Nuuskommentaar: D-dag – op ‘n manier

Polisiestasies wat skielik van onder ‘n boom af bedryf moet word omdat die departement van openbare werke nie die huurgeld betaal het nie – of sonder water en krag sit omdat munisipale rekenings nie betaal is nie… Dit blyk maar die oortjies van die seekoei te wees.

Verskeie munisipaliteite trek noustrop deels omdat die staat nie sy munisipale rekenings vereffen nie. Kort-kort erken die staat dat hy nie weet watter eiendom hy besit nie, hoewel in die jongste tyd, die departement van openbare werke meen hy weet wat die staat besit, net nie waar die eiendomme is nie. Nie alle intelligente lewe sal agter die kap van so ‘n stelling kan kom nie.

Die SAUK het gisteraand berig dat die departement van openbare werke erken sy sake is in chaos, en dat ‘n multi-departementele span aangestel is om te help om sake uit te pluis en oplossings te vind. Ongelukkig, as na die verslae van die ouditeur-generaal gekyk word, sal kundiges van ander departemente fyn uitgesoek moet word, want ‘n blote bymekaar hark sal daartoe lei dat die een blinde die ander lei en beide in die sloot beland.

By geleentheid het ‘n groot koerant se sekretaresse met ‘n man elders gaan trou en bedank, en skielik was die redakteur se personeellêer skoonveld. Na die wittebrood kry die koerant haar in die hande om vas te stel wat van die lêer geword het. Dis geliasseer, onder “M” vir “meneer” kom die verduideliking. As daar na departemente se verduidelikings voor die verskillende portefeuljekomitees geluister word, klink dit of baie inligting onder “D” vir “deurmekaar” geliasseer word.

Dit lyk inderdaad of D-dag aangebreek het. Die staat op nasionale vlak het in verskeie provinsies ingegryp, en probeer om lêer D uitgepluis te kry. Die ouditeur-generaal, self sonder uitvoerende gesag, pluis jaar na jaar die lêer uit, maar niks of baie min word gedoen om dié lêer daarna te orden. Dit is die gerieflike lêer om wanadministrasie en die brouwerk van onbekwame ontplooide kaders in te verdoesel. Dit dien klaarblyklik ook as die wegsteekplek van korrupsie.

Pas het die nasionale ingryping in die Vrystaat se departement van paaie en polisie, wat ook die tenderraad akkommodeer, sy eerste ernstige ongeval opgelewer toe die adjunk-direkteur-generaal afgedank is. Soos gebruiklik blyk dit dat hy ook ‘n spoor van soortgelyke probleme by sy vorige werkgewers, twee Vrystaatse munisipaliteite, agtergelaat het maar telkens na hoër poste herontplooi is.

In die proses is van lêer D ‘n regte Pandora se boks gemaak.

En sy verhaal is ongelukkig nie ‘n uitsondering nie. Seker een van die mees klassieke voorbeelde was toe premier Ace Magashule die munisipale bestuurder van ‘n munisipaliteit wat onder administrasie geplaas was, as LUR vir plaaslike regering aangestel het. Dié aanstelling het soos verwag kon word, nie gehou nie, maar veel langer as wat dit moes en die Vrystaat het die prys betaal.

Die goggas wat die Volksblad nou daagliks oor sake binne die departement paaie oopruk gaan nie sonder reperkussies wees nie. As net ‘n fraksie van die gerugte by die publiek in omloop oor politieke bevoordeling met tenders waar is, gaan die OG-ondersoek na die tenderraad selfs pres. Jacob Zuma se veldtog om tot leier van die ANC herkies te word, ernstig beïnvloed, want van die geïmpliseerdes is sy grootste bondgenote in die provinsie.

Dit onderstreep weer bloot hoe belangrik dit is dat die media nie net persvryheid moet geniet nie, maar toegelaat moet word om die kapasiteit te ontwikkel om die sterkste beskikbare kandidate aan te stel sodat lêer D behoorlik uitgeskud, en aan die kiesers voorgehou kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.