Nuuskommentaar: Bo blink…

Plaaspad in die Vrystaat

Die onluste in Thumahole, Parys, het die fokus geplaas op die treurige toestand van Vrystaatse munisipaliteite. RSG berig vanoggend dat al 20 die munisipaliteite in die provinsie in ‘n finansiële verknorsing verkeer.

‘n Groot deel van die probleem is dat die munisipaliteite saam meer as R4 miljard aan dienstegelde geskuld word. Hiervan staan staatsdepartemente met sowat R300 miljoen ook agter die deur. Hoewel R300 miljoen uit R4 miljard beduidend is, plaas die LUR vir plaaslike regering die skuld op swak bestuur en ‘n tekort aan finansiële en beheermaatreëls.

Die probleme is egter meer omvattend. Thumahole is die tuisdorp van die premier, Ace Magashule, en ook sy magsbasis. Hoewel die oorgrote meerderheid inwoners in die Vrystaat Suid-Sotho’s is, is Parys ‘n soort oorvloeigebied vir Tswana’s uit hul kerngebied in Noordwes, en Magashule self is ‘n Tswana. Nepotisme en kaderontlooiing in die plaaslike munisipaliteit, Ngwathe, is ‘n duur prys en sleep ook omringende dorpe in wat onder dieselfde munisipaliteit gebuk gaan, soos Heilbron.

Parys, die tuisdorp van Stompie Sepei, of Heilbron was nooit – polities gesproke – maklike gebiede nie. Toe Parys se distrik in die ou bedeling tot sogenaamde oliekolgebied verklaar en ‘n noodtoestand afgekondig is, het onstuimigheid bloot langsaan in Phiritona by Heilbron uitgeborrel. Uit verslae soos dié van Municipal IQ en die Ouditeur-generaal blyk dit egter dat die Vrystaat nie werklik al swart skaap is nie. Veral in die Oos-Kaap is munisipaliteite wat die sukkelende Vrystaatse munisipaliteite lag-lag na die kroon steek. Selfs Johannesburg se jongste OG-verslag is maar bedroewend.

Die LUR kan egter nie bloot die fout volledig op plaaslike regering afskuif nie. Die kantoor van die Vrystaatse Premier swyg nog soos die graf oor wat van R1 miljard geword het wat by die provinsie regering self soek geraak het, en waaroor die Ouditeur-generaal onlangs verslag gelewer het. Maar die nasionale regering self vaar nie veel beter nie, en stel oor die algemeen nie ‘n navolgingswaardige voorbeeld nie.

Heelwat staatsgeld is gebruik om sekere projekte wat met die ANC se eeufeesvieringe verband hou te finansier. Onlangs is berig dat drie vliegtuie ingespan is om te verseker dat pres. Jacob Zuma betyds by ‘n vergadering by die VN opdaag.
Werkloosheid en die onbekostigbaarheid van selfs die mees basiese dienste is ‘n groot deel van die probleem. Jaarliks skryf munisipaliteite groot bedrae af as oninvorderbare slegte skuld. Hoe nader die land aan ‘n verkiesing staan, hoe indrukwekkender is die afskryfaksies, en om te bepaal waar die afskrywings gedoen gaan word, word Jerrymandering in die oortreffende trap toegepas. Dit behoef, soos die ou mense gesê het, geen genie om te bepaal watter party se ondersteuners die grootste voordeel uit die skuldafskryfaksies put nie.

Selfs die ANC erken dat kaderontplooiing ‘n groot deel van die probleem is. Die party pas in beginsel nou ‘n aangepaste kaderbeleid toe, deurdat nomineel vereis word dat die kaders darem ook bekwaam genoeg vir die werk behoort te wees. Die probleem met belangebestuur is dat die grense daarvan voortdurend getoets word. AfriForum het pas toegetree tot ‘n swendelaksie by Wallmanstall wat in ‘n onwettige grondgrypaksie ontaard het. Ander instansies het reeds tevore probeer ingryp en onder meer interdikte bekom, maar die polisie het versuim om dit toe te pas. Eers toe AfriForum in die hart van die bedrogspul ingryp en bankrekenings deur ‘n hofbevel laat vries het die kwessie die nodige media-aandag getrek.
Uiteindelik is die vraag of korrupsie endemies geword het, ‘n bloot tegniese vraag. Die bestuur van die land reageer asof korrupsie endemies is, waarvan ‘n tipiese simptoom is dat werksgeleenthede soos mis voor die son verdwyn. Veral permanente werksgeleenthede kom onder druk, omdat werkgewers in die privaatsektor aan tsjôtsjô-mededingers uitgelewer is, en bied die beste dienslewering nie ‘n waarborg vir toekomstige tenders nie. Vroeg verlede jaar het die Vrystaatse hooggeregshof verskeie tenders deur die Vrystaatse tenderraad ter syde gestel. In een geval was die skewe toekenning so opvallend dat die hof self die hertoekenning gedoen het.

Die openbare sektor sukkel kort voor lank ook om sy personeeluitgawes te finansier. Benewens geld wat wegraak of nie ingevorder word nie, is die inkomstegaping in munisipaliteite so groot dat jaarlikse stakingseisoene gewaarborg is. Die soustreinryers slurp net buitensporig baie op.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae