Nuuskommentaar: Bring nuwe Palestynse status nuwe probleme?

Mahmoud Abbas, president van die Palestynse owerheid

Palestina het vanoggend ontwaak in die wete dat dit met ‘n groot meerderheid ‘n nuwe VN-status verwerf het – die van nie-lidstaat met waarnemerstatus. Tot nou toe is die gebied bloot as “entiteit” erken.

Suid-Afrika het nie net die mosie gesteun nie, maar was een van die 70 lidlande was as mede-borge van die voorstel opgetree het.

Uiteindelik het 138 van die 193 lidlande die voorstel gesteun, 9 daarteen gestem en 41 buite stemming gebly.

As die stemgetalle buite rekening gelaat word, en bloot gekyk word na wie hoe gestem het, lyk die prentjie baie anders.

Onder die lande wat daarteen gestem het tel eerstens die VSA, Kanada en  Tsjeggië. Onder die lande wat buite stemming gebly het, maar in hul uitsprake self sterk teen die voorstel standpunt ingeneem het, tel Duitsland, Nederland, Brittanje, Singapoer en Hongarye.

Van die wêreld se bekendste muishondstate, soos Kuba, Zimbabwe, China, Venezuela en Katar tel onder die “borg”-lande, maar ook Frankryk en Italië het die voorstel met hul stemme gesteun.

Soos verwag kon word het beide pole stemme getrek van staatjies wat kwalik op groterige wêreldkaart sigbaar is, maar volle stemreg het en hul stemreg in internasionale forums skaamteloos aanwend waar hulle die meeste voordeel daarmee koop. Baie van dié landjies stem Japan gereeld uit die warm water uit oor sy walvisjag.

Dié verwikkelinge kom nadat ‘n vroeëre poging verlede jaar om volle lidstatus te verkry in die Veiligheidsraad geveto is.

Die kritiek teen die stemming, soos uitgedruk deur onder meer die VSA, Nederland en Kanada, is dat die nuwe status eerder struikelblokke plaas in Palestina se toekoms, as wat dit oplossings bring. Hulle, en ook Israel, dring daarop aan dat daar eers ‘n onderhandelde skikking met Israel moet wees.

Brittanje het vooraf duidelik kommer uitgespreek omdat die nuwe status Palestina toegang bied tot VN-liggame, soos die Internasionale geregshof in Den Haag, wat beteken dat Israelse individue – ook regeringsleiers – daar van misdade teen die mensdom aangekla kan word.

Suid-Afrika se standpunt is verwag. Daar is nie net ‘n lang geskiedenis van noue bande tussen die ANC – toe nog ‘n verbode organisasie – en die PLO nie, maar die Palestynse saak geniet sterk steun in plaaslike Moslemgeledere, wat ook tot binne die regering strek. Die regering se standpunt gaan dikwels erg mank aan die werklikheidsbesef dat daar twee, en selfs meer kante aan die saak is. Israel word waarskynlik ook nou gestraf vir sy bande met die vorige regering.

In die Afrikaanse media verskyn gereeld rubrieke wat sterk Palestynse sentimente dra, wat die skrywers se reg is, maar ongelukkig erg aan historiese en ander feite gebrek gaan. Een van die manifestasies was dat verwag is dat die Obama-administrasie ‘n meer pro-Palestynse houding sou inneem as dié van sy Republikeinse teenstander, Mitt Romney.

Dat sake in die praktyk anders verloop, is ook veel komplekser as om bloot te argumenteer dat Amerikaanse presidente deur die Joodse stem gyselaar gehou word. Peilings toon dat die meeste Amerikaanse Jode om tipies Amerikaanse faktore vir die Demokrate stem, terwyl die meeste Jode in Israel, sou hulle stemreg in die VSA gehad het, vir die Republikeine sou stem. Rasmussen wys daarop dat die Amerikaanse Jode dit duidelik maak dat hul belange eerstens in die VSA lê.

Die VN-verwikkelinge is gebou rondom die saak van die PLO van Mahmoud Abbas. Mahmoud is die president van die Palestynse owerheid, en dié organisasie is gefokus op ‘n eie, onafhanklike tuisland vir die Palestyne – die tweestaatbenadering waar Israel en Palestina as twee state naas mekaar sou bestaan, soos aanvanklik bedoel is toe die gebied so deur die Volkerebond verdeel is.

Dat dit nie in die praktyk gematerialiseer het nie, het min met Israel te make. Jordanië het eerstens die Wesoewer oorgeneem en volledig geannekseer, en toe ook Jerusalem en omstreke wie se status later deur ‘n referendum bepaal sou word. Egipte het die Gazastrook ingeneem en geannekseer.

Die selfregerende status wat die Palestyne nou geniet, is ironies die gevolg van Israel se latere verowering van die gebiede, en die Camp David-ooreenkoms. Die Camp David-ooreenkoms het egter vaaghede oor die toekoms van die Palestyne bevat, en dit boonop in ‘n bylae vir toekomstige oplossing probeer bêre.

‘n Tweede probleem is dat Hamas, ‘n radikale organisasie, die beheer van Gaza oorgeneem het en dat die PLO daar effektief geen gesag uitoefen nie. Hamas erken nie die bestaansreg van Israel nie, en word boonop deur ander militante Jihad-groepe, asook deur radikale lande ondersteun. Vanuit hierdie gebied word gereeld vuurpyle op Israelse burgerlike woongebiede en selfs skole afgevuur, en weerwraakaanvalle sonder burgerlike ongevalle is moeilik omdat die vuurpyle dikwels, skynbaar doelbewus, van skoolterreine en installasies dig teen hospitale afgevuur word.

Israel se reg op reaksie word wyd erken, maar dikwels word gevoel dat die reaksie buitensporig is.

Tussen Israel en die Palestyne bestaan twee hoofpersepsies oor dieselfde werklikheid waar raaklvlakke maar yl is. Kort na die VN-stemming het Israel Abbas daarvan beskuldig dat hy onwaar propaganda in sy oorwinningstoespraak gebruik het. Dié persepsies het ook deel van die internasionale werklikheid geword.

Slegs die toekoms sal leer of die nuwe verwikkelinge die kwessie nader aan ‘n oplossing gering het.  En ‘n oplossing is vir die wêreld bitter belangrik, want die ganse wêreld betaal daarvoor as daar in hierdie geopolitieke knooppunt onstabiliteit is.

Die oplossing lê egter nie net in Israel en die Palestyne se hande nie. Aan die een kant is daar lande soos Iran wat Israel se bestaansreg nie erken nie, en aan die ander kant lande soos die VSA en Duitsland wat Israel se onafhanklikheid waarborg. Duitsland se waarborg is ‘n tipe “kompensasie” vir die Joodse volksmoord aan die hand van die Nazi’s.

Israel kan nie weggewens word, of sonder ‘n wêreldoorlog van die aardbol geveeg word nie, en sy vyande moet ook daarmee vrede maak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae