Nuuskommentaar: Citius, Altius, Fortius: Verhale van deursettingsvermoë in aanloop tot Olimpiese Spele

Die Olimpiese Spele in Londen begin môre, en Suid-Afrikaners sal verskeie items volg om te kyk watter Suid-Afrikaners dalk ‘n medalje of twee huis toe bring. Die aanbreek van die Spele volg boonop na Ernie Els uit amperse vergetelheid weer losgetrek en die Britse Ope verower het. Die Proteas het met mening kleingeld gemaak van die wêreld se nommer 1-toetsspan,  Engeland. In die vyf dae van die toets kon Engeland net twee Suid-Afrikaners se paaltjies inoes, terwyl die Proteas 20 Engelse kleedkamer toe gestuur het. Die toets het boonop ‘n eerste 300-tal in ‘n toets vir ‘n Suid-Afrikaner opgelewer, en nog twee het honderdtalle aangeteken.

Nou skuif die aandag eers na die Olimpiese Spele. Baie water het in die see geloop sedert baron Pierre de Coubertin sy ideaal van die moderne Olimpiese Spele in 1896 in Athene verwesenlik het. Die Olimpiese ideaal kan opgesom word as die deelname van individue eerder as lande, waar in vrede meegeding word, vry van politiek en rassisme.

Die Olimpiese beweging het in 1924 in Parys die volgende leuse aanvaar: Citius, Altius, Fortius – Vinniger, Hoër, Sterker. By hierdie Olimpiese Spele  sal die aandag sal ook op Suid-Afrika se lemloper, Oscar Pistorius wees wat as fisies gestremde groot struikelblokke oorkom het om aan die Olimpiese Spele te kan deelneem. Pistorius, en met die Spele in Beijing, Natalie du Toit, is nie al deelnemers wat die skynbaar onmoontlike moes oorkom nie.

Verhale van deursettingsvermoë en selfs ontbering van atlete ontvou nou. Vier jaar gelede het Gladys Tedeja van Peru nog nie eens van die Olimpiese Spele gehoor nie. Sy het in ‘n arm gesin in die berge grootgeword, en skape opgepas. Tien jaar gelede, as sestienjarige, het sy vir ‘n wedloop oor sewe kilometer hoog in die berge aangetree, en aan haar voete het ‘n paar hardloopskoene gepryk wat sy kort voor die wedloop te lene gekry het. Sy het self nie so iets besit nie. Sy het dié dag tweede oor die wenstreep genael. Vanjaar verteenwoordig sy haar land in die marathon.

Mohamed Hassan Mohamed van Somalië moes daagliks voorberei terwyl sluipskutterkoeëls op Mogadisho se “pad van die dood” om sy ore gefluit het. Die Amerikaanse judoka, Kayla Harrisson, wat deur ‘n afrigter gemolesteer is, het gedagtes oor selfmoord oorkom en staan ‘n realistiese kans om die eerste Amerikaner te word wat ‘n goue medalje in Judo verower.

So is daar talle atlete wat die skynbaar onmoontlike oorkom het, maar waarvan net hul eie gemeenskappe of net hul gesinne weet. Wanneer hulle aantree, wil hulle as gelykes aantree – vir baie van hulle reeds die grootste oorwinning, en ‘n medalje boonop ‘n spesiale kroon.

Waar Suid-Afrika egter tot verhouding van sy bevolkingsgetal by die Olimpiese Spele onderpresteer, vaar die gestremde atlete wat aan die Paralimpiese Spele deelneem weer besonder goed en ryg die medaljes in. Ook hulle dien as rolmodelle vir diegene wat nié hierdie uitdagings die hoof hoef te bied nie.  Nie almal het egter die Godgewe talente om aan ‘n Olimpiese Spele deel te neem nie, en nie almal het die geleentheid gekry nie al het hulle hard probeer.

Daar is egter ook ander terreine waarop mense kan presteer na hulle uitdagings die hoof moes bied. En elkeen wat hul talente ten beste ontwikkel, en die ondersteunigstrukture soos hul ouers en skole koester, het in die harte reeds medaljes van die hart verower. Londen is vanjaar die eerste stad wat die Spele die derde keer aanbied en alles gaan oënskynlik nie so voor die wind met die reëlings nie. Daar is ernstige probleme met die maatskappy wat gekontrakteer is om die veiligheid te verseker; drie vermeende terroriste is reeds aangekeer en inkriminerende materiaal is by twee gevind; die doeanebeamptes het gedreig om vandag, die dag voor die spele te staak en daarna nie oortyd te werk nie; treindrywers dreig ook om te staak; sakkerollers se lang vingers beland teen ’n koers van 1 700 voorvalle per dag in slagoffers se sakke; en van die atlete wat vroeër opgedaag het kon nie in die Olimpiese dorp intrek nie omdat die bouwerk nog nie klaar was nie.

Die internasionale maatskappy wat die medaljes se metaal voorsien, Rio Tinto, loop nou al maande lank onder protsoptrede deur weens die werskomstandighede van baie van sy 77 000 werkers. Pas het ’n Nederlandse vakbond ook sy stem daarby gevoeg en gesê die medaljes het ’n swart randjie – verwysende na die werkersomstandighede. Boonop word Rio Tinto daarvan beskuldig dat dit wêreldwyd die lug en riviere besoedel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.