Nuuskommentaar: Boere en probleme met persepsies van die werklikheid

Die mens reageer op sy persepsie van die werklikheid, nie die werklikheid self nie. Dit is nie ‘n nuwe persepsie op die werklikheid nie, maar dit word daagliks onderstreep.

Onder die jongste voorbeelde is ‘n dwarsklap van minister Trevor Manuel na die media oor die media se houding oor die voorgestelde snoerwet. Manuel, wat ‘n reputasie het dat hy kabinetpersepsies nie klakkeloos napraat nie, meen nou die media het ‘n vooropgesette idee (persepsie) oor die snoerwet, en voer so die publiek blindelings met idees wat nie strook met die werklikheid nie.

Net so het baie Afrikaners seker gewonder wat Vrystaat Landbou besiel het om Max du Preez as gasspreker vir hul jaarkongres te kry. Vanoggend berig Volksblad dat Max die boeregemeenskap geadviseer het om hul beeld te verbeter om die persepsies daarvan te verander. Die strewe moet wees om mense se siening van boere as “gronddiewe” na werkgewers en kosvoorsieners te verander.

Beide Manuel en Vrystaat Landou kan stellig gebelgd voel dat, na hierdie instansies werklik hard gewerk het om onderskeidelik die “werklike” prentjie oor die snoerwet oor te dra, en om die beeld van die kommersiële boer te verbeter, die teenoorgestelde skynbaar steeds geglo word. En die georganiseerde landbou het veel meer as net gekommunikeer en beeld gebou – daar is talle fisiese projekte van stapel gestuur, wat al baie jare lank kom. Weens oorgrensmisdaad het die ou uitreikaksie om grond vir die boere in Lesotho te gaan ploeg skynbaar effektief doodgeloop. Maar ander aksies soos die mentorskappe in die Vrystaat en bemagtigingsaksies in die Wes-Kaap word volgehou, al kry dit baie min mediadekking – veral in die media wat die gemeenskappe bedien wat die negatiefste persepsies het.

Maar al die harde werk ten spyt, kos dit net een sogenaamde aspersiberig, en die wêreld is op hol oor beweerde uitbuiting en die wit aspessiebedryf is byna nek omgedraai.

En dan is daar natuurlik die vrot appel verskynsel – een dwarstrekker wat in ‘n ommesientjie die goeie werk wat ander jare lank doen in die persepsies van die publiek nek omdraai.

Uit die onlangse Herman Guilomee – Anton van Niekerk – Jan-Jan Joubert – Leopold Scholtz-debat is dit duidelik dat persepsies van die werklikheid nie net baie oorheersend is nie, maar dat daar elfs ‘n ideologiese dryfkrag is om politiek-korrekte persepsies bo die suiwer historiese te stel. Die probleem met ‘n gelaaide weergawe van die werklikheid in ‘n diverse en gepolariseerde gemeenskap is dat dit net verder verwyder en polariseer, en die broodnoodsaaklike vak, geskiedenis, onder ongeregverdigde aanslae laat deurloop.

Net so sal Vrystaat Landbou, en sy moederliggaam, Agri SA, met verstomming vra wat nou nóg gedoen moet word om sy beeld te verbeter. En dit is hier waar Agri SA dalk tog sy ore vir Max kan uitleen – dink meer strategies. Strategiese kommunikasie is nie sommer ‘n instinktiewe en duimsuigding nie. Dit verg kundiges. Dit kan egter ook ‘n peperduur onderneming wees as van die “fly by night”-kommunikasiemaatskappye gebruik gemaak word wie se grootste bate is dat hulle hul eie beuel kan blaas en eie vermoëns oordryf. Landswyd is daar kundiges wat lag-lag daardie maatskappye kan uitpresteer en teen ‘n fraksie van die koste.

Hoewel groot werk reeds gedoen is, is dit duidelik dat sand nog met ‘n teelepel van die Namib weggedra word. Die persepsie bestaan steeds dat georganiseerde landbou grootliks vasgevang is in die voor-Thatcher-era waar Britse parlementslede hulself as die meester-kommunikeerders beskou het, en strategiese kommunikasiekundiges vlak gekyk het. Thatcher en haar jong Tories het egter kundiges ingespan en byna vanuit die niet aan bewind gekom – net om later weer in die groef te verval.

Max was self al deel van so ‘n beeldbou-aksie toe hy en Antjie Krog as gaste van die Ethiopiese regering daardie land besoek, en daarna in gloeiende terme oor die land berig het. Daar is onder meer in die artikels lof besing van die landbou daar, en selfs hoe die etniese federasie die talle burgeroorloë opgeklaar het. Duidelike persepsies is gevestig, terwyl die werklikheid effens anders is. In Europa word Ethiopië steeds as voorbeeld genoem van ‘n land wat onder meer deur sy halsstarrige landboubeleid gereelde sarsies van hongersnood aanhelp, en dan moet mense wêreldwyd opdok vir noodingryping. ‘n Duidelike weerstandigheid hieroor is aan die ontwikkel. Hoewel die vorming van ‘n etniese federasie wel baie konflik verlig het, gebeur die teenoorgestelde dikwels in die praktyk, en bly Ethiopië hoog op die agenda van die Minority Rights Group International en die Unrepresented Nations and People’s Organisation. Pas was daar lewensverlies toe die regering een groep op die grondgebied van ‘n ander hervestig het. Minderhede word doodgewoon ontwortel om plek te maak vir groot buitelandse korporasies. Die Omoro’s het onlangs twee dae lank in Den Haag protes teen hul lot in Ethiopië aangeteken.

Daar is ‘n gereelde stroom van Suid-Afrikaanse meningsvormers, veral senior joernaliste, wat Israel as staatsgaste besoek. In die onlangse woordewisseling tussen prof. Amanda Gouws en Rhoda Kadali is Kadali, wat ook al so ‘n gas was, vir haar blindelingse steun vir Israel verwyt.

Wat Manuel se klag oor die media betref: Het die regering ‘n rekord van skoon administrasie en doeltreffende regering gehad, sou sy stem nie soos ‘n geblaf in die wind geklink het nie. Teen dié agtergrond is dit onmoontlik om goeie bedoelings te verkoop as die wetgewing volgens die internasionale persepsie – nie net die media in Suid-Afrika nie –  gebruik kan word om onheile onder die mat in te vee. Boonop het Manuel nou ‘n kwalik bedekte steekhou teen die beginsel van die beskerming van fluitjieblasers ingekry. Sonder fluitjieblasers is dit onmoontlik om een van Suid-Afrika se grootste probleme, korrupsie, doeltreffend hok te slaan.

Beeldbou is ‘n goeie ding, solank dit nie gedoen word om donkiedr*lle as vye op te dis nie. Dan is dit nie meer strategiese kommunikasie nie, maar propaganda in die dampkring van Goebels.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Johan du Plessis ·

Die “Boeremag” mag gerus ook ‘n ander naam kry,

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.