd jaar oud vertel net een storie: Dis ‘n siek samelewing wat die aanspraak dat sowat tagtig persent van die bevolking hulself as Christene beskryf, liederlik weerspreek.

Die onderliggende oorsake is ook al lank nie meer ‘n geheim nie, en doktorale verhandelings tot koerantberigte hieroor lewer ‘n swaar genoeg vrag op om die Titanic tot sink te bring.

Een van die onderliggende faktore bly die uitrafeling van kultuur en daarmee saam die waardes wat dit onderlê. In die plek hiervan ontwikkel nuwe kulture, maar in die periode waar kulture in transito is, is daar soveel uitrafeling dat die ontstaan van anti-kulture algemeen is. ‘n Tipiese voorbeeld is die trekarbeidstelsel waar die “aanhou” van twee gesinne so algemeen geword het dat dié gegewe as een van die hoofredes aangevoer is vir die groot looneise op die myne, omdat dit duur is om twee gesinne te onderhou – een tuis en een by die myn. Ook by De Doorns het die praktyk van ‘n tweede gesin ‘n rol gespeel by veral die seisoenale werkers.

Ander faktore is alkoholisme, werkloosheid, sogenaamde oorerflike armoede, groter as bekostigbare gesinsgroottes, bendekulture en dit wat daarmee verband hou, en selfs die inkomstegaping wat internasionaal blyk byvoorbeeld die hoeveelhede mense wat tronk toe gaan te beïnvloed.

Dat Zuma besef dat moraliteit aandag geniet, het vroeg vanjaar geblyk toe hy aangekondig het dat hy emeritus aartsbiskop Desmond Tutu gaan vra om ‘n nasionale reinigingseremonie te lei. Na die storm wat selfs oorsee ontketen is, gaan lê het, het die kwessie stil geraak. En van Tutu is, soos verwag kon word, nie ‘n piep gehoor nie. Die Anglikaanse kerk is immers nie formeel betrokke by die animistiese aksies wat met ‘n reinigingseremonie geassosieer word nie.

Na verwagting sou Zuma se adviseurs hom intussen beter agtergrond verskaf het oor wat in die Christendom aanvaarbaar is en wat nie, en dit sal interessant wees of, en hoe, die president hierdie kwessie gaan aanspreek. Maar selfs al sou hy dit reg aanspreek, tel sy persoonlike lewe en sy onlangse uitsprake oor die rol van vroue ongelukkig swaar teen hom om geloofwaardigheid in te boesem.

Ander gewigtige kwessies wat in landsbelang aangespreek moet word sluit in:

–       Dat korrupsie sonder aansiens des persoons aangespreek gaan word. Korrupsie beroof enige land van sy toekoms, en dit ervaar die land nou deeglik. Maar ongelukkig, met die president wat wye draaie loop om nie sy dag in die hof te kry nie, soos nou met die sogenaamde spioenasiebande, is ook daar ‘n gebrek aan geloofwaardigheid.

–       Dat die landbou en mynbou genoegsaam gekoester gaan word dat werksverliese nie net beperk kan word nie, maar omgekeer kan word. Dit verg egter dat bykans die hele kabinet ontslaan moet word om vertroue te kan inboesem.

–       Dat onderwys reggeruk gaan word, maar dit beteken Sadou se mag sal gebreek moet word, en ‘n kabinetskommeling is noodsaaklik.

–       Dat beleggers nie net verwelkom word nie, maar gekoester sal word. Maar dit beteken ook dat die kaderbeleid geskrap moet word en dat die ANC se denke ernstige transformasie moet ondergaan.

–       Die ANC sal sy rol as drywer van rassisme moet los.

As die president enigsins beoog om sy “Zuma-oomblik” van stapel te stuur, is dit Donderdagaand. Dit verwys na die sogenaamde “Lula-oomblik,” ‘n voormalige Brasiliaanse president, Lula da Silva wat sy tweede termyn aangegryp het om die Brasiliaanse ekonomie drasties te verbeter.

Dit is as rolmodel gebruik om stemgeregtigdes by die ANC se Mangaung-konferensie te oortuig om Zuma vir ‘n tweede termyn te herkies.

Geoordeel aan Zuma se oorweldigende steun by die kongres behoort hy nou die spierkrag te hê om die verlangde aanpassings te maak. Die sekondewyser is al gevaarlik na aan die punt om middernag aan te kondig en uitstel is so goed soos afstel.

Dit is nie net opposisie-ondersteuners wat skepties is of Zuma die wilskrag, geloofwaardigheid en geskikte adviseurs het om die bul by die horings te pak nie. Ook Cosatu se grootbaas, Zwelinzima Vavi, het pas sy bedenkinge uitgespreek oor of daar ‘n “Zuma-oomblik” sal wees.

As Zuma Donderdagaand in ou retoriek sou vasval kan sy adviseurs maar nou reeds vir hom sê hy het sy eerste rondte teen Ramphele verloor.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae