Nuuskommentaar: DA-plakkaat en rewolusie deur die kuberruimte

Wyle minister Blaar Coetzee is aangehaal as sou hy gesê het vir ‘n politieke party is daar nie so iets soos slegte publisiteit nie, net publisiteit.

Tog het die regering waarvan hy deel was ‘n reeks omstrede snoermaatreëls ingestel met die Erasmuskommissie van regter Rudolf Erasmus as die vernaamste manifestasie. Die kommissie was op sy beurt ‘n plaaslike manifestasie van die wêreldwye verskynsel dat terreurgroepe nie-selektiewe dade van terreur gebruik het as ‘n vorm van kommunikasie om hul saak aan die wêreld bekend te stel. Dit het in die politieke wetenskap as die propaganda van die daad bekend gestaan.
Ook die huidige regering voel duidelike ongemak met die skade wat mediavryheid aan ‘n party wat verbrou kan aanrig. Nie net is omstrede wetgewing en maatreëls in die oog nie, maar beplan die regering sy eie koerant onder die redakteurskap van die omstrede Jimmy Manyi, en is aangekondig dat ‘n firma – op staatskoste – gekontrakteer gaan word om sekere joernaliste en media te monitor.

Terwyl die Amerikaanse politici duiselingwekkende bedrae aan publisiteitsveldtogte spandeer, was Britse politici uiters traag uit die blokke om behoorlike kommunikasieveldtogte te voer. Die stiff upper lips Britse politici het hulself as die meesterkommunikators beskou wat op toesprake in hul eie kiesafdelings gefokus het. Eers toe die jong Tories onder die leiding van Margaret Thatcher ‘n doeltreffende kommunikasieveldtog geloods het en die Arbeiders die loef afgesteek het, het professionele kommunikasieveldtogte gevolg.

Politieke kommunikasieveldtogte in Suid-Afrika bestaan breedweg uit twee dele, en word in Engels uitgedruk as: Advertising is what you pay for, publicity is what you pray for.

Veral partye wat die rieme dun moet sny, is baie afhanklik van publisiteit, en doen gewoonlik heelwat moeite om die openbare oog te tref. Dis nie maklik nie, omdat die blote feit dat ‘n party klein is, beteken dit so ‘n party se menings is minder nuuswaardig. Groot vindingrykheid word ingespan om nuus meer nuuswaardig te maak, en die trefkrag te verhoog; ‘n proses wat bekend staan as hiperbolisering. Met die ontwikkeling van die kuberruim en sosiale netwerke het ‘n nuwe dimensie ingetree. Dit is baie goed deur Tim du Plessis saamgevat toe Nasionale Pers van geplooide politieke beriggewing beskuldig is: ‘n Koerant wat dit waag sal eenvoudig vind dat die kuberruim, en die “alewige blogs,” die werklike nuus buite-om die gedrukte media neem, en sal koerante hul geloofwaardigheid verloor.

‘n Paar jaar later het Du Plessis weer hulde gebring aan ‘n rits swart redakteurs wat die voortou geneem het om die beperkings van politieke korrektheid te verbreek. Dit het aan wit redakteurs die vrymoedigheid gegee om ook so te maak. Nie lank nie na pres. Jacob Zuma vir Thabo Mbeki in die hoogste stoel vervang het, het van dieselfde name egter verskyn in ‘n lysie van meningsvormers wat op die gevaar van ‘n bloedbad gewys het, sou die kritiek uit blanke geledere op die ANC nie getemper word nie. Vir minstens sommiges was die afskud van politieke korrektheid slegs ‘n tydelike maatreël en deel van ‘n strategie om van Mbeki ontslae te raak.

Geleidelik het die impak van die kuberruim toegeneem. Na ‘n verkiesing in Iran waar hardhandig met die opposisie gewerk is, kon die strengste mediabeperkings nie keer dat die wreedhede soos ‘n sif na die Weste lek nie. Beeldopnames wat gewone burgers met hul selfoonkameras gemaak het, was sekondes later op sosiale netwerke en wêreldkunde. Die domino-revolusie wat as die Arabiese lente bekend staan, is grootliks deur die sosiale netwerk, Twitter, onderling maar ook wêreldwyd getwiet. Die Assad-bewind in Sirië het alles in sy vermoë gedoen om sy eie gedokterde weergawe van wat in die land aangaan aan die wêreld voor te hou, maar hom in ‘n muur vasgeloop van ‘n wêreld wat nog gouer en met beeldmateriaal, aan ander weergawes blootgestel is.

In die bestek van twee dae het veral Twitter gesorg dat die land gons oor ‘n omstrede plakkaat van die DA se jeugbeweging, DASO. In ‘n stadium het DASO die meeste trefslae op Twitter gehad, terwyl die woorde “DA Youth” die vierde plek behaal het, gevolg deur “Christian Party”, die naam waaronder die klein CDP se kritiek op die uitbeelding van moraliteit op die plakkaat, deur SAPA die wêreld ingestuur is.

Teen vanoggend het die berig op Praag se webwerf oor die insident 150 reaksies ontlok, terwyl van die ander nuuswebwerwe nog meer reaksies ontlok het. Baie van die reaksies was meer gerig op die ras-aspek, terwyl sommige van die mense wat gereageer het vir die DA in die bresse getree het. Die bedoeling hier is egter om na die verskynsel te kyk, en nie die partypolitiek te betree nie. Slegs die tyd sal leer of die kwessie ‘n storm in die teekoppie was, en of ‘n tsunami die Suid-Afrikaanse politiek getref het.

Uit die strome kommentaar is dit egter ontstellend hoeveel politieke onkunde baie deelnemers aan die dag lê wanneer hulle hul eiertjies lê. Dié onkunde kom uit die hele politieke spektrum. Dit is mense wat stemreg het, en wat deur die trek van hul kruisies die regering van die land bepaal. Die impak van die raspolarisasie wat onder meer deur Julius Malema se doen en late die hoogte ingejaag het, blyk ook uit ‘n groot deel van die kommentare, en dra uiteraard daartoe by dat die klimaat verder opgejaag word. Oningeligte kiesers wat boonop roekeloos met hul stemreg omgaan, is soos ‘n blinde taxi-bestuurder. Dit het noodwendig rampspoedige gevolge.

In hierdie stadium is daar die slegte nuus dat daar grootskaalse opvoeding van kiesers moet plaasvind.

Die brokkie goeie nuus is dat daar ook heelwat kiesers is wat hoë morele standaarde stel en omgee dat dit in die politieke landskap neerslag moet vind.

Lees nou Eugene Brink se kommentaar oor dié plakkaat op Die Groot Debat.
Talle plakkate wat die spot dryf met dié omstrede plakkaat het intussen ook op sosiale netwerke die lig gesien. Klik hier om daarna te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.