Nuuskommentaar: Block aan die been met beweerde korrupsie

John Block. Foto: SABC

Daar kom gereeld stemme uit regeringsgeledere dat korrupsie vasgevat gaan word, maar in die praktyk lyk dit of die teenoorgestelde gebeur.

Op dieselfde dag as wat Lindiwe Sisulu, die minister van staatsadministrasie, aangekondig het dat mense in die privaat sektor wat staatsamptenare by korrupsie insleep, deur die teenkorrupsieburo geteiken gaan word, word twee LUR’e in die Noord-Kaapse uitvoerende komitee ingesluit wat op aanklagte van onder meer bedrog teregstaan.

John Block is al vir baie jare erg omstrede, maar is in die Noord-Kaap onder ANC-ondersteuners besonder gewild en word telkemale tot voorsitter van die party in die provinsie verkies. Dié geval is ook voorheen deur Maroela Media onder die loep geneem.

In Block, en in baie ander gevalle waar erg voete gesleep word om ‘n beeld van skoon administrasie uit te straal, geld die argument dat iemand onskuldig is tot hy skuldig bevind is. Wanneer iemand egter die ANC aan die baard pluk, soos adv. Glynnis Breytenbach, word ʼn mens gou geskors, en bly die skorsing geldig selfs ná die persoon onskuldig bevind is. Dit kom waarskynlik op teistering in die werkplek neer, en sou sy onder die druk swig en bedank, sou sy waarskynlik ‘n sterk saak vir konstruktiewe ontslag hê.

Skorsing, veral skorsing met behoud van salaris, is nie veronderstel om self ‘n straf te wees nie. Dit moet nie verwar word met skorsings op die sportveld waar iemand ná ‘n tugproses skuldig bevind is en vir ‘n tyd lank uit die sportsoort geskors is nie. Iemand word bloot in ‘n toestand van “suspensie” (suspend) geplaas sodat hy of sy nie die regsproses wat plaasvind, onbehoorlik kan beïnvloed nie, en terselfdertyd verseker word dat die persoon verwyder is van die posisie wat hy of sy glo misbruik het. So ‘n skorsing boesem vertroue in dat die owerheid ernstig is om korrupsie vas te vat.

In Durban betaal ‘n aantal raadslede na ‘n ouditverslag geld aan die metro terug, met geen vermelding dat daar dissiplinêr teen hulle opgetree word nie.

In die Guptagate-geval het die skorsings opnuut ‘n bisarre paadjie verloop, en dit skep opnuut die indruk dat klein vissies opgeoffer word om groter name te beskerm.

Korrupsie het, volgens verskeie kommentators, al ‘n paar jaar lank die vlakke van endemies in Suid-Afrika aangeneem. Ander verskil hiervan en sê Suid-Afrika se korrupsievoorkoms kwalifiseer nog nie om aan die definisie van edemies te voldoen nie. En al het Suid-Afrika die laaste aantal jare sleg op Transparrency International se korrupsiepersepsie-indeks teruggesak, is daar ‘n groter groep lande wat, volgens die indeks in elk geval, nog ‘n meer korrupte persepsie ontlok, onder meer die meeste Brics-lande.

Uit die publiek se reaksie op die nuus dat pres. Jacob Zuma geneë is met die gedagte dat Suid-Afrika in 2024 die Olimpiese Spele aanbied, was dit duidelik dat baie meen die land is nog te korrup, en sal nie nog ‘n sarsie tenderbedrog met onder meer die bou van stadions kan bekostig nie.

Jeremy Cronin, bekende kommunis en adjunk-minister van openbare werke, het te midde van ‘n skynbare verbete veldtog om die Nkandla-tenders dig te hou, sy ongemak uitgespreek met die totale bedrag van meer as R200 miljoen. In ‘n radio-onderhoud met John Robbie, het hy onder meer gesê: “It’s clearly outrageous, it’s clearly hard to justify.”

Dit is egter nie net die korrupsie wat die buitelandse beeld van Suid-Afrika skend en so beleggersvertroue skaad nie. Gister het ‘n berig in Nederlandse koerante verskyn  wat as goeie nuus vir Suid-Afrika aangebied is, naamlik dat Nederland se forensiese diens ‘n opleidingsentrum vir forensiese ondersoek in Suid-Afrika gaan vestig. Nog ‘n paar sulke opleidingsentra kan dalk volg. Maar amper bloot terloops word gemeld dat Suid-Afrika van die hoogste moord- en verkragtingskoerse ter wêreld het, en dat “opsporingsondersoeke selde by misdaadtonele gedoen (word) terwyl die land besonder gevaarlik is.” Voorts word berig dat selfooninligting en vingerafdrukke dikwels glad nie aandag kry nie. Kortom, ‘n baie negatiewe persepsie word met die beste bedoelings ter wêreld bloot as feite aangebied.

Word egter na die minister van polisie geluister, is Suid-Afrika flink besig om die stryd teen veral geweldsmisdaad te wen, en is druk op hom om plaasmoorde ernstiger op te neem “foefies.”

Ganse Suid-Afrika betaal die prys vir persepsies oor korrupsie. En solank die indruk gewek word dat sommige mense onaantasbaar is, terwyl ander wat rug styf maak daarteen geviktimiseer word, so lank gaan die ANC as regering van die dag vir die land ‘n Block aan die been wees.

Die Wêreldbank sê korrupsie beroof ‘n land van sy toekoms.

En sjoe, dan word mense wat uitwys waar die probleem lê van dislojaliteit teenoor die land beskuldig, terwyl dit klinkklaar is dat iemand wat sag is met korrupsie of selfs daaraan meedoen, die werklike sedisie pleeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.