Nuuskommentaar: Daar ís lewe op Mars – die Zumaïete

President Jacob Zuma

“Die prez moet van die maan of van Mars af kom,” skryf ‘n gerespekteerde, senior joernalis in reaksie op die nuus dat pres. Jacob Zuma sê dat hy van geen slagoffers van die transformasiebeleid van “affirmative action” en SEB weet nie.

Weer eens staan ‘n mens verstom oor die kwaliteit van pres. Jacob Zuma se adviseurs, te midde van onder meer hofsake van Solidariteit oor die Departement van Korrektiewe Dienste se beleid jeens bruin aanstellings en bevorderings in die Wes-Kaap, en die uitgerekte regsaksie rondom die polisievrou, kapt. Renate Barnard.

Die Vryheidsfront Plus loods nou ‘n petisie waarin die benadeeldes nie net hul name nie, maar hul verhale kan aanteken. Sou elke slagoffer van die keuringsbeleid van mediese en veeartsenykundige fakulteite, elke matriektoppresteerder wat weens sy of haar velkleur nie ‘n studiebeurs kon kry nie, elke onderneming wat weens SEB-vereistes nie finansiering kon kry nie, elke individu wat weens sy velkleur nie werk of bevordering kon kry nie, gesinsmanne wat oorsee werk en na hul gesinne hier pendel, sy of haar verhaal in dié petisie vertel, sou dit waarskynlik ‘n miljoen of meer verhale oplewer.

Op News 24 het die berig hieroor ‘n enorme hoeveelheid kuberkommentaar oplewer en rassepolarisasie het weer ‘n goeie hupstoot gekry. Die ironie was dat ‘n deel van die gepolariseerde bevolking gister Menseregtedag gevier het, terwyl ander eerder bestekopname oor die agteruitgang van menseregte in die land gehou het, soos Maroela Media ook voorsien het sal gebeur.

Onder die reaksies op Menseregtedag tel die volgende:
* Die Sentrum vir Grondwetlike Regte het sy telkaart oor die stand van menseregte in 2012 in Suid-Afrika bekend gestel. In die begeleidende verklaring word onder meer gesê Suid-Afrika geniet in beginsel die volle spektrum van menseregte. In die praktyk was daar tussen 2009 en 2012 altesaam 3 258 diensleweringsprotesaksies. Die gehalte van basiese onderwys en gesondheidsdienste is onaanvaarbaar power. Die regering se rasbeheptheid word soos volg saamgevat: “South Africa can hardly be termed a non-racial democracy. Race continues to be a major dividing factor and continues to determine, de facto and de jure, access to employment and social, educational and economic benefits. Government policies are increasingly race-based and the tone of the national discourse has become disturbingly – and sometimes aggressively – racial with government condoning – or even supporting such tendencies.”

* Die DA, by monde van Lindiwe Mazibuku, tref ‘n vergelyking tussen die Marikana-skietery en Sharpeville wat in Suid-Afrika in die vorm van Menseregtedag gedenk word. Die partyleier, Helen Zille, sê Zuma moet verby partypolitiek beweeg en burgers teen polisiewreedheid en magsmisbruik beskerm.

* Die UDM sê mynwerkers voel afgeskeep en sluit by opposisiepartye aan.

* Mangosutho Buthelezi, leier van die IVP sê dit “pynig” hom om te sien hoe mense blindelings glo die land sal beter bestuur word bloot omdat Zuma ‘n Zoeloe is.

* Die Vryheidsfront Plus sê weens die feit dat wreedaardige moorde, verkragtings, plundery, werkloosheid en korrupsie hoogty vier en dienslewering totaal in duie stort, word die basiese regte van Suid Afrikaners daagliks bedreig. “Die regering mislei hulself om hulle as die bewaarders van menseregte te beskou. Hul hou jaarliks groot vieringe op die 21ste Maart, maar in wese ondermyn hul die werklike begrip van menseregte.”

* Die Christen-Demokratiese Party sê menseregte sonder Christelike bates dien dikwels bloot as weg tot anargie waar wetsgehoorsame burgers die slagoffers word van misdade soos moord, verkragting en roof.

En die ANC se respons by monde van Zuma? Suid-Afrikaners moet ophou om die land en die ekonomie in die grond in te praat. “We need to take a more balanced view of our country.” Zuma called on all to work with government to build both the country and its economy, “to make our country attractive to both foreign and local investors.”

Vandag is Wêreldwaterdag, en Suid-Afrikaners behoort in hierdie waterskaars land eintlik behoorlik hierop te fokus, maar vandag sal die debat waarskynlik oorheers word deur Zuma se stelling dat hy nie van enige persoon bewus is wat deur die regering se neo-apartheidsbeleid benadeel is nie. Hy het nietemin opposisiepartye genooi om sulke gevalle onder sy aandag te bring. Dit is nou in die benadeeldes se hande om ‘n boodskap na Mars deur te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pikkewyn ·

Afrikaner voetstap en die -doringboompie

Die visie van sommige is kleiner as die van ‘n mostertsaad
wie redeneer dat slawehandel is deur Afrikaner voorsate voortgebring
met Jan van Riebeeck gestuur
inderdaad ….. nie waar
enige transaksies wys daar is verkopers en kopers …
waar is die verkopers in mensehandel?
Waar is die kopers in mensehandel?
Skuil hul in grotte of op die maan?

Daar is vir Afrikanerharte geen plek in Suid-Afrika
vir twintig jaar bewys word gepraat en praat
leiers is doof vir Afrikanerharte
volgens hulle het die Afrikaner geen huis of haard
al sal sommige my wil stenig en haat
daar is geen oplossing met BEE raad
BEE is haatspraak
BEE tas miljoene menseregte aan
BEE skep geen werksgeleenthede
BEE is rassediskriminasie al vir twintig jaar

Eerlikwaar – na twintig jaar
wat het hulle gedoen om mense te versoen?
hulle is nie almal se leiers
hul hande diep in die wapenskandaal, teksboeke
deel mildelik aan die ministers- en tenderkorrupsiekoek wat belasting betaal
wat miljoene onwettige impi’s uit kontinent verwelkom
in ruil vir ‘n huisie en ‘n politieke kruisie.

Afrikaner kampe groei teen tempo
hul skuiling onder bome en piepkleinhuisies
gevul met maer honger kindertjies en ouers soos tydens Britse konsentrasiekamphel
Afrikanerboere word vermoor, doodgekap en bloei
wyl agente kwyl, opdragte uitvoer
vertrap die Afrikaner doringboompie
letsels op die stam nagelaat
verloor egter nooit lewe
staan regop
laat die BEE agter
die toekoms tegemoet in die nuwe selfbeskikkingsland

*ster

H J Bester ·

Zuma het mos al by vele geleenthede bewys dat mens sonder twyfel sy integriteit onder verdenking kan plaas. In kort – hy’s ‘n blatante liegbek, skelm en bedrieër.

Dis ‘n skande dat Suid-Afrika opgeskeep sit met so ‘n president en, hoe onderdanig mens ookal aan die Owerhede wil wees, stem Zuma mens tot gans ander denke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.