Nuuskommentaar: Die briesende hondjie – Malema of die Afrikaner self?

Ons ken almal die beeld van die briesende wollerige brakkie wat grommend tande uitpak terwyl hy verbete ‘n raserige vragmotor agternasit. Om wat mee te maak as hy hom vang?

Die Afrikaner moet waak om nie die beeld te verwerf as die brakkie en Malema as die vragmotor nie. Met die een hoofstuk van die Malema-saga wat nou hopelik oor twee weke iets van die verlede sal wees, moet die Afrikaner vir ‘n oomblik besin oor wat nou gemaak gaan word na die vragmotor ingehol, en gevang is.

Dié keer is dit wel nie die Afrikaner wat die vangwerk gedoen het nie, maar ‘n faksie van die ANC. Maar sou dit Ikabod oor Julius Malema se politieke loopbaan en dat wat hy verteenwoordig skryf, is die Afrikaners waarskynlik die grootste wenners. Soos Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum dit stel: Sonder Malema is die Suid-Afrikaanse politieke landskap ‘n veel beter plek.

Om self Malema aan te durf, en selfs die grondwet te gebruik wat soos ‘n heilige koei teen kritiek geïnsuleer is, het Afrikaner teen Afrikaner gedraai. Ja, die kolonne kan selfs name kry soos Boere-Afrikaner, regte Afrikaners, vyfdekolonners, jingo’s, nieu-konserwatiewe en ‘n horde ander – die feit is dat ‘n groot deel van die Afrikaners bly was dat Malema aan haatspraak skuldig bevind is, terwyl ‘n minderheid by ander sommetjies uitgekom het. En die appèl hieroor is nog nie afgehandel nie.

Wat die huidige dissiplinêre verhoor betref, het die Afrikaner geen regstreekse rol gespeel nie. Die Afrikaner kan nie eens sê hy het soos die slagoffer van ‘n skoolboelie gemaak nie – skeur die boelie se hemp dan slaan sy ma hom.
Tog, dit beteken nie alles is vir die Afrikaner maanskyn en rose noudat die ANC self die probleem hopelik permanent uit die samelewing verwyder het nie.

Wat Malema so uitgebasuin het was die verwoording van hoe baie mense in die ANC voel, moontlik veral werklose jongmense. Vir hulle spreek Malema bloot, met apologie aan die boek met die titel, “The uncomfortable truth.” Opnames toon byvoorbeeld dat by verre die meeste swart mense glo wittes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel.

Trouens, een van die oorspronklike klagtes teen Malema was dat hy in die teenwoordigheid van pres. Zuma van die verhoog af uitgebasuin het dat blankes misdadigers is. Hy is weens ‘n sogenaamde gebrek aan getuienis nie hieraan skuldig bevind nie, in wat vertolk is as ‘n duidelike vinger wat in die blankes se oog gesteek is.

Dat die Afrikaner, ter wille van die wil op oorlewing positiewer ingestel moet raak is duidelik. Uit internetkommentare en reaksie op artikels lyk dit egter of ‘n groot deel van die Afrikaner so in negatiwiteit veral het dat die blote uitwys van die silwer randjie woede ontlok.

‘n Ruggraatlose verlamming van gees bied nie ‘n oplossing nie. ‘n Behoorlike kanalisering van positiewe energie, innovasie en die aangryp van geleenthede is wat die Afrikaner se posisie sal rig.

Afrikanerskap hiersonder is soos die Christelike godsdiens sonder die liefde.

Vir die volledige artikel, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.