Nuuskommentaar: Boemerang die looi van Zuma al weer?

“Politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis,” aldus die gewilde rubriekskrywer, Rhoda Kadalie. Presies hoe diep dié waarheid die Suid-Afrikaanse politiek beïnvloed, blyk die afgelope Sondag uit Rapport waarin prof. Dirk Kotzé van Unisa, en adv. Paul Hoffman van die Instituut vir Verantwoordbaarheid uiteenlopende standpunte inneem oor die impak van die DA se onlangse geslaagde appèlhofaksie wat pres. Jacob Zuma se kierantjies kan laat braai.

Kotzé meen die uitspraak het heelwat oemf verleen aan Zuma se veldtog om homself later vanjaar herverkies te kry. Hoffman meen die hofsaak gaan soos manna uit die hemel wees vir Zuma se teenstanders in die ANC.

Kotzé se stellings is, soos dié van Hoffman, nie merieteloos nie.

Met die vorige algemene verkiesing was dit duidelik dat die DA-leier, Helen Zille se genadelose aanslag op Zuma die teenoorgestelde uitwerking gehad het as wat beoog is. Selfs Cope het skade gelei, terwyl die persepsie gegroei het dat dit ‘n wit persoon is wat ‘n swart persoon so erg karnuffel. En die wit persoon is boonop ‘n vrou. Afvalliges het uit reaksie weer by die ANC ingeval.

Natuurlik hoort dit nie so in ‘n demokrasie nie. Maar net so hoort dit ook nie so dat een party in die kiesstelsel wat Suid-Afrika het, ‘n volstrekte meerderheid het nie. Dit is heel duidelik dat dit die gevolg is van wat dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, ‘n etniese sensus noem wanneer Suid-Afrikaners gaan kruisies trek.

Boonop het die kenners van 1994 intussen tjoepstil geraak in hul projeksies dat ‘n tipiese Afrika-bevrydingsbeweging drie algemene verkiesings kan oorleef. Die eerste word op populisme gewen, en alle spore van kleitrap word op die vorige bedeling se brood gesmeer. Met die tweede verkiesings kry die heersende party dit steeds reg om sy brouwerk aan die vorige bedeling toe te skryf, maar die krake wys. Na tien jaar is daardie verskoning uitgedien, en word ander populistiese sake geopper, soos grondgryp en nasionalisering, soos wat in Zimbabwe gebeur het. Mugabe sou lank reeds die onderspit gedelf het as hy nie stille, en soms minder stille steun soos geldelike bydraes vir “landbou” uit Suid-Afrika gekry het nie. Die ANC, selfs met verrotte wortels van ‘n dooie boom aldus Tim du Plessis, bewys die hipotese verkeerd.

Die DA het na die uitslae van die laaste algemene verkiesing self die gevolge van so ‘n veldtog op die swak skakel, Zuma besef, en in so ‘n mate meer Rooms as die pous begin word, dat die DA nou volgens Jan-Jan Joubert, politieke redakteur van Die Burger, met ‘n agter die skerms konserwatiewe aanslag te kampe het. As Joubert reg het, het hy ook rede om ligweg tong vir die DA-leierskap uit te steek. Joubert waarsku al immers jare lank dat die DA nog gebyt gaan word deur die koestering van konserwatiewe elemente in die party, wat vir die liberale vleuel ‘n blok aan die been is.

Die DA se DNS is volgens prof. Albert Venter liberaal, en iemand met ‘n ander siening moet besef dat hy bloot sy stem aan die DA leen, in hoofsaak die mees pragmatiese wyse om van, soos die ANC-DNS-gesinde  prof. Jakes Gerwel al meer as ‘n jaar gelede die ANC beskryf het, ‘n vrot regering, ontslae te raak.

Dat dit klaarblyklik nie so eenvoudig is nie, is heel duidelik. Kiesers wat weg van hul eie ideologiese beginsels stem, is selde so gemotiveerd soos kiesers wat hul party volledig ideologies steun. Die ANC het dié probleem probeer oorkom deur as broad church interne ruimte te laat deur aan elk van sy alliansievennote ‘n mate van beleidsoutonomie te verskaf. Dit beteken die ANC se perde is nie behoorlik getem nie, en raak nou weer wild.

Die DA het, soos ‘n groep bekende negrofiliste wat wissel van grondwetkenners tot joernaliste, fout gevind met AfriForum se haatspraakgeding teen Julius Malema. In wese kom die breë spektrum kritiek daarop neer dat baie gevoel het die Afrikaner behoort nie as minderheid beskou te word wat daarop op die minderheidsregte van die internasionale reg aanspraak te kan maak nie. Die politieke redes wat uit hierdie dampkring geopper is, is dat die hofsaak rassepolarisasie sou aangeblaas het, en dat die blinde oog daarom op Malema se haatspraak gewerp moes word.

AfriForum en die TLU-SA, asook die meer as 70 ander instansies soos die AB en individue wat Malema oor dieselfde ding verkla het, het egter die grondwet self gebruik om te kla. Dit is pikant om ‘n groot voorstander van die grondwet te wees, maar op die selektiewe toepassing daarvan te hamer.

Die DA verdien al die krediet wat dit kan kry oor die appèlhofuitspraak, en wat waarskynlik ook nog, soos die Malema-saak, ‘n draai deur die Grondwetlike Hof sal gaan maak.

Dit laat die vraag egter steeds onbeantwoord: Hoe kan demokrasie in Suid-Afrika normaliseer as dit so bedryf moet word dat alles nie met ‘n rassekaart gemeet moet word nie? In dié stadium is die ANC met sy wetboek vol rasgebaseerde wette die groot sondaar.

Die situasie noop aanvullend tot partypolitiek, ook burgerlike instellings meer aktief binne die grondwet funksioneer om ook ander belangegroepe as dit wat in die grootste politieke partye die koers bepaal, stukrag te gee.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae