Nuuskommentaar: Busramp, openbare skietery en lang verhore: Insidente wat lewens verander

Die foto is deur @AngelaGillham op Twitter gelaai.

Die eerste herdenking van die Anders Breivik-massaslagting in Noorweë het op enkele dae na saamgeval met die skietery in die VSA tydens die bekendstelling van die nuutste Batman-fliek. Suid-Afrika is geskud deur ‘n busongeluk in die Oos-Kaap kort na ‘n voorval in Mpumalanga waarin seisoenale werkers dood is toe ‘n steenkooltrein ‘n vragmotor getref het. Vandag begin die uitspraak van die Boeremagverhoor, nege jaar na die verhoor begin het. Dié sake het dit in gemeen dat dit talle lewens blywend verander het…

Massaslagtings deur individue

Hoewel dit nie ‘n vreemde verskynsel is dat iemand op ‘n dag uithaak en ander doodskiet nie, het die voorval toe Anders Breivik ‘n jaar gelede 77 mense, meestal jongmense, om die lewe gebring het dié verskynsel behoorlik onder die vergrootglas geplaas. Kundiges gaan nog lank uitpluis wat aangaan, en dit lyk of dit ‘n kombinasie van sosiologiese en sielkundige oorsake het, wat ‘n presiese “diagnose” baie moeilik maak. Politiek speel dikwels ook ‘n belangrike rol.

Hoewel Breivik se skietery die meeste aandag geniet, is hy nie die enigste die afgelope aantal jare nie. Suid-Afrika het onder meer die Magoo’s-insident beleef, die Wit Wolf en die Skierlik-skietery.

Die VSA loop ook betreklik gereeld onder insidente van dié aard deur. Jarred Lee Louchner se skietery op ‘n groep mense waartydens die kongreslid Gabrielle Griffords in die kop gewond is, is voor die jongste voorval die bekendste. Daarna die Breivik-voorval in Noorweë, skynbaar meestal teen Moslem-immigrante gemik, en toe die Nordine Amrani-insident in België wat ses mense se lewens geëis en het 123 beseer gelaat het. Onder die dooies was ‘n 18-maande oue dogtertjie. (‘n Vorige Maroela-nuuskommentaar waar na die sielkundige en sosiologiese faktore gekyk word, en heel gepas die titel het van: “Kwaad vir die wêreld en skiet onskuldigs” kan gelees word by https://maroelamedia.co.za/blog/nuus/nuus-in-konteks/nuuskommentaar-belgiese-bloedbad-kwaad-vir-die-wereld-en-skiet-onskuldiges/ )

Hoewel die jongste insident, dié van die 24-jarige verdagte James Holmes, in baie opsigte sielkundig-sosiologies met die ander ooreenstem, is dit voortydig om te veel afleidings te maak. Kenners “werk oortyd” om agter die kap van die byl te kom.

Wat belangrik is om in gedagte te hou is dat sosio-politieke toestande so kan ontwikkel dat iemand wat sielkundig onstabiel is, op ‘n dag kan uithaak en onskuldige mense en selfs babas die ewigheid kan inhelp. Hulle is dikwels sterk deur ander ideologies-verdwaaldes beïnvloed – mense wat nie self in staat is om so uit te haak nie. En al het hierdie ander nie self die sneller getrek nie, is hulle tog deels moreel aanspreeklik. Daar lê dus by elkeen van ons ‘n belangrike verantwoordelikheid oor hoe ons die wag voor die mond inspan.

Die Boeremagverhoor

Omdat die saak nog sub judice is, is dit onvanpas om oor die meriete van die saak kommentaar te lewer. Wat wel belangrik is, is dat ideologiese oortuigings nie net individue aktiveer nie, maar ook groepe. Nege jaar later is die verhoor nou by die punt waar uitspraak gaan begin, en in dié nege jaar is verskeie mense se lewens verwoes, insluitend simpatiseerders wat met ontsnappings gehelp het. Onskuldige kinders is geraak deur die lang aanhouding van hul pa’s, en families is finansieel vernietig.

Simpatie met die aangeklaagdes het bygedra daartoe dat hul ideologie verder versprei en momentum gekry het. Die feit dat Jackie Selebi pas na hy slegs ‘n fraksie van sy vonnis uitgedien het mediese parool gekry het, terwyl die bejaarde Clive Derby-Lewis skynbaar bestem is om in die tronk te sterf, kompliseer die kwessie verder, al is daar geen regstreekse verband tussen Derby-Lewis en die Boeremag nie.

Boonop is Selebi se saak deur die vroeë parool deur die gholfspelende Shabir Shaik, Tony Yengeni en kort tronkstraf van dr. Allan Boesak besoedel en in omstredenheid gedompel. Die regspraak kan so onbevange en onbevooroordeeld wees as wat ‘n mens maar net van kan droom, maar as die politici onoordeelkundig hul magte by vonnisuitdiening inspan, word die hele doel van ‘n onafhanklike regbank ondermyn.

 

Busramp

Die Westdene-busramp het reeds getoon hoe ontsettend die dood van kinders in so ‘n ongeluk op die gemoed van die gemeenskap en die hele land kan inwerk. Met die jongste ongeluk in die Oos-Kaap is dit nie anders nie, soos blyk uit die kommentare op Maroela Media se webblad, en ook op Maroela se Facebook.

‘n Volk wat sy kinders koester, is ‘n volk wat die moeite werd is om te mag bestaan – dis ‘n volk met ‘n hart. Soos in die gevalle van skieters en politieke gunste met vonnisse, word die ontleedmesse ook diep uitgehaal oor die verskynsel van ongelukke waarby busse en mini-bustaxi’s  betrokke is.

Ook hier word sosiologiese en sielkundige aspekte onder die loep geneem – die hegtheid van gesinne en families wat weens werksgeleenthede wyd verspreid oor die land woon, maar graag so gereeld as wat moontlik is by mekaar wil uitkom. Passasiers wat haastig is om by familie te kom, word  uitgebuit deur inhalige entrepreneurs wat uitgeputte bestuurders tot gevolg het, wat ook deur die bonusmotief gedryf word om roekeloos te word om sy passasiers af te laai, en weer terug te jaag vir nog ‘n vraggie. En te dikwels sterf onskuldige partye ook wat al die nodige voorsorg en versigtigheid aan die dag gelê het.

Die gemene deler

Al hierdie gevalle het dit in gemeen dat die naasbestaandes se lewens onherroeplik verander. Ouers wat hul kind of kinders finaal wegbêre is in hul harte geruk. Gesinne wie se enigste broodwinner net nie meer daar is nie, word ten diepste geraak. Geestelike en materiële ondersteuningstelsels is uiters belangrik. Christelike deernis is onontbeerlik. Maar as elkeen verantwoordelik optree, kan baie van hierdie trauma voorkom word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae