Nuuskommentaar: Bloedvergieting in Boston – Internasionale perspektief

Foto: Twitter

Drie mense is dood en meer as ‘n 100 beseer toe ‘n  paar skynbaar tuisvervaardigde bomme Maandagaand tydens die bekende Boston-marathon afgegaan het.

In Iran het ‘n aardbewing van magnitude 7,8 – die kragtigste in 40 jaar – die lewe van minstens 40 mense geëis, en in Venezuela is minstens sewe mense dood in geweld wat na ‘n omstrede presidentsverkiesing gevolg het. In Suid-Afrika is gister in alle waarskynlikheid meer as veertig mense vermoor.

Hoekom kry die voorval in Boston, wat die minste sterftes opgelewer het, by verre die meeste wêreldwye publisiteit? Hoekom trek dit die meeste reaksie, onder meer van politieke partye, die ANC inkluis, en ‘n absolute seldsame veroordeling van die gebeure uit Iran?

Die antwoord is geleë in die woord “terreur,” dikwels genoem propaganda van die daad. Terreur is ontwerp om mense met skok te laat reageer, dit is teater – dit wil mense skok, en is nie noodwendig begaan oor die fisiese aantal dooies nie. Die massa-media, en veral die TV, is hiervoor skitterende mediums – iemand kan letterlik duisende kilometer van die daad af dit in sy sitkamer sien, en met onsekerheid oor sy veiligheid beetgepak word.

Die VSA, as magtigste land ter wêreld, sal noodwendig die teiken bly van internasionale terreurgroepe soos Al Kaïda. ‘n Ontsaglike net is wêreldwyd gespan om dié terreurgroep en sy tentakels te probeer hokslaan, en dit is eintlik ‘n balanseertoertjie om genoegsame veiligheid te verskaf, en dit op so ‘n manier te doen dat die Amerikaanse burgers steeds die byvoeglike naamwoord, vry, kan gebruik om hul strewe en lewenswyse bymekaar te bring. Bykans alles, ook in die buiteland, word aangewend om terreurgroepe impotent te maak, en die aanwending van afstandbeheerde vliegtuigies om met dodelike presiesheid bomme op verdagtes te gooi – van Pakistan tot Yemen, lok algaande meer kritiek uit. Maak dié vorm van terreur die Amerikaners enigsins beter as hul vyande? Regstegnies is dit ‘n maklike antwoord, maar wanneer politieke terreur ter sprake kom, word die speelveld dikwels ‘n grys area, en raak moraliteitskwessies maklik verweef. Dit het veral duidelik geblyk toe die Waarheids- en Versoeningskommissie sy sittings in Suid-Afrika gehou het, en die indruk uiteindelik geskep is dat dit nie so seer die oorspronklike beplanners en plegers van terreur was wat gebieg het nie, maar mense wat dit beveg het – en toe self volgens eie getuienis onaanvarbaar opgetree het.

Dieselfde soort aanklagte word nou teen die VSA gemaak. In ‘n verslag wat pas deur die American Constitution Project bekend gemaak is, is bevind dat die VSA na die 9/11-aanvalle inderdaad van marteling en ander onwettige metodes gebruik gemaak het. Dit lyk in dié stadium onwaarskynlik dat die saamval van die Bostonse terreuraanval en die bekendmaking van die verslag met mekaar verband hou.

Die VSA se staatkundige bestel leen hom tot aksies in die buiteland. As federale land het die president en kongres baie beperkte regeerbevoegdhede en is dit beperk tot buitelandse sake, verdediging en enkele maatskaplike kwessies. Oor die oorgrote meerderheid binnelandse kwessies is die deelstate outonoom tot uitsluiting van federale magte. ‘n Amerikaanse president sal dus noodwendig meer buitelands aktief en betrokke wees as wat pres Jaco Zuma veronderstel is om te wees, anders gaan hy wat sy eintlike magte betref, erg onproduktief wees. Die CIA het ook slegs buitelandse bevoegdhede.

Om sy tuisbelange te beskerm, sal die VSA dus noodwendig die grense van die bevoegdhede van die internasionale reg toets, en word dikwels daarvan beskuldig dat dit daardie grense oorskry. Diktators en terreurgroepe wat Amerikaanse belange bedreig, asook hul bondgenote en meelopers, sal uiteraard die bevoegdheidsgrense van lande buite hul landsgrense wil terugsny, sodat hulle self vryer kan wees om hul booshede ten uitvoer te bring. Soms is die grense vaag en selfs skynbaar teenstrydig – aan die een kant is daar internasionale soewereiniteit, maar daarteen die internasionale regsbeginsel van “internasionale verantwoordelikheid om te beskerm.” Navo het hierdie beginsel toegepas om van Ghaddafi ontslae te raak toe hy gedreig het om ganse opstandige stede uit te wis. Maar wat nou van Sirië?

Die ander kant van die munt is dat die VSA besonder dikwels deurloop onder eenmanoorloë van mense wat die kluts kwytgeraak het. Dit is trouens ‘n skrikwekkende lang lys met die Newtonskool- en Batman-skieterye maar enkele van die gevalle.  In die meerderheid gevalle was die tekens vooraf teenwoordig, soos ook in die Anders Breivik-geval in Noorweë, en in minder opspraakwekkende gevalle in byvoorbeeld België.

Wêreldleiers moet ook waak dat hulle nie te veel deur insidente soos hierdie vasgevang word dat die oog op werklike groot bedreigings verloor word nie. Berigte uit Suid-Korea dui daarop dat Noord-Korea steeds voortgaan om wapens van massavernietiging gereed te maak vir lansering. Soos verwag kan word, het stemme van kundiges reeds begin opgaan dat die Noord-Koreaanse bedreiging eenvoudig ‘n te groot risiko inhou om nié eerste te slaan nie. Die Christian Science Monitor bespreek die opsies in ‘n interessante artikel.

Bloot om die internasionale perspektief af te rond. Dit is moeilik om die omvang van lewensverlies van die aardbewing in Iran vas te stel, enersyds omdat dit ‘n bergagtige gebied is, maar ook omdat die gebied deur een van die land se minderhede bewoon word, die Balochi. Die grootste deel van Balochistan val in Iran, maar ‘n gedeelte is ook in Pakistan. Veral Iran is berug vir hoe die Balochi hanteer word, met gereelde openbare teregstellings, ook van kinders, na bedenklike verhore. En Iran is absoluut berug vir die wyse waarop hy soektogte en noodtoestande hanteer na aardbewings in gebiede wat deur minderhede bewoon word. Dikwels is daar nie eens amptelike medelye van die kant van die president nie. Amptelike reddingsoperasies word na berig word opgeskort lank voor al die dorpies wat getref is bereik is. Die ongevallesyfer na die aardbewing uit Pakistan sal dus in alle waarskynlikheid meer betroubaar wees as dié uit Iran.

Wat die ongevalle uit Venezuela betref – na die dood van die naragtige Hugo Chavez het die wêreldaandag eers elders vasgeslaan. As die situasie ontwikkel sal die wêreld stellig kennis neem, want Venezuela is die grootste olieprodusent in die westelike halfrond.

En wat Suid-Afrika betref? Die kabinetswoordvoerder het pas verklaar dat navorsing toon dat Suid-Afrikaners veiliger voel … ‘n Mens wonder net of sy namens die boeregemeenskap praat, die bejaardes wat tot in ouetehuise aangeval word?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae