Nuuskommentaar: Beurtkrag meer as net beurtsmart

Saterdag is dit tyd vir “Aarduur” (Earth Hour), ‘n internasionale projek waardeur ‘n beroep op almal gedoen word om hul ligte en ander toerusting vir ‘n uur lank af te skakel. Hoewel dit ‘n simboliese gebaar is, met die fokus op die bewaring van die planeet, is dit verstommend hoeveel krag in daardie uur bespaar word sou genoeg mense saamwerk.

Maar daar is al hoe meer kommer dat Suid-Afrika onkeerbaar op ‘n herhaling van beurtkrag van 2008 afstuur. Beeld het in ‘n wydlopende artikel hieroor berig. Maroela het ook onlangs die kwessie van kragvoorsiening in Suid-Afrika onder die loep geneem.  
Ten spyte van ‘n erge somerdroogte oor groot dele van die binneland, lyk dit of die waterbestuur met damme waar ook hidro-elektriese krag opgewek kan word, goed hanteer is. Die Gariepdam is 94,5 persent vol, die Van der Kloofdam 95,5 persent, die Katzedam 94,3 en die Sterkfonteindam 99,7 persent. Ongelukkig lyk dit nie of daar oor die volgende tien dae groot, wydverspreide reën vir Suid-Afrika en Lesotho voorlê nie, en kragopwekkingsvermoë vir spitstydgebruik kan beperk bly, veral omdat damme slegs hidro-elektriese krag kan opwek as hulle taamlik vol is.
Maar selfs al was hierdie vooruitsigte nog meer rooskleurig, is die groot probleem dat Suid-Afrika vir sowat 77 persent van sy energiebehoeftes van steenkool afhanklik is, terwyl sowat 90 persent van die elektrisiteit deur steenkool opgewek word. Dit, terwyl Suid-Afrika se potensiaal vir die opwekkings van sonkrag en windkrag as van die hoogstes ter wêreld gereken word.
Hoewel daar ‘n wydlopende program is om Suid-Afrika se elektrisiteitsvermoë te vergroot en te diversifiseer – ook deur meer privaatsektordeelname – is die hooffokus nou om die Medupi- en Kusilesentrales klaar gebou en operasioneel te kry. Maar hierdie twee konstruksieterreine word voortdurend deur arbeidsonrus gekenmerk, en soms baie erge vandalisme.
Swak besluite in die verlede het Suid-Afrika nou in ‘n knyptang waar die wegspoel van transmissielyne in Mosambiek, probleme by Koeberg, en stakings op steenkoolmyne alles saam kan werk om die druk op noodsaaklike onderhoudswerk op oorwerkte, ou steenkoolsentrales hoog te hou.
Die ekonomie is reeds onder byna “terloopse” druk van kragonderbrekings wat volg op kabeldiefstal en transmissieskakelaars wat ingee.
Weens Suid-Afrika se ligging ver van markte af, saam met die onstabiele arbeidsituasie hier, maak dit vir Suid-Afrikaanse ondernemings moeilik om mededingend op die wêreldmarkte te bly. En Ethiopië het na kragtekorte in daardie land ervaar hoe moeilik dit is om markte te herwin weens mededingers wat die gaping gevat het.
Dit verg ook ‘n kragonderbreking om te besef presies hoe afhanklik nie net die ekonomie nie, maar die mens in sy persoonlike lewe van elektrisiteit geword het. Kort-kort wil ‘n mens afsit kombuis toe om water vir ‘n koffie te kook terwyl ‘n mens vir die krag wag om aan te gaan sodat ‘n mens met jou werk op die rekenaar kan aangaan.
‘n Mens kan ook nie dan solank ‘n paar noodsaaklike inkopies gaan doen nie, want die winkels is gesluit. Selfs die radio is stil.
Die aand moet by ‘n kers ‘n brief vir meneer geskryf word, want sonder krag is daar ‘n hele boel huiswerk wat ouboet nie kan doen nie, en meneer verstaan nie sommer rede nie.
Elkeen kan ‘n bydrae lewer deur krag te bespaar, al voel dit ook hoe onbeduidend. Mense wat dit kan bekostig kan gerus in sonkragverhitting vir hul badwater belê – die besparing sal sit gou ‘n goeie belegging maak.
Die aarduur van waarheid het vir Suid-Afrika aangebreek tensy elkeen wat maar enigsins kan, elke dag ‘n aarduur of twee, drie self hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.