Nuuskommentaar: “Die boer se mo*r, meneer Botha”

‘n Eskom-advertensie waarin ‘n boer, ‘n mnr. Botha, as kragdief uitgebeeld word, het baie mense warm onder die kraag.

Die stroom verontwaardigde kritiek op die sosiale media is ‘n duidelike aanduiding van hoe sensitief die kwessie van stereotipering werklik is. Onder die oproepe op die sosiale media is ook voorstelle dat die radiostasies wat die advertensies uitsaai geboikot word. Dit is uit die kommentare duidelik dat polarisasie aangewakker word.

Die georganiseerde landbou is self op die oorlogspad. Dawie Maree, senior ekonoom by Agri SA, het aan Landbou.com gesê hulle was baie verbaas toe hulle die advertensie vandeesweek vir die eerste keer gehoor het. “Die boer word uitgebeeld as ’n gewelddadige en vyandige individu, en dit is vir ons ’n groot probleem,” het Maree gesê. Die organisasie oorweeg om ’n klag teen Eskom by die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika te lê.

Dit raak al ‘n afgesaagde stelling: Nie alle boere is engeltjies nie. Daar is boere wat hul werkers sleg behandel, en daar is boere wat water uit die rivier steel. Daar sal sekerlik hier en daar ‘n boer wees wat met sy kragmeter gekierang het.

Maar as die bedoeling stereotipering was, kon daar gekyk word na dele van die townships waar kragnetwerke soms lyk of dit deur ‘n dronk  spinnekop gespan is. Word die onwettige aansluitings verwyder – dikwels in lewensgevaar – is die “web” die volgende dag weer daar. Talle kuberkommentators het die krane hieroor behoorlik opgedraai.

Die vinger word, bedoeld of onbedoeld, na boere gewys terwyl Eskom besig is om munisipaliteite feitlik landswyd aan te tree weens hul agterstallige Eskomrekeninge. Miljarde rande wat verbruikers opgedok het, en waarop munisipaliteite nog ‘n wins gemaak het, raak iewers langs die pad soek en word nie aan Eskom oorbetaal nie. Volgens hierdie berig is Soweto die groot sondaar met uitstaande skuld van R3 miljard. As AfriForum nie ingegryp  het nie, kon baie mense wat tot die laaste sent opbetaal was, reeds sonder krag gesit het, insluitende ouetehuise.

In baie gevalle is die grootste wanbetalers van hul kragrekenings die staat – dieselfde geboue wat snags soos ‘n krismisboom verlig staan terwyl min mense daarin volgens die ouditeur-generaal se verslag selfs bedags werk.

Die georganiseerde landbou is onderweg grondwetlike hof toe oor die staat se opneem van mineraleregte, wat al deur verskeie kenners as die grootste diefstal in die land se geskiedenis beskryf is. Faktore wat voorheen die markwaarde van plase beïnvloed het soos die moontlikheid van delfstowwe – deel van die sogenaamde ondergrond en wat dikwels afsonderlik verhandel is – en grondwater, is skielik die eiendom van die staat. Die staat begin boere vir munisipale dienste wat hulle nie ontvang nie belas. Die staat sluit boere in by die bepalings van die sekerheid op verblyfreg-wet, maar sy eie boerderye daarvan uit. Die regering weier nukkerig – en soms selfs vermakerig, om die krisis van plaasaanvalle tot ‘n nasionale prioriteitsmisdaad te verklaar.

‘n Klimaat is geskep waardeur met die gewraakte advertensie op sensitiewe tone getrap word.

Terwyl hierdie storm broei, gaan die kabinet en sê sy volle steun toe aan die beleërde minister van onderwys, Angie Motshekga. Die boodskap wat uitgestuur word, is dat die kabinet onderprestasie as uitmuntende prestasie beskou.

Dit volg boonop kort op die uitlatings van ‘n kollega, Lulu Xingwana op Australiese TV waarin sy na die geweld in Suid-Afrika verwys het, en dit voor die deur van wit, Afrikanermans se Christelike Calvinistiese opvoeding gelê het. Sy het wel “onvoorwaardelik” om verskoning gevra maar omslagtig verduidelik dat sy “buite konteks” aangehaal is, en is deur die presidensie liggies oor die vingers getik. Maar sy dien steeds in die kabinet na sy vroeër, as minister van landbou en grondsake, boere tydens ‘n toespraak op Kerkplein daarvan beskuldig het dat hulle hul werkers mishandel en verkrag.

Ook in die kabinet, ook met ‘n ligte skrobbering agter die blad vir ‘n onverwante saak, sit Tina Joemat-Pettersson, wat ook al as minister van landbou die boere laat rooi sien het.

Pas het minister Lindiwe Sisulu groot gewag gemaak daarvan dat korrupte en onbevoegde kaders nie bloot heroontplooi gaan word nie, of die kabinet trek met sy steun aan Angie ‘n streep daardeur.

Die minister van kommunikasie, wat self as een van die swakker ministers beskou word, probeer die voorsit ter van die SAUK-raad, dr. Ben Ngubane en sy adjudant wat bedank het, oortuig om hul uiters welkome bedankings terug te trek.

Hierteenoor oorpresteer Suid-Afrika se boere onder dikwels marginale en uitdagende omstandighede. En kry dan hierdie skop in die tande.

Dit het al ‘n kuns in Suid-Afrika geword om ‘n indiwidu wat as individu oortree of verbrou so aan te spreek dat dit nie as die stereotipering van ‘n groep voorkom nie.

Eskom sal goed doen om hierdie advertensie dadelik te onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marlene ·

Die advertensie is maar net nog een van die maniere waar op die Boervolk verkleiner word deur die sogenaamde regering. Na my mening is dit nie ‘n regering nie maar ‘n moeviese versteuring!

Koos ·

Daardie boer is een van baie hoofsaaklik blankes wat vir hulle krag betaal. Maak ‘n advertensie oor wat in die townships aangaan (oorgenoeg materiaal van onwettige koppelings) as julle dan op ras wil fokus!

Ant ·

Die grootste misdadigers is die munisipaliteite! Hulle steel derduisende rande elke maand van die dorps-inwoners deur watertoevoer daagliks te onderbreek en sodoende die inwoners te forseer om elektrisiteit te gebruik om elke druppel water wat hulle benodig dan uit hul eie opgaartenks in die huise in te pomp. (As daar nie munisipale water is nie skakel die drukpomp by die watertenk aan en gebruik elektrisiteit elke keer as iemand ‘n kraan in die huis oopmaak.) Elke inwoner betaal dus honderde rande elke maand aan die ekstra elektrisiteit wat verbruik was om water in sy huis te hê. Om nie eers te praat van die honderde liters wat die watermeters ekstra registreer aan lug (wind) wat deur die meter gaan elke keer as die munisipale watertoevoer weer oopgemaak word nie!

Yvonne ·

“Eskom sal goed doen om hierdie advertensie dadelik te onttrek.” WAT?!!!! Die skade is klaar aangerig.

Amanda/Sindy ·

Die volk moet weer begin om die knieg te buig. Die leiding neem is egter een van die boerevolk se grootste probleme.

Kyk ek dink so baie goed en my vingers jeuk maar ek sal verseker my self meer baklei op die hals haal!!
MAG HY WAT 16 DESEMBER “N WONDERWERK GEBRING HET ONS BEHOED EN BEWAAR. Die filistyne is op ons. Maar steeds dien die volk ander gode….. Mammon is een kyk na die SABBAT!!

Kyk na die jeug van die volk. Dit bring heimwee die verbastering en gehoer!!! Ons word regeer deur die wat nie glo……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.